Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Die wêreld om ons: Dalk het Zim Ron se jagvalke geëis
May 02 2008 04:18:13:830PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Annemarie Marais

Dit was een van dié hoogtepunte in my lewe, daardie Junie ’n paar jaar gelede in Zimbabwe, om saam met ’n valkenier, sy jong swerfvalk en jaghonde in die klein koue van die oggend die veld in te vaar.

Dié keer was ek alleen saam met Ron nadat ons die vorige dag ’n tros mense was. Tóé het ons na ’n oop veld langs ’n sendingstasie naby Falcon College buite Bulawayo gery, en die nonne het die koeie gemelk en oral het kinders in die stof gespeel en teen die draadhek was ’n verweerde naambord: Mission of the sacred heart. Of so iets.

Maar dié oggend was anders. Dit was bitter koud en stil in die rammelende bakkie. Ron was stil, en ek het aan die vorige aand se stap saam met ons gashere deur kollegeterrein gedink – dit was skoolvakansie – en die man wat vertel 250 gram Ricoffy kos al R68 of iets en ja, noudat brandstof haas onbekombaar is en daar min wegkomkans is van die kollegeterrein, kry hy soms kajuitkoors.

Dis só mooi plek, maar soms moet ’n mens ’n bietjie kan wegkom, was sy woorde.

In die koue van daardie oggend het die bakkie se voorruit toegewasem en Ron het uit die bloute gesê ons gaan na ’n klein dammetjie op vriende van hom se plaas.

In die hok was die klein-klein klokkie om die valk se leermussie se klank so vlietend, ek’t gedink ek verbeel my dit.

Kyk, het hy gewys voordat hy die mussie van die valk se kop haal, daardie boom is vol duiwe, en daar hoor hy kiewiete maar die valk is nog jonk, ons sal maar moet sien wat gebeur.

En toe die valk die lug óp duik, is al die duiwe eensklaps in die middel van die boom, teen die stam onder die digte blaredak en die kiewiete doodstil.

Dit koue lug was snydend soos die fu-e-e-t van die fluitjie wat Ron gebruik toe hy meen die valk is hoog genoeg.

En toe, so vinnig soos wat ’n mens soms ’n verlore droom onthou, blits die valk neer op ’n eend op die dam. Ron knik vir die honde en ons is agter hulle aan na waar ook al die valk en sy prooi geland het.

Die koue het my neus laat loop en my oë laat traan. Ron het die bloedjong eend aan ’n vlerk opgetel, uit sy bladsak ’n stukkie ou vleis gehaal en die valk beloon.

“Hy sal leer, die valk. En die eend was ook maar dom,” het Ron gesê.

Eers toe ons ry, sien ek ’n huis eenkant agter ’n bos bome. Hy moet gaan groet, sê Ron.

En ons klop aan die deur en ’n vrou maak oop en sy vee haar hande droog aan ’n vadoek maar nooi ons nie in want die huis is dolleeg.

Hulle gaan VSA toe, vertel Ron met die wegry. Die plaas is gevat.

Drie jaar later kuier ons by Aloes Pub by Waterval-Onder en gesels met George en Pat McAlister, die eienaars.

Die kinders roep, kom kyk. In ’n kamp sit ’n Afrikaanse jagarend, en ja, hy jag met hom, vertel George.

Ek vertel van die valkejag in Zimbabwe, so lank gelede.

Ron was sy vriend, vertel George.

Hy wat George is, het ná Ron se selfmoord die arend gaan haal, maar wat van die edelvalk en die swerfvalk geword het, weet hy nie.

  • Annemarie Marais is ’n vryskut joernalis van Kaapsche Hoop.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |