Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: Mbeki moet nóú onafhanklik bly
Adam Habib Die nasleep van Zimbabwe se verkiesing het pres. Thabo Mbeki weer in ’n diplomatieke en politieke gemors laat beland. Pres. Robert Mugabe se streke het Mbeki se integriteit weer geknou en hy bevind hom plaaslik en internasionaal toenemend in isolasie weens sy weiering om standpunt teen Mugabe in te neem. Maar presies waarom word Mbeki gekritiseer en is die kritiek geregverdig? En presies wat kan Suid-Afrika doen aan die afskuwelike situasie in Zimbabwe? Die meeste wêreldleiers en menseregtegroepe is dit eens dat Mbeki sterker standpunt teen Mugabe moet inneem. Maar hulle verskil oor hoe hy dit moet doen. Sommige, soos die meeste menseregtegroepe, wil bloot hê Mbeki moet Mugabe in die openbaar kritiseer. Ander wil hê Mbeki en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) moet persoonlike sanksies teen Mugabe en sy kabinet instel. ’n Minderheid klou aan die illusie van ’n moontlike militêre inval deur Suid-Afrika. Geen van die bogenoemde is realisties nie. Kom ons kyk eers na die mees absurde van hierdie voorstelle. ’n Inval – selfs al sou daar die politieke wil wees en sou ’n belangrike demokratiese beginsel oortree word – berus op die veronderstelling dat Suid-Afrika militêr doeltreffender as Zimbabwe is. Laasgenoemde is nie die geval nie. Die meeste militêre kommentators glo Suid-Afrika sal tweede kom in ’n konflik teen Zimbabwe. Sanksies is ook nie ’n opsie nie. Streng sanksies sal net die maatskaplike en ekonomiese krisis in Zimbabwe aanblaas, die bevolking se lyding verdiep en vlugtelinge se uitstroming na Botswana en Suid-Afrika vergroot. Boonop sal dit Mugabe in die harnas jaag en enige moontlike onderhandelde oplossing ondermyn. Is bemiddeling dan nog nodig? Absoluut! Bemiddeling sal ’n belangrike onderdeel wees van enige oplossing in Zimbabwe. ’n Mens moenie onderskat hoe lank ’n diktator aan die mag kan vasklou mits hy of sy beheer oor die gewapende magte en polisie het nie. Maar ons kan nie wag vir Mugabe om in die presidentskantoor te sterf nie. Die gevolge sal katastrofies wees. En synde nóg ’n inval nóg sanksies realisties is, is bemiddeling die enigste manier waardeur Mugabe se uittog verhaas kan word. Dit is ook belangrik om ter erken dat bemiddeling reeds positiewe resultate opgelewer het. Die onlangse Zimbabwiese verkiesings se relatiewe deursigtigheid, die laer vlakke van geweld vergeleke met die vorige verkiesings, asook die opposisie se vermoëns om uitslae by die stembusse te monitor, is die vrugte van suksesvolle bemiddeling en onderhandeling. Op baie vlakke is die opposisie se oorwinning en Mugabe se nederlaag ’n produk van Mbeki se bemiddelingsproses. Maar Mbeki is ook nie bo kritiek verhewe nie. In die nadraai van die verkiesing, toe die Zimbabwiese verkiesingskommissie geweier het om die uitslag bekend te maak, kon Mbeki sy bekommernisse oor die proses uitgespreek het – selfs al was dit net in die diplomatieke trant wat die Suid-Afrikaanse regering in onlangse dae gebruik het. En dit was ook nie nodig dat Mbeki ten aanskoue van die internasionale media ’n broederlike liefde vir Mugabe toon tydens die onlangse noodberaad van Suider-Afrikaanse staatshoofde in ?Lusaka nie. Sodoende het Mbeki die lyn oorgesteek tussen onafhanklike rolspeler en apologeet vir Mugabe. Daardeur het Mbeki sy eie bemiddelingspogings ondermyn deurdat hy Zimbabwe se opposisie vervreem het. Die opposisie se reaksie – om die Verenigde Nasies se veiligheidsraad te vra om in te gryp – gaan egter heel waarskynlik ook onsuksesvol wees. Dit beteken alle partye in Zimbabwe sal hulle waarskynlik teen wil en dank weer na Mbeki moet wend, veral nou dat ’n tweede ronde in die presidentsverkiesing klaarblyklik onafwendbaar is. Dit sal egter wys wees van Mbeki om hierdie keer onafhanklik en neutraal te bly. Onafhanklikheid beteken dat ’n mens strategies dink oor wat jy in die openbaar sê en hoe jy dit bewoord. Dit beteken egter nie dat jy moet swyg wanneer regte oortree word en ’n verkiesing gesteel word nie. Deur te swyg, tree jy as apologeet vir die oortredende party op. Dis nou tyd dat almal emosie opsy skuif en strategies dink oor hoe Mugabe se uittrede bewerkstellig kan word.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|