Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Blouwillemaandag: Slegter as hoenderspel kan dit nie gaan
Ai, droefheid, maar dis ’n gesukkel om daai All Blacks onder te kry! Ons was mos vooraf kastig so reg soos reën want ou Divvie se manne het dan so goed gelyk teen Italië. Nee wat, jy’t nie ’n kat se kans teen daai ouens as ’n ster soos die Spies van die Nasie nie eens op die bank is nie. Nie eens ’n TV-skeidsslegter kan jou dan red nie. En so van TV-skeidsslegters gepraat: Wat ’n gemors was dit nie Saterdag nie! Ek laat my mos ompraat en gaan saam met Oom Johnny Loftus toe, want hy sê ons vrouens gaan heel middag sit en kyk hoe Fauna en Flora Williams mekaar uitsorteer op Wimbledon. Wel, ons kon net sowel eerder na Fauna en Flora gekyk het, want daar sit ons toe heelmiddag vir die TV-ref en kyk. Het jy al ooit gehoor van ’n rugbywedstryd wat 110 min. duur en waarvan die TV-ref 20 min. opgebruik het om oor elke moontlike beuselagtigheid te besluit? Oom Johnny sê wat hom die moedeloosste maak, is dat daai man nie nou net meer na moontlike drieë kyk nie, maar sommer enigiets. Amper soos Veldfokus. Dit klink mos só as die TV-ref sy opdragte kry: “Michael, kyk vir my na die grounding van die traai, maar dan gaan jy vir my terug na die lynstaan vooraf waar ek vermoed foulplêy (hoenderspel) plaasgevind het. Daarna skakel jy oor na die kringkamera in die kleedkamer, want ons vermoed swart se nommer 12 het blou se nommer 6 se badsakkie net voor die opdraf gesteel.” “Sorrie JC, ek kan jou nie hoor nie, die mense boe te hard, plies repiet.” En daar sit ons en sit ons en sit ons en verlang na die jare toe Oom Bertie Strasheim en Oom Fonnie-hulle nog op Loftus geblaas het. Verder moes ons hierdie week hoor dat dit op die daadmisfront beter gaan want die minister se statistieke sê so. Sê wie, vra ek jou, Niekie! Dik Daan sê hy wonder in elk geval of ons nou opgewonde moet raak as die minister van onveiligheid en onsekerheid vir ons vertel dat daar 1,46 persone per 100 000 van die bevolking minder die afgelope jaar vermoor is. “1,46 mens is mos maar eintlik net een dik ou soos ek,” reken hy. “So, al afleiding wat jy eintlik kan maak, is dat ons dik ouens meer katvoet sal moet loop vir moordenaars.” Waar ’n mens in elk geval desedae veilig moet voel weet nugter alleen. Hierdie week weer jaag ’n Tshwanetoria-bus in die begraafplaas in en verwoes 25 grafte. “Ek sê jou, selfs ons arme dooies is nie meer seker van hul lewe nie!” kla Neef Bartel en vertel hoe hy met hul Botswana-trippie naby Zeerust ’n ent agter ’n lykswa moes ry. Dis toe dat hy die plakker op die lykswa se agtermodderskerm sien: “Arrive Alive!” Eisj, you wish! En dan moet jy nog snags wakker lê in die vrees dat ’n regter wat by ’n ander regter gaan tee drink het, met sy Jaguar deur jou slaapkamermuur kan bars. Volgens nuwe navorsing bevat waatlemoen allerhandende stowwe soos likopeen, betakarotien en sitrullien wat dieselfde uitwerking sou hê as Viagra, wat op sy beurt atlete vinniger laat hardloop. Dik Daan sê hy wonder of die waatlemoen jou nie net pittiger gaan maak nie. “Maar ek kan nogal dink Viagra sal ’n atleet stywer teenstand laat bied,” sê hy, terwyl hy loer waar sy vrou is.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|