Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Beeld-deurloop: Metafore is meer as net taalversierings
May 06 2008 05:29:51:270PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Wilhelm Jordaan

Mense reken soms, met ’n sweempie hovaardigheid, die beoefening van natuurwetenskap is ’n toonbeeld van uiterste rasionaliteit wat bloot behels dat sekere bewysreëls vir feitelike waarheid streng toegepas word. Dít is die eintlike manier van dink.

Daarom is daar, volgens mense wat só dink, nie plek vir die metafore se vlugtigheid in die natuurwetenskap nie. Metafore is die hamer en aambeeld van digters, skrywers en verliefdes.

Dít is ’n mistasting, want die menslike gees is wesenlik metafories ingestel. Dit behels die raaksien van ooreenstemmings tusen een saak en ’n ander – verbind deur ’n soms verswygde “soos.”

Voorbeelde hiervan is: “My dae verdwyn soos kwartels in lang gras” (D.J. Opperman); “The fog comes in on little cat feet (Carl Zandburgh); “God is soos ’n arend” (Deuteronomium 32); en “God is my rots, my bergvesting” (Psalm 91).

Van die belangrikste ontdekkings in die natuurwetenskap berus ook op metafore wat lei tot navorsing volgens erkende bewysreëls.

’n Voorbeeld is Michael Faraday (1791–1867) se eksperimente in ’n tyd toe aanvaar is daar is geen verband tussen elektrisiteit en magnetisme nie. Maar ’n bevinding dat ’n kompasnaald onverklaarbaar effens beweeg in die nabyheid van ’n elektriese stroom, het Faraday aan die dink gesit.

Hy was lid van ’n godsdiensgroep wat geglo het alles in die kosmos, ook mense, word geometries gereguleer deur sirkelvormige patrone, byvoorbeeld: “Ek help jou, jy help ’n ander en só gaan dit voort totdat die sirkel voltooi is – soos dit ook uitgebeeld word in die rolprent Paying it forward. Faraday se godsdiensoortuiging word toe die grondslag vir ’n eksperiment waarin hy bevind het ’n loshangende draadjie begin in ’n sirkelpatroon beweeg naby ’n elektriese stroom.

Gelukkige toeval (“serendipity”) word dikwels aangebied as verklaring vir sulke ooreenstemmings. Soos dat Faraday se kosmiese sirkelbeginsel geen feitelike grondslag het nie, en bloot toevallig – en gelukkig vir die mensdom – met die eksperimentele resultate ooreenstem.

Hoe dit ook al sy, Faraday se ontdekking is metafories ingegee deur die idee dat magnetisme en elektrisiteit se samehang “soos” die sirkulêre godsdiensbeginsel funksioneer. En dít was die grondslag vir die latere ontwikkeling van die elektromagneet en die opwekking van elektrisiteit.

Hieruit kom die besef die mens kan nie sonder metafore klaarkom nie. Hulle is nie maar net taalversierings nie. Dis ’n manier van dink wat singewend in die alledaagse lewe én hipotesevormend in die natuurwetenskap werk.

As ’n gelowige mens sê: “Ek glo in God, die Vader, die Skepper van hemel en aarde” is dit ’n metafoor wat afhanklikheid van ’n God uitdruk rondom sinsoekende vrae soos: “Van waar en waartoe die mens?”

En as ’n natuurwetenskaplike soos Richard Dawkins reken daar was ’n eerste oorspronklike toestand (primeval soup) is dit ’n metafoor waaruit ’n navorsbare hipotese kan kom – dat materie in dié “soup” gedryf het en dat lewe dáár spontaan ontstaan het uit toevallige chemiese verbindings om só aan evolusie beslag te gee.

  • Wilhelm Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan Tuks.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |