Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-deurloop: Ál waaraan ons (weer) dink, is padgee
Charles Smith Hoe vinnig vergeet ons nie. Wie onthou die oorlog tussen die Zim-zims en die Wararas? Wie onthou die rook oor die townships en terme soos “swart-op-swart-geweld” deur SAUK-nuuslesers in Spoorwegbruin pakke? Ek luister Sondag na Rian Malan in New York se openbare biblioteek waar skrywers oor waarheid en versoening praat. Dis twee dekades later, maar ek het die beelde van sy boek My traitor’s heart in die woedende tagtigs onthou – van ’n land wat instort. As Koos Kombuis se “Ver van die ou Kalahari” die klap teen die kop was van die post-grensoorlog Afrikaner-lat om sy oë ’n bietjie te laat oopgaan, was Malan se boek die oopruk van die NP-karkas. Die laaste skote van die grensoorlog is geskiet, maar om ons het ’n tierende oorlog gewoed. En min van ons wou weet daarvan. Al was ons so diep daarin. Ons het regop gesit in ons kerke. Ons moes stilstaan in rye en ons rompe 4 cm bo die knie dra. Ons moes ou skoolbaadjies kleur voordat ons dit vir swart kinders gee, want “het jy nie meer trots nie?” Nooit het een skool, een dorp gedink iets soos sokkerwedstryde tussen wit en swart skole kon ’n klein proses wees wat die nagmerrie kon keer nie. Ons is gered deur ’n NP-ou wat besef het dis sulke tyd – red die Mercs en ’n joppie of twee. Ons land was besig om te brand, maar die wit kinders moes huiswerk doen en drieë druk en onderskeidings kry. Die iPote sing “De la Rey” vuis in die lug met R300 se Billabong-T-hemde en hip plakkies, maar hoeveel weet hulle van die tagtigs? Wie het My traitor’s heart gelees? Nee, Harry Potter, ’n bebrilde Britse pateet, is hul profeet. Ek lees weer die stryd van Neil en Creina Alcock om Afrika te maak werk in ’n godverlate woestyn in Zoeloeland wat apartheidsgekke gedink het is ’n goeie plek vir Zoeloes om op dood te gaan. Ek kry weer die reuk van dood op reënbesmette dae. PW & Seuns dwing my in dié tyd, terwyl ek as joernalis werk, om ’n weermagkamp te doen. Óf dit, óf die tronk. Ons probeer alles om PW & Seuns te sink in twee maande in Natal. ’n Medesoldaat, ’n mynwerker, wys my foto’s van sy geliefdes: sy Amerikaanse veghond en sy vrou. Sondae sleep die hond swaar koekepanne op die myne. Hy vuur sy hond aan met “die skedel van ’n k*ffer”. Dis op die foto. Saterdae bliksem hulle Pote. Wit Pote. Ons sny ons uniforms op met jagmesse op die Buffels in die gekkespul. Ons ry vas in ’n brandende vangwa met vyf verkoolde polisielede in. Die moordenaars vlug voor ons uit. Ná twee jaar diensplig in Angola skiet ek die eerste keer op mense in Piet Retief se heuwels. Uit eie keuse. Saans kyk ons na SAUK-nuuslesers in Spoorwegbruin pakke se stories met Castles in die hand. Hoe vinnig vergeet ons nie. Ons sit weer in ’n oorlog om ons. Saans sit ons na die SABC-nuuslesers en kyk en skud die kop. Net soos toe doen ons niks anders nie as om te dink wanneer om pad te gee. Sonder ’n jammer of koebaai of iets. “Sterkte,” skryf Rian Malan in my nuwe eksemplaar van My traitor’s heart wat ek in New York koop.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|