Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Die wêreld om ons: Dink mooi voordat jy ’n kat aanskaf
Kietsie die Kat se snorbaard bewe behoorlik van opgewondenheid as hy die jong kwikkie op die grasperk sien. Hy lyk kompleet soos sy wilde neef Leeu terwyl hy die niksvermoedende voëltjie bekruip. Met ’n boog seil Kietsie deur die lug, veeg met sy poot en dis die einde van kwikkie. Dan loop Kietsie selfvoldaan huis toe om ’n middagslapie te gaan geniet. Kom mevrou vanaand by die huis, dan word Kietsie se koppie gestreel terwyl sy soet woordjies van lof oor hom laat vloei terwyl hy kwansuis vandag die muise en rotte onder beheer gehou het. Katliefhebbers wat hierdie rubriek lees, gaan beslis in hul oggendkoffie verstik. Maar die feit is dat natuurliefhebbers se kiewe ewe dik opswel oor die huiskatte wat so onder die dierelewe maai. Dis tuinvoëls, akkedisse, geitjies, inheemse knaagdiertjies en ander diersoorte wat elke dag die totale aanslag van die katbrigade beleef. Asof die klimaatsverandering en habitatverlies nie al genoeg is nie. In my eie woonbuurt het die katte elf jaar lank die dikkoppe se kuikens gevang en doodgemaak sonder om eens aan die voëltjies te vreet. Die veearts se katkos smaak seker beter as die prooi wat so doodgemaak word sonder om benut te word. En soos mense knorrig raak oor die huiskatte, kom die sêkondêre misdrywe na vore. Daar word onwettige giffrikkadelle gemaak en die windgeweer. Want mooipraat met die bure oor hul katte help selde en daarom word drastiese dinge gedoen om die katte op te dons. Kyk, die gebruik van gif is onwettig en onmenslik. En dis ’n misdryf om katte met enige soort vuurwapen, windbukse inkluis, in stede en dorpe te skiet. Die vraag is dus hoe nou gemaak as die bure se katte jou tuin se inheemse lewe bedreig? Daar is nie ’n maklike uitweg nie. Praat met die bure sodat hulle kan verstaan dat die dierbare klein Kietsie eintlik groot skade aan die omgewing se klein wesentjies veroorsaak. Dis verbasend hoe die sogenaamde diereliefhebbers se harte warm klop vir die katte, terwyl hulle skynbaar niks vir die ander diere voel nie. Dit maak mos nie sin nie? Tog is daar ook katte wat glad nie die inheemse lewe om hulle uitroei nie. Die gemmerkat van my vriende waar ek langer as 20 jaar gelede gewoon het, het nooit eers sy oë op ’n voël gerig nie. Dalk was Kieter soos die luie strokieskat Garfield – of dalk is hy net reg grootgemaak. Hoe dit ook al sy, die meeste katte is ongelukkig nie soos Kieter nie. Weg van die stede af is die probleem plaaskatte wat wild geword het en met die groukatte begin teel het. Deesdae sal jy selde ’n geneties suiwer groukat aantref. Dit lei tot die agteruitgang van die groukatbevolking en sommige plaaslike bevolkings kan uitsterf. Katte het op Marioneiland die seevoëls ernstig bedreig, maar hulle is met ’n baie streng beheerde program uitgewis. Daar is deesdae ook sulke katprobleme op ander eilande waar hulle kwesbare voëls se voortbestaan bedreig. Dink tog mooi voordat jy weer ’n kat as troeteldier aanskaf. Is dit regtig die moeite werd?
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|