Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Buitelandse beeld: Waak tog oor SA se demokrasie
May 02 2008 04:18:15:127PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Leopold Scholtz

Sedert die koms van die Christendom is die Weste geneig om die geskiedenis te sien as ’n opeenvolgende reeks stadiums van steeds verder en hoër ontwikkeling. Met ander woorde, ’n liniêre ontwikkeling, pleks van die sikliese benadering wat in die antieke Weste – en meeste ander kulture – gehandhaaf is en steeds word.

Dít was een van die sentrale stellings van die Britse filosoof prof. John Gray op die Nederlandse televisie vandeesweek. Gray is ’n omstrede akademikus, wat meestal met gevestigde establishments en denke gebots het. ’n Intellektuele rebel dus.

Hoe ook al, dié liniêre benadering openbaar ’n matelose optimisme oor die toekoms, ’n geloof dat alles altyd beter sal word, met as uiteindelike punt die apokalips, wanneer Christus terugkeer en die einde van die geskiedenis aanbreek.

Nou ja, Gray is ’n ateïs – ’n gematigde een, heel anders as daardie aggressief-intolerante Richard Dawkins – en glo dus nie soseer in die liniêre benadering nie. En daaroor handel juis sy jongste boek, Black mass: Apocalyptic religion and the death of utopia (2007).

Hy sê vooruitgang is geen ysere wet nie. Op natuurwetenskaplike gebied is dit oorwegend wel die geval; verworwe kennis op dié terrein bly meestal wel behoue. Maar by terreine soos moraliteit en etiek, is dit asof elke geslag weer die wiel van voor af moet uitvind, en die ervaring van vorige geslagte geld nie.

Gray wys op die buitengewone arrogansie van die neo-konserwatiewe in die VSA – Dick Cheney, Donald Rumsfeld, Richard Wolfowitz – wat ’n geweldige invloed op pres. George Bush uitgeoefen het.

Hulle het gemeen met die ou Sowjet-Unie van die toneel verdwene, het die VSA se eintlike taak in die geskiedenis aangebreek: Die verspreiding van vryheid, demokrasie en menseregte (soos die Amerikaners dit verstaan) na die res van die wêreld. Met geweld as dit moet.

En dus is Afganistan in 2000 en Irak in 2003 binnegeval in die verwagting dat die bevolking die seëvierende Amerikaanse soldate met vreugdekrete sou verwelkom. En dat die twee samelewings nie alleen dapper liberaal-demokraties sou word nie, maar dat hul entoesiasme soos ’n olievlek oor die hele Midde-Ooste met sy Middeleeuse (lees: agterlike) Islamitiese godsdiens sou versprei.

Daarmee het hulle dieselfde fout gemaak as wat die Amerikaners 40 jaar tevore in Viëtnam laat beland het.

Gray sê die probleem is dat voorwaardes vir die Westerse liberale demokrasie eenvoudig nie in sommige samelewings voorkom nie. Die alternatief vir die diktator Saddam Hoesein in Irak, wreed en verwerplik soos hy was, was nie die demokrasie nie, maar ’n totalitêre Sjiïtiese teokrasie. Met al sy gebreke was Saddam ’n sekulêre diktator wat byvoorbeeld vroue baie vryheid gegun het. Dis weg. Alles in ag genome, is Irak tans netto baie dieper in die put as in Saddam se tyd.

Met ander woorde, sê Gray, laat die gemeenskappe waar die voorwaardes vir die liberale demokrasie nie bestaan nie, self ontwikkel. Van buite kan mens slegs ’n marginale invloed daarop uitoefen.

Na aanleiding van Gray se nugter-siniese ontleding is die vraag nou natuurlik: Maar wat dan van Zimbabwe? En wat van Suid-Afrika? Moet demokrate soos ek ophou om die demokrasie in Suid-Afrika te verdedig? Moet ons die ANC vry spel gee om terug te gly na die posisie waar soveel ander Afrikastate hulle steeds bevind?

My antwoord is nee. Suider-Afrika was lank genoeg onder die Weste se invloed dat die demokrasie hier, anders as in die Midde-Ooste, ’n realistiese oorlewingskans het.

Dit is geen naïwiteit soos van die Amerikaanse utopiese denke nie. Iets wat my die laaste tyd moed vir die demokrasie in ons land gegee het, is dit die oorweldigende openbare reaksie op pres. Thabo Mbeki se morele lafhartigheid teenoor die Mugabe-diktatuur. By die wit en bruin mense, wat veel sterker deur die Westerse liberalisme beïnvloed is, kan jy dalk so iets verwag. Maar ook onder die swart mense is die gevoel besonder sterk, as ek reg beoordeel.

Dit beteken nie mens kan maar rustig agteroor sit nie. Dieselfde kragte wat Zimbabwe in die afgrond gestort het, bestaan ook in Suid-Afrika.

Dit sou ’n geweldige tragedie wees as Gray se sinisme ook vir ons waar word.

  • Leopold Scholtz is Beeld se verteenwoordiger in Brussel.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |