Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Die wêreld om ons: Onthou Mahatma Gandhi se woorde
Groen is die nuwe swart. Of so hoor en lees ’n mens deesdae gedurig. As jy groen is, is jy in die mode, maar hier gaan dit oor veel meer as om bloot net groen klere te dra. Dit gaan naamlik oor die strewe na ’n groen leefwyse, en oor die verantwoordelike verbruikersgewoontes om sodoende ons planeet se skaars hulpbronne te probeer bewaar. Die hele groen beweging wat nou oral in die wêreld nuwe momentum kry, berus op die maak van doelbewuste, goed ingeligte besluite. Klink dit na te veel moeite? Ag nee wat, eintlik is dit pret om deel te wees van hierdie groeiende beweging, wat nie net die aarde nie, maar ook arm aardbewoners se belange op die hart dra. Ek het in die pas afgelope Paasnaweek die modetydskrif Elle van voor tot agter deurgelees omdat die inhoud daarvan “groen” was en vol praktiese wenke oor hoe ek my lewe anders kan leef met min ontwrigting en inspanning. Wat my natuurlik aangespoor het om die tydskrif te koop, was die prikkels op die voorblad, soos: “80 ways to reduce, reuse en recycle”. En nog een wat lees “Fashion: Old is the new new.” Vroeër vandeesweek was ek by die bekendstelling van Ac?tionAid se verslag oor beweerde menseregtevergrype by Anglo Platinum se myne in Limpopo. By dié geleentheid was die boodskap ook, soos in die tydskrif, dat die ingeligte verbruiker meer mag in sy of haar hande het as ooit tevore. Of liewer: Verbruikers het altyd die mag gehad, maar was óf nie bewus van die mag van koopkrag nie, óf hulle het bloot net nie omgegee nie. Die wêreld is besig om vinnig te verander en ons moet bybly. Dink voor jy koop, sien die hele prentjie van die wieg tot in die graf en vra jouself af: Waar kom my goud- en platinum ring vandaan? Waar kom my tekkies vandaan, waarvan en waar is dit gemaak? Wie het dit gemaak? Is dit herwinbaar en duursaam, of gaan dit gou deel word van die reuse-hoop gemors wat in die see tussen Hawaii en Japan ronddryf, waar die getye diep onder in die oseaan dit bymekaar hou? Dié hoop gemors van bykans 100 miljoen ton, hoofsaaklik plastiek, dryf nou al jare in die see, maar is nou amptelik die wêreld se grootste stortingsterrein. Dink net watter vernietigende impak dit op die seelewe het. En ja – hierdie gemors kom alles van my en jou af. Ons gooi dit op stortingsterreine wat swak bestuur word en dan beland dit in riviere wat dit afvoer see toe. Dit is die een lelike kant van die verbruikersmunt. Die ander kant van die munt is waar ek en jy ’n verskil kan maak – deur net goed te koop wat eties vervaardig en verhandel is. Maak eers seker daai T-hemp of tekkies wat jy wil koop, is nie die produk van onetiese kinderarbeid nie. Maak seker arm gemeenskappe is nie verdryf van die grond waar die goud vir daai armband gemyn is nie. Onthou altyd die woorde van Mahatma Gandhi: “Daar kan geen skoonheid in die fynste kledingstof wees as dit honger en ongelukkigheid skep nie.” ) Elise Tempelhoff is Beeld se omgewingsjoernalis.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|