Altyd met 'n glimlag
"Natalie is doodmoeg van al die opwinding en 'n lang vlug."
Kyk na video
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Oom Tien tas Bôgom se menswaardigheid aan
May 08 2008 01:35:02:737PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Spotprent: Lencel
Daleen van Manen

“Daar is nie ’n leliker ding as ’n wit bobbejaan nie. En as hy angsbevange en in volle vaart op jou afstorm, gee enigeen se senuwees in. Die bobbejaan s’n ook.”

Op ’n plasie duskant Brits sit ’n boer met gemengde gevoelens in sy gestroopte sonneblomland. Hy is ontslae van ’n trop bobbejane wat sy oes vernietig het. Want êrens op pad na wie-weet-waarheen hardloop ’n bobbejaan al twee weke lank vergeefs agter sy trop aan.

Daar is nie genoeg sonneblomme oor vir ’n oes nie, het oom Tien (hy wil om verstaanbare redes nie sy van gee nie) gesê.

“Ek wou nie die bobbejane skiet nie. Die goed is mos maar baie na aan die mensdom, maar ons boere kry swaar. Gee ’n bietjie vir ’n bobbejaan jou maand se salaristjek om op te vreet en kyk hoe voel jy,” verduidelik hy.

“ ’n Vriend het grappenderwys gevra hoekom ek nie die boereraat probeer nie. ’n Mens vang een bobbejaan, verf hom wit en los hom om by die trop aan te sluit. Soos almal weet, skrik bobbejaan se kind vir snaakse goed. En ’n troplid wat skielik van kleur verander... Die hele lot sou glo laat spaander en nooit weer hul gevrete hier wys nie. Dit het geklink of dit dalk net kon werk. Ek was desperaat.”

Oom Tien het ’n vanghok gebou en dit met ’n paar sappige mielies binne-in langs die sonneblomland afgelaai. “Van der Merwe, die plaasboerboel, was baie opgewonde oor dié projek. So al asof hy geweet het wat ek wil vang. Hy beskou dit as sy werk om bobbejane te jaag. Vir twee dae het ons net kaal mieliestronke in die hok gekry, maar die derde oggend toe sit Adoons daar. Aan Van der Merwe was daar g’n keer nie. Mens sou sweer ek het vir hom ’n sopbeen gegee.”

“Skielik het ek besef ek het die verwery nie mooi vooraf deurdink nie. ’n Vasgekeerde bobbejaan sit nie stil nie en Van der Merwe het ook nie gehelp nie. Hy het sy bes probeer om die jong, beneukte mannetjie deur die tralies by te kom, en die omgekrapte bobbejaan het terugbaklei. Toe probeer ek hom maar so deur die kabaal met die verf gooi. Met die eerste blerts wat hom tref, trek daai bobbejaan los en gee vir Van der Merwe ’n klap dat die spoeg so spat. En ’n tweede een. En ek gooi verf, tot die hele vyf liter op is.”

“Nou, dit was nie ’n mooi gesig nie. Die bobbejaan het gelyk soos ’n kruising tussen ’n sebra, ’n hiëna en ’n vrou met ’n baie ‘bad hair day’. ’n Groot skuldgevoel het my beetgepak. Ek was uit pas met die nuwe Suid-Afrika waar elke asem regte het. Jy weet mos. Ek het dié broer se aapwaardigheid aangetas.”

Daar was niks anders om te doen as om die geaffronteerde bobbejaan los te laat nie.

“Hy het vir ’n oomblik gevries en toe hol hy. Met Van der Merwe so op sy stert. Maar so 25 treë weg, toe draai die broer om en hy is snoet aan snoet met Van der Merwe. Ek weet nie wat Van der Merwe gedink het nie, maar selfs ek het geskrik vir dié gesig. Van der Merwe het so in sy naelloop ’n bollemakiesie gemaak en sonder om eers terug te kyk, die pad vier kilometer huis toe gevat. Die bobbejaan het ’n wit streep bome toe getrek.”

Oom Tien sug. Vir die laaste twee weke kyk hy uit vir die trop. Daar is egter geen teken van ’n bobbejaan nie. Van der Merwe weier steeds om die werf te verlaat. Die vanghok is nog langs die land, maar al wat hy sedertdien gevang het, was die buurman se hond.

“Ek het gehoor iemand het ’n trop vlugtende bobbejane naby Swartruggens gesien. Wat ek die meeste mis, is Van der Merwe se geselskap hier in die land.” Hy hoop dit reën binnekort, sê hy. Die verf is nie waterdig nie.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |