Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: ’n Lang oorgang van krag na gas
Ferdi Greyling Eskom se manewales die laaste paar maande het in Johannesburg, waar ek woon, geleenthede vir Egoli Gas oopgemaak. Die ouer dele van Johannesburg (waar my huis is) het lank reeds ’n gasnetwerk onder die sypaadjies waaraan die huise gekonnekteer kan word. Dit is aanvanklik van die gasfabriek in Auckland Park deur die Johannesburgse munisipaliteit bedryf. Gas is daar uit steenkool gehaal en aan nywerhede en huise verskaf. Die kooks wat oorgebly het, kon destyds spotgoedkoop by die gasfabriek gekoop word. Intussen het die gasfabriek egter ’n private onderneming geword en die gas wat hulle versprei, kom deesdae van Mosambiek. Die groot voordeel van gas in die tye van Eskom is dat dit altyd aan is, al is die krag af. Dit is ook lekker om mee te kook aangesien die temperatuur baie beter as met elektriese plate beheer kan word. Gas is volgens Egoli Gas ook goedkoper as elektrisiteit – maar meer daaroor later. Die stap lyk amper vanselfsprekend en ek het dit aangepak. My ondervinding is egter dat ’n mens baie geduld en moed moet hê om jou huis by die gasnetwerk te laat aansluit – en dit lyk in ’n vroeë stadium van ervaring nie juis goedkoper as elektrisiteit nie. Die eerste stap is om Egoli Gas te bel en vas te stel of jy op die netwerk is. Hulle reageer flink en lig jou vinnig in. Dan besluit jy hoeveel toestelle jy wil hê en laat weet hulle. Aan die hand daarvan vra hulle jou dan ’n voorafbetaling. Dit lyk na ’n baie verkeerdom-manier van dinge doen, maar dis soos dit is. Jy betaal hulle vir installasie (R4 000 in my geval) en dan kry jy eers private operateurs om die stoof en die verwarmer te installeer – saam met al die pype van die sypaadjie na die huis. En eers as dít klaar is, kom Egoli Gas en doen die gasaansluiting. In my geval het ek einde Februarie die eerste oproepe gemaak en die aansluiting is eers vandeesweek gedoen. ’n Verdere probleem was om ’n installeerder te kies uit die lys van goedgekeurdes wat Egoli verskaf het. My eerste keuse het eers versuim om ’n kwotasie te stuur en ná ’n aanmaning is ’n verkeerde kwotasie gestuur. Ek is na ’n ander installeerder, wat onmiddellik meer vertroue ingeboesem het. Hul kwotasie is aanvaar, R10 000 is as ’n deposito betaal en ’n datum vir die werk is vasgemaak. Dis natuurlik die ander ding van gas – die stowe en die verwarmers word ingevoer en is baie duurder as elektriese toestelle. ’n Intreevlak-stoof (vier gasplate en elektriese oond) was sowat R6 000 en ’n middelslag-verwarmer in dieselfde omgewing. Op die dag van installasie was daar niemand nie. Die volgende dag was die maatskappy – nogal met die term “hoë spoed” in sy naam – daar met die belofte dis klaar daardie dag. Toe nie. Dit was eers laat die volgende dag klaar. Met die pype aan die huis en die stoof in die kombuis is ek terug na Egoli toe. Daar het ek verneem dit kan tot vier weke neem om die aansluiting te doen, maar hulle sal probeer om my tegemoet te kom omdat dit ’n huis is en – soos ek uitgewys het – ek die hele wagtyd sonder ’n stoof gaan wees. ’n Belofte van “die naweek” is gemaak en nie nagekom nie. Vroeg die nuwe week is werk begin en driekwart klaargemaak voordat ’n langnaweek aangebreek het. Ná die langnaweek is dit darem voltooi. Nou het ek gas en ’n imposante meter teen die heining – waar dit, anders as elektrisiteitsmeters, gelees kan word vanaf die sypaadjie. Die verwarmer is twee dae lank middag en aand gebruik, teen min of meer tweederdespoed (drie van vyf panele wat gloei) en die stoof is normaal gebruik. Die twee dae werk toe volgens Egoli se konsultante uit op so R43. Tel daarby sowat R60, wat in elk geval elke maand as ’n soort aansluitingstarief betaal moet word, en die sommetjie is tot dusver sowat R100. Ek het ’n idee dit is nie goedkoper as elektrisiteit nie, maar wie weet wat elektrisiteit in die toekoms gaan kos – en die gas gaan waarskynlik daar wees wanneer die krag af is. Maar wees ook gewaarsku – om die gas te laat aansluit en toestelle te installeer kan so twee maande neem en jy gaan fakse stuur, oproepe maak en ’n tyd lank sonder ’n stoof sit. Die volle rekening raak aan R30 000.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|