Slegter as hoenderspel kan dit nie
Ai, droefheid, maar dis 'n gesukkel om daai All Blacks onder te kry!
Beeld
Drienasies-rugbyreeks van 2008
Die bepalings, uitslae en puntestand.
  • Statistieke van Curriebeker-reeks
  • Statistieke van die Super14-reeks
  • Jou wêreld, Jou koerant
    Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
    Vennote


    Beeld-forum: Nee, ek is nié my vrou se hoof nie
    May 13 2008 06:39:35:840PM  - (SA)  

     Druk artikel
     E-pos storie aan 'n vriend
    Neels Jackson

    Die man moet weer sy verantwoordelikheid as hoof van sy huishouding begin nakom.

    Dié boodskap van die Greytownse boer Angus Buchan aan die tienduisende mans wat op sy plaas saamgetrek het, was die enkele aspek van daardie byeenkoms waaroor ek die heel meeste skeptiese vrae gekry het.

    Enkele dae ná die Mighty Men-saamtrek sit ek in Potchefstroom en luister hoe gereformeerde predikante in presies dieselfde taal oor die huweliksverhouding tussen man en vrou praat.

    Dis nie gewilde taal in die tyd waarin ons leef met sy klem op gelyke regte vir almal en die bemagtiging van vroue nie.

    Dis nie taal wat ek self graag gebruik nie. Toe ek langer as 24 jaar gelede getroud is, was ek en my vrou se benadering van die begin af dat ons gelyke vennote in ons huwelik is. Ek is nié die hoof van die huishouding nie.

    Maar daar op Potch, tussen die Dopper-dominees, ook toe ek met party van hulle gesels oor Buchan se boodskap, het ek twee goed weer duidelik besef.

    Die een is dat al praat ons in verskillende tale oor huwelike, is ons beskouings in die praktyk nie so ver van mekaar verwyder nie.

    Buchan het dit immers in Greytown as “rubbish” afgemaak dat ’n mens dié soort taal kan gebruik om onbillike optrede teenoor jou vrou te regverdig.

    In praktiese terme het hy ’n model aan die mans voorgehou waar jy jou vrou op jou knieë om verskoning vra as jy haar nie goed behandel het nie.

    Die gereformeerde teoloë het gesê die man is die hoof van die vrou soos Christus die hoof van die kerk is. In die huwelik is dit dus ’n selfopofferende liefde wat van hom verwag word.

    Die boodskap is respek, nie baasskap nie.

    Die tweede ding wat ek weer daar besef het, is dat die taal van hoofskap en onderdanigheid taal is wat mense soos Buchan en die Doppers direk uit die Bybel kry. Gaan lees maar weer Efesiërs 5.

    Tog is die saak nie daarmee afgehandel nie.

    In praktyk, só hoor ek veral by vroueteoloë, lei dié taalgebruik van hoofskap tot allerlei onbillikhede, ongeregtighede en vorms van uitbuiting van vroue.

    Ek het dit self al gesien gebeur. ’n Egpaar wat ons geken het, het dié model van die huwelik waar die man die hoof is en die vrou onderdanig is, sterk aangegryp. As gelowiges wou hulle gehoorsaam aan God wees.

    Ek het die vrou leer ken as iemand met sterk leierseienskappe. ’n Dinamiese mens. In haar onderdanigheidsrol het dié talente van haar egter sover ek kon sien heeltemal verlore gegaan, ook in die bydrae wat sy in die gemeenskap gelewer het.

    En daar is baie gruweliker stories as dié wat hulle afspeel onder die dekmantel van ’n Bybelse model vir die huwelik.

    Wat klaarblyklik in sulke gevalle gebeur, is dat mense aan die woorde, die taalgebruik van die Bybel probeer vashou, maar uiteindelik die boodskap van regte respek vir mekaar miskyk.

    As dit is wat dikwels in die praktyk gebeur, lyk dit my na ’n beter benadering om af te sien van die taal van hoofskap en onderdanigheid, al staan dit in die Bybel.

    Dis beter om taal oor die huwelik te gebruik wat dalk nie direk uit die Bybel uit kom nie, maar die Bybel se boodskap in vandag se tye doeltreffender dra.

    Ek dink dit het my huwelik gehelp. Ek en Louise is nou byna ’n kwarteeu getroud. Ons is lewensmaats in die volste sin van die woord. Ons is mekaar se beste vriende. Ons het in dié 24 jaar nog nooit ’n rusie gehad of met mekaar baklei nie. Daar is ander maniere om verskille te hanteer.

    ’n Mens sou ons gelukkige huwelik aan verskeie faktore kon toeskryf. Gelykmatige geaardhede, byvoorbeeld. Maar ek is oortuig dat ons siening van die huwelik, van mekaar as gelyke vennote, ’n belangrike bydrae gelewer het.

    Daar is baie mans wat na Angus Buchan geluister het en wie se huwelike as gevolg daarvan vandag beter is as voor die Mighty Men-saamtrek.

    Daarom stry ek nie te hard met mense wat in die taal van Efesiërs oor die huwelik wil praat nie.

    Dis egter belangrik dat hulle die slaggate raaksien en vermy.

    Intussen bly ek oortuig dat taal van vennootskap vandag, vir vandag se mense, ’n beter draer is van die boodskap wat die Bybel regtig vir die huwelik het.

  • Neels Jackson is Beeld se kerk-sakeverslaggewer. ? njackson@beeld.com


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |