Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-deurloop: Hoe lank was die afgelope 24 j. vir jou?
Om 16 jaar oud te wees in 1984, is om die dae af te tel totdat jy groot is en jou eie woonstel gaan hê en jy gaan nooit ’n doodgewone kar soos ’n Toyota ry nie, want jy’s ánders en jy sal ’n man trou – eendag sal jy ’n man trou – wat heeltemal anders is as jou pa, want sommer. En dan word jy 18 en is min dinge op die kampus so opwindend as jou verwagtinge, en boonop is jou sakgeld te min, en loop word jy ’n waitress in die aande, en jy beloof jouself jy sal nog wêrelde sien en nie swanger raak soos jou kamermaat nie. Al koop haar pa toe vir haar ’n woonstel sodat niemand van die skande moet weet nie. Op 20 sleep jy helaas nog ’n vak maar intussen het jy ’n hengse goeie waitress geword en besef veral mans gee groot tips, en jy buit dit uit, want as hulle so stupid wil wees om te dink hulle gaan enigiets behalwe ’n medium rare steak op ’n louwarm bord by jou kry, dan moet hulle maar betaal. Jou eerste kar op 21 is ’n asvaalgeryde Mazda wat hoesend teen die Uniegebou se steilte uitkruie en soms op pad werk toe onthou jy die aand, eintlik was dit vroegoggend, want net ou mense slaap in die nag, toe jy ’n ou op die voetstuk van Louis Botha se standbeeld gesoen het en jy het nie eens genoeg van hom gehou om met hom uit te gaan nie. Soms op ’n Sondag, as die kommune te klein raak vir jou 23-jarige kop, het jy gaan stap in die botaniese tuin en dit was altyd al langs dieselfde paadjie waar die aasblomme groei, en iets aan die plante en die geur van verrotting laat jou ril, want dis asof die plant in ’n onderaardse donkerte hoort. En so ’n paar jaar later gebruik jy die versekeringsgeld nadat jou simpel kar gesteel is en pak ’n rugsak en verken ander lande. Baie keer is dit so eensaam in daardie ander lande dat jy jouself aan die slaap troos deur te probeer onthou hoe klink die pampoenfluit van ’n seekoei in die Krokodilrivier en hoe voel die haartjies op jou geliefde se arm onder jou vingers. Terug in jou eie land trou jy en raak swanger en slaap soos ’n oumens in die middag én nag en maak gordyne vir die babakamer en ry ’n vierdehandse kar met baie kilometers geklok, en dikwels, soos al die ander moeë mense, ry jy bus. Die reuk van die bushandreling, dink jy op ’n dag, ruik soos jou eerste kêrel se hand ná ’n lang fliek. En die kind word gebore en een aand kyk jy vir jouself in die weerkaatsing van ’n venster en die kind is teen jou skouer en jy dink dis hoe jy nog altyd wou lyk. Dan word die tweede kind gebore en soms is jy so besig, daar is nie tyd vir huil nie, maar een oggend staan jy op en besef jy is amper gelukkig. Jy bel jou pa om dankie te sê vir sy grootmaak van jou. Die kinders raak groot en soms is daar weer kans om na ’n verre, vreemde land te gaan. Elke dag is daar nuwe horisonne al is dit net vanoor die tuinmuur, en jy en jou man raak ouer en die skerp kante tussen julle meestal weggeslyt. Jy maak planne en hê lief en skree uit woede en raak bang oor die min tyd en die baie wat jy nog wil word, en is meer spyt oor dit wat nié gedoen is nie as al die foute wat jy die afgelope 24 jaar begaan het. Dit was maar net 24 jaar, troos jy jouself. So lank as wat Elisabeth Fritzl in ’n kelder toegesluit was.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|