Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: Kort Afrika nuwe generasie leiers?
William Gumede Wat het van Zimbabwe se Robert Mugabe so ’n monster gemaak? Mugabe, soos baie ander leiers van bevrydingsbewegings, het die verpersoonliking geword van die geweld wat hy gebruik het om die koloniale heersers te verjaag. Dit het begin gedurende die Rhodesiese bosoorlog, toe Zanu-PF-leiers hul eie kamerade gemartel en vermoor het omdat hulle as mededingers beskou is. Nadat Zanu-PF aan die bewind gekom het, het dié soort geweld toegeneem onder die dekmantel van die staat. So byvoorbeeld is sowat 20 000 mense in die Matabeleland-slagtings van die tagtigerjare vermoor omdat hulle Mugabe-kritici was. Die gruwels van Matabeleland is lank verswyg, eerstens omdat Zanu-PF-lede en ondersteuners nie skietgoed aan die vorige wit regime wou gee nie, en tweedens omdat hulle bang was vir Mugabe se wraak. Maar ook Westerse lande het aanvanklik geswyg omdat hulle bitter graag ’n suksesverhaal in Zimbabwe wou sien. Aktiviste van ander bevrydingsbewegings, ook Suid-Afrikaners, het aanvanklik ook geswyg oor die toenemende onverdraagsaamheid van Mugabe en sy kliek omdat hulle ’n suksesverhaal wou sien en omdat hulle nie as napraters van Mugabe se wit kritici bestempel wou word nie. Mugabe het vroeg reeds die mantel van die Groot Leier aangeneem, met die gepaardgaande kultuur van geen kritiek jeens hom. Hy het gemaak en gebreek soos hy wou. Hy kon sy kritici spoorloos laat verdwyn. Met elke geweldsdaad het hy meer van sy eie menslikheid ingeboet. Die bevolking was vir hom net statistieke, nie mense van vlees en bloed nie. Mugabe het die staat sy persoonlike eiendom gemaak. Hy het Zanu-PF gesuiwer van alle moontlike mededingers, sy vertrouelinge in sleutelposisies aangestel en die steun van tradisionele leiers gekoop. Hy het ook sy greep op sekere kerke en hul leiers verstewig. Aanvanklik het Mugabe en Zanu-PF ook die lojaliteit van burgerregtegroepe en onafhanklike waghondorganisasies geniet omdat hul leiers meestal vanuit die geledere van Zanu-PF aangestel is. ’n Staatsbeheerde media is ingestel, met redakteurs wat onkrities was jeens die regering. Gewone Zimbabwiërs het bloot hul kop laag gehou om te kan oorleef. Die meeste Afrika-leiers glo omdat hulle en hul bewegings teen kolonialisme geveg het, hulle nou die Godgegewe reg het om alleen te regeer. Die blote gedagte aan ’n legitieme opposisie is vir hulle totaal vreemd. Die bevrydigingsbeweging is die mense, finish en klaar. Nuwe splintergroepe, veral vanuit vakbondgeledere, word as verraaiers gesien. Dis hoekom Mugabe se mede-Afrika-staatshoofde (soos Thabo Mbeki) nie vir Mugabe kritiseer nie: want vir Mbeki-hulle is dit onaanvaarbaar dat Morgan Tsvangirai, ’n vorige vakbondleier, dalk aan die bewind kan kom. Nee, Mbeki sal eerder vir Simba Makoni, die vorige Zanu-PF-vegter en kabinetsminister wat as ’n onafhanklike in Zimbabwe se pas afgelope presidentsverkiesing gestaan het, aan die bewind sien as vir Tsvangirai, die vakbondman. Ongelukkig het Afrika-staatshoofde nog nie geleer om die vorige leiers van bevrydingsbewegings te meet aan hul rekord as staatshoofde nie, eerder as aan hul rekord in die struggle-tydperk nie. Die feit is dat die meeste staatshoofde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Afrika-Unie (AU) nie glo in die populêre stem nie. Gevolglik is dit onwaarskynlik dat hulle vir Mugabe die trekpas sal gee – net in geval hul eie kieserskorps hulle dalk eendag die deur wys. Want dan vertrou hulle – soos Mugabe – dat hul mede-Afrika-staatshoofde hulle sal help om aan die mag vas te klou. Mugabe leef in ’n borrel. Dis juis daarom dat die kritiek van Mbeki en ander leiers van bevrydingsbewegings so belangrik is – maar dis ook hoekom Mbeki-hulle swyg. In die onlangse SAOG-noodvergadering in Lusaka oor die ver-kiesingskrisis in Zimbabwe was daar wel ’n poging tot kritiek. Botswana se pres. Ian Khama – ’n Afrika-leier uit ’n nuwe generasie wat nie bosvegters was nie – het daarop aangedring dat die versamelde staatshoofde vir Mugabe oor die kole haal. Maar Mugabe se ouer kamerade, soos Mbeki, het geweier. Dalk kan net ’n hele nuwe generasie leiers dinge in Afrika verander.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|