Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: Mooi broodjies oor mediabeheer
Verskeie lesers was ongelukkig oor die prominente plasing van Steve Hofmeyr se tweede fisiek hardhandige behandeling van ’n joernalis van wie se werk hy nie hou nie. Dit gaan blykbaar vir hulle daaroor dat dit die hoofberig op bladsy een van Beeld en Die Burger was. Nie alle lesers voel egter só nie en baie het van hulle laat hoor via e-pos en SMS’e. Die Hofmeyr-berig se sensasionele aard was maar een aspek van die besluit om dit so prominent te plaas. Dit het aan die vooraand van Wêreldpersvryheidsdag gekom en hoewel dit kwalik as ’n wesenlike bedreiging vir persvryheid voorgehou kan word, sluit dit tog daarby aan. In Suid-Afrika is ons nog gelukkig dat die ergste vorm van gewelddadigheid jeens joernaliste aan die hand kom van ’n bullebak-sanger met ’n reuse-ego. Elders ter wêreld en op ons vasteland is die prentjie natuurlik baie donkerder. Volgens die Wêreldvereniging van Koerante (WAN) het daar verlede jaar wêreldwyd 95 joernaliste gewelddadig gesterf in die uitvoering van hul pligte. Altesame 13 van die 95 sterftes het in Afrika suid van die Sahara voorgekom. In Noord-Afrika en die Midde-Ooste het 46 joernaliste die hoogste prys betaal bloot omdat hulle hul werk gedoen het – die meeste in Irak. Nog honderde joernaliste word wêreldwyd in tronke aangehou – talle sonder verhoor en onderworpe aan marteling. Die VSA, wat hom voorhou as die bewaker van Westerse demokratiese sedes, waaronder persvryheid, het pas ’n joernalis vrygelaat wat die Bush-regering ses jaar lank sonder verhoor in Guantánamobaai, ’n Amerikaanse tronk in Kubaanse gebied, aangehou het. In Suid-Afrika het ons deesdae rede om nie die grondwetlik verskanste vryhede wat die media geniet, as vanselfsprekend te aanvaar nie. Daar is heelwat gebeure wat ons tot onrustigheid en verskerpte waaksaamheid behoort te stem. Met “ons” bedoel ek die publiek ook. Die vernaamste bron van kommer oor mediavryheid is die ANC se planne om ’n statutêre mediatribunaal te vestig. Die idee het verlede jaar op die regerende party se beleidskonferensie in Midrand ter tafel gekom. Dit is na die nasionale konferensie in Polo-kwane verwys, waar dit vir “nader ondersoek” verwys is. ’n Mens kry die gevoel die partyleiers besef hulle sit met ’n grondwetlike tameletjie, maar dat hulle nietemin die kans wil waag om te kyk of hulle ’n vorm van beheer oor die media kan toepas. Dis ’n misplaaste versugting wat nie tuishoort op die agenda van enige party wat hoog opgee oor die demokrasie nie. Veral nie as dit ’n party is met die soort meerderheid in die parlement soos dié van die ANC nie. Die post-Polokwane-ANC is ’n populistiese gevaarte wat klaarblyklik vir niks stuit om sy sin te kry nie. Vra maar vir pres. Thabo Mbeki, die Skerpioene, die land se adjunk-hoofregter en die beleërde SAUK. Ironies genoeg probeer ANC-leiers soos mnr. Kgalema Motlanthe die media oortuig dat die idee van ’n mediatribunaal daarop gerig is om bestaande selfregulerende meganismes soos die persombudsman te versterk. Nè? Die punt is: Die huidige ANC hou nie van die manier waarop hy deur sy eie wispelturigheid en onbeholpenheid in die media uitgebeeld word nie en meen die enigste manier om dit te red is deur die stomp instrument van statutêre beheer. Vergeet al die mooi broodjies wat gebak word oor hoe dit alles in die belang van die publiek en die media is. Ja, die media is nie volmaak nie. Juis daarom word hard gewerk om koerante en die uitsaaiwese se selfregulerende meganismes te versterk. Die gebreke word voortdurend aangepak, maar is nie sodanig dat die staat kommissarisse in nuuskantore moet aanstel nie. Enige idee van die statutêre regulering van veral die gedrukte media behoort gewone burgers bekommerd te hê. Vandaar die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) se veldtog met die tema “mediavryheid is jou vryheid”. Die keuse voor ons is tussen media wat in ’n vrye, grondwetlike omgewing strewe na perfeksie en waar tot ’n Steve Hofmeyr se manewales onaanvaarbaar is en as sodanig uitgelig word, of media vir wie perfeksie bloot die klakkelose napraat is van wat ook al die maghebbers se jongste gier is. Ons was al daar. Ons mag nie weer daar beland nie.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|