Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Beeld-forum: Ná 14 j. bloei ons Grondwet steeds
May 12 2008 10:03:40:203PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Raenette Taljaard

Ons hier in Suid-Afrika was bevoorreg om ’n hoofsaaklik vreedsame magsoorname, asook die totstandkoming van ’n merkwaardige grondwetlike demokrasie te beleef.

Verlede week, op 8 Mei, het ons die 14de herdenking van die land se Grondwet gevier. Op dieselfde dag het die Ginwala-kommissie gesit.

Die dag moes ’n heuglike viering van ons eie Magna Carta gewees het, maar het ontaard in ’n soort morbiede introspeksie weens die vure wat brand in instellings soos die Skerpioene, die polisiediens en die SAUK-raad.

Die ou SAUK-beeldmateriaal uit die vroeë negentigs was eweneens ironies omdat dit die skerp verskille uitgelig het tussen die destydse grondwetlike onderhandelingsproses en die visie waarmee dit gepaard gegaan het, teenoor die huidige krisisse in ons regering en ander belangrike instellings wat die demokrasie in die land moet konsolideer.

Die grootste rede hiervoor is dat die skeidslyn tussen die regerende party en staatsinstellings die afgelope 14 jaar geleidelik weggekalwe en nou bykans uitgevee is.

Dis egter die tema onderliggend aan die krisis in die SABC, asook die debakel oor die geskorste polisiehoof Jackie Selebi, wat nou die presidensie, die departemente van justisie en van veiligheid en sekuriteit, asook die Skerpioene by die Ginwala-kommissie betrek het.

Hierdie gebeure, asook die eerste dae van die kommissie se bedrywighede, dui op ’n grondwetlike krisis, afhangende van in watter mate die gemors ontknoop gaan word deur die kommissie se sensitiewe voorstelle, en die stappe wat kan volg.

Die prentjie uit die getuienis tans voor die Ginwala-kommissie lyk so: ’n polisiediens wat nie dokumente oor georganiseerde misdaad aan die Skerpioene wou gee nie; vergaderings tussen die presidensie, die Skerpioene se baas en die minister van justisie oor ’n strafregtelike ondersoek en klagstaat teen die polisiehoof; ’n president wat nie die Skerpioene se baas vertrou nie; die Skerpioene se baas wat veg vir die integriteit van die vervolgingsgesag; ’n minister van justisie wat klaarblyklik grondwetlike grense oorskry het . . .

Hierdie sepie sou snaaks gewees het as dit nie was vir die grondwetlike skade wat aangerig is nie. Dis kommerwekkend en tragies dat pres. Thabo Mbeki nie die Skerpioene vertrou het nie.

En dat hy (Mbeki) geglo het adv. Vusi Pikoli sal staatsveiligheid in die gedrang bring deur pleitooreenkomste met georganiseerde misdadigers aan te gaan, eerder as om te fokus op die groter kwessie: Is Selebi so skelm soos wat die Skerpioene probeer bewys of nie?

Dis tragies omdat dit nou wil voorkom – en dit moet nog deur Ginwala getoets word – asof die band tussen Mbeki en Selebi so sterk is dat Mbeki bereid was om kernaspekte van die Grondwet op te offer om Selebi teen vervolging te beskerm.

Die blote feit dat Mbeki en minister Brigitte Mabandla nie self voor die kommissie wil verskyn nie, versterk Pikoli se weergawe van die gebeure.

Ginwala het egter die afgelope week twee bresse vir die demokrasie geslaan.

Sy het eerstens bevestig dat hoewel die kommissie uiters ongewoon is (dis nie ’n grondwetlike kommissie nie), dit tog deur die Grondwet gelei sal word, en sy het seker gemaak dis ’n openbare “verhoor”.

Tweedens het sy Mbeki se brief aan Mabandla openbaar gemaak.

Maar die grootste uitdaging vir die kommissie se integriteit sal kom wanneer die in camera- aspekte bekyk word – gegewe die kwessies se grondwetlike aard – en die openbaarmaking van die verslag aan die president. ’n Tweede verdoeselde Khampepe-verslag sal niemand help nie.

Dis tragies dat Ginwala, ons eerste speaker in ’n demokratiese bestel, nou ’n kommissie moet lei om die regerende party se gemors, wat ook deur ons staatsinstellings gesyfer het, te probeer skoonmaak.

Dis selfs ’n groter tragedie dat, selfs al sou Ginwala aan die president wou voorstel om Pikoli in sy amp te herstel, daar geen Skerpioene vir Pikoli gaan wees om na terug te keer nie.

Moet elke verjaardag van ons wonderwerk-Grondwet dan deur nuwe, bloeiende wonde gekenmerk word?

Só kan dit mos nie aangaan nie. Ons moet dringend ’n nuwe era van respek vir Suid-Afrika se eie Magna Carta betree.

  • Raenette Taljaard is hoof van die Helen Suzman-stigting.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |