Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Van mens tot mens: Misterie beteken nié ore, mond bly toe
’n Onderdeel van Minka Vrba se artikel (By, 10 Mei) oor: “Waarom en waaroor glimlag die Mona Lisa?” gaan oor die ware aard van misterie. In die alledaagse lewe is daar baie dinge waarvan mense sê dít of dát is ’n misterie. Byvoorbeeld: Hoe die owerheid tenders toeken, is ’n misterie; die moord op ’n sakeman is in misterie gehul; dit is ’n misterie dat my beursie verdwyn het. Hieruit kom die gangbare betekenis van misterie – dinge waarvoor daar nie ’n maklike (rasionele) verklaring is nie, maar wat tog mense aanspoor om wel verklarings te vind. By monde van die filosoof Gabriel Marcel stel Vrba ’n ander benadering tot misterie voor – dat dit iets is wat die kern van jou bestaan takel, as’t ware op jou beslag lê en nie, soos ’n probleem, objektief opgelos kan word nie. Maar dit eis van jou ’n volgehoue verbintenis om dit te bedink. Toegepas op die opvatting dat God ’n misterie is, kan dié benadering nuttig wees. Mits ’n mens kyk na verskillende maniere om met dié misterie om te gaan. Die begrip misterie kom van die Griekse woord “myein” wat beteken “om die mond te hou en die ore te sluit.” Baie gelowiges hanteer God as misterie ongeveer só. As die wetenskap byvoorbeeld met bevindings kom wat die ontstaan van lewe anders voorstel as dit wat die Bybelboek Genesis sê, word dié bevinding verwerp as die wetenskap se tipiese ongelowigheid en selfverheffende hovaardigheid. Of daar word eenvoudig gesê: God is ’n misterie, die kern van my bestaan, en geen wetenskaplike bevinding sal my anders daaroor laat dink nie. Juis dié soort aanwending van die begrip misterie lê aan die wortel van fundamentalistiese godsdiensuitings soos “kreasionisme” wat volhou die aarde is net 6 000 jaar oud; en “intelligente ontwerp” wat reken Genesis is versoenbaar met evolusie as God se skeppingsmetode; met God as die Ontwerper. Hierteenoor is daar gelowiges wat die paradoksale weg inslaan – om God as misterie én as kern van die eie bestaan te bely, maar terselfdertyd die oë en ore oop te hou vir wat die wetenskap bevind én soekend te bly na nuwe maniere om oor dié misterie te praat. Die Nederlandse priester-digter Huub Oosterhuis verstaan díé paradoks as die soeke na ’n “nuwe taal” wat “eigenlijk niet te zeggen is. Die je spreekt om niet heeltemal te hoeven zwijgen.” Aanvaarding van dié paradoks kan prakties beteken dat ’n kritiese gelowige anders met die eeue oue Apostolicum (geloofsbelydenis) omgaan: Enersyds: Dié belydenis roer my en hou die verlange na God brandend in my. Dít was die kerkvaders se begrip in ’n gegewe tyd en konteks, en dis ook die geloofspad waarlangs ek van kindsbeen af gekom het. Andersyds, en terselfdertyd: Ek glo die misterie rondom God is ontvouend en dit laat my toe om die geloofswoorde wat vir my vreemd geword het, in te klee en uit te brei tot ’n altyd soekende, verantwoordbare verwondering. Dat ek ander woorde kán en mág vind wat bevestig ek is nie ’n buitestander nie – net ’n mens wat volgehoue singewing oor die kern van my bestaan hoog ag.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|