Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: Botswana hou dit in die familie
Die vreedsame oordrag van mag van oudpres. Festus Mogae aan sy opvolger, pres. Ian Khama, in Botswana op 1 April het byna ongesiens verbygegaan. Dis in skerp kontras met wat tans in sy buurstaat Zimbabwe aangaan. Die magsoorname in Botswana is natuurlik geruime tyd al beplan. Ná afloop van die vorige presidentsverkiesing het Mogae aangedui hy gaan binne ’n jaar die leisels oorgee aan die nuwe leier van sy party, die Botswana Demokratiese Party (BDP). Khama – die seun van sir Seretse Khama, eerste president van ’n onafhanklike Botswana en sy vrou, Ruth, – is net 55 jaar oud. Hy sal hopelik ’n vars bries wees in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), tesame met pres. Jakaya Kikwete van Tanzanië, die huidige voorsitter van die Afrika-unie, wat ook klaarblyklik met nuwe idees oor die vasteland kom. Khama neem die leisels oor van ’n land met ’n stabiele ekonomie en vir lank een van die hoogste groeikoerse ter wêreld (wat nou weer gedaal het na 4,7%) – ’n reuse-prestasie gegewe die chaos en hiperinflasie wat duisende Zimbabwiërs oor Botswana se oostelike grens laat stroom. Khama is lank op die pos voorberei en mens kan dus kwalik sê die wil van Botswana se kiesers het geseëvier, hoewel die BDP keer op keer die land se parlementêre verkiesings wen. Net soos mnr. Jacob Zuma, nuwe ANC-leier, nie direk deur die kiesers ingestem is nie. Die debat rondom die verdienstelikheid van ’n presidensiële stelsel teenoor ’n parlemêntere stelsel in Afrika is nie nuut nie. Kyk ’n mens na Zimbabwe vergeleke met Botswana, lyk dit tog of die eerste opsie ’n vreedsamer uitkoms inhou. Dink net: As die leier van die beweging vir demokratiese verandering (MDC) outomaties president in Zimbabwe geword het, dan was mnr. Morgan Tsvangirai al drie weke die nuwe leier van die land. Khama se aanstelling dui ook op nog ’n fenomeen wat algemeen in Afrika voorkom: Hy is met die goue lepel in die mond gebore. So word daar ook bespiegel dat die seuns van pres. Omar Bongo van Gaboen, en van kol. Moeammar Ghaddafi van Libië, by hul pa’s gaan oorneem. Pres. Faure Gnassingbé van Togo het reeds in 2005 van sy pa, Gnassingbé Eyadéma, oorgeneem te midde van ernstige postverkiesingsgeweld. ’n Mate van stabiliteit het klaarblyklik nou na Togo teruggekeer. Hou dit binne die familie, is die goue reël. Dit dui enersyds op die magshonger van die leiers wat hul rykdom en voorregte vir hul families wil behou, en andersyds op sommiges se vrese dat hulle tereg sal staan weens hul vergrype sou hulle die mag aan ’n demokratiese opponent oorgee. Dit dui egter in die besonder, en spesifiek in die geval van Botswana, op die gebrek aan ’n groot genoeg genepoel van potensiële nuwe staatshoofde in baie Afrika-state. In tye van ekonomiese krisis in lande wat boonop ook steeds die letsels van kolonialisme dra, gaan soek baie lede van die intellektuele en sake-elite groener weivelde in die ontwikkelde lande. Gevolglik ontstaan ’n situasie waar daar werklik geen nuwe bloed meer beskikbaar is nie. Dit kan in in sekere omstandighede lei tot opstand onder diegene wat uitgesluit voel. Hulle sien dat dieselfde etniese, religieuse of geografiese groep elke keer toegang kry tot die beste grond, werkgeleenthede en kontrakte. Daar is natuurlik die uitsonderings op die reël, soos in Madagaskar, waar pres. Marc Ravalomana die bewind oorgeneem het van oudpres. Didier Ratsiraka, ’n lid van dieselfde elite wat sedert die eilandstaat se onafhanklikwording pal geregeer het. Dat families graag die mag tuis wil hou, is ook nie ’n fenomeen eksklusief aan Afrika nie. Dieselfde geld die laaste paar jaar in die VSA, die wêreld se supermoondheid, waar pres. George W. Bush en sy pa soos wafferse koninklikes albei presidente was, hoewel nie reg ná mekaar nie. Sen. Hillary Clinton en haar man, Bill, glo ook klaarblyklik aan die beginsel dat dinge “in die familie” moet bly. Die verskil tussen Afrika en die VSA is dat mag nie net beperk is tot diegene wat in Washington die septer swaai nie. ’n Mens kan grond besit, ryk word en die hoogste sport bereik selfs al is jy nie deel van die elite nie – en al is jou van dalk Obama. ) Liesl Louw is verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudie.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|