Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: Die taal se man in Antwerpen
So tussen al sy ander werksaamhede deur is ’n Vlaamse politikus van Antwerpen hard besig om sy passie vir Afrikaans uit te leef deur die taal te bevorder net waar hy kan. Hy is mnr. Ludo Helsen, “gedeputeerde” vir onder meer kultuur, tegnologie en internasionale samewerking van die Vlaamse provinsie Antwerpen. In Suid-Afrika sou ’n mens hom ’n LUR of provinsiale minister noem. Ons gesels in ’n restaurant in die dorp Herentals, sowat 20 km oos van Antwerpen, oor ’n bord geurige Vlaamse kos en ’n bottel Franse wyn. Helsen kom uit dié streek. “Dis my kiesafdeling,” sê hy trots. Hy dra ’n ringbaard, amper soos pres. Paul Kruger. As jy hom nie geken het nie, sou jy hom maklik vir ’n Afrikaner-boer uit die Bosveld of die Boland kon aansien. Dié Christen-Demokraat was twee jaar gelede verantwoordelik vir die hou van ’n twee dae lange konferensie in Antwerpen oor die toekoms van Afrikaans. Daarmee het hy geskiedenis gemaak, want dit was die eerste keer tot nog toe dat ’n Europese owerheidsinstelling hom amptelik met Afrikaans bemoei het. Uit dié konferensie het die besluit voortgevloei dat Helsen en Antwerpen gaan bly belê in Afrikaans as sustertaal van Nederlands, die taal wat die Vlaminge met die Nederlanders deel. Om dit te bereik gee Helsen binne die beperkinge van sy begroting geldelike en logistieke steun aan verskeie projekte. So gaan hy later vanjaar gratis huisvesting bied aan die Afrikaanse sanger Jannie du Toit, wanneer dié Vlaandere en Nederland vir ’n reeks konserte besoek. Hy het ook gehelp om ’n paar bykomende konserte te reël. Volgens Helsen wil hy dit graag ook vir ander kunstenaars doen. Een wat hy in gedagte het, is die Kaapse sanger Randall Wicomb. Verder ondersteun Helsen twee projekte van die ATKV, te wete die skryfskool van prof. Hans du Plessis van Potchefstroom, asook die opleiding van onderwysers om Afrikaans as tweede of derde taal te onderrig. Hy het ook ’n ooreenkoms met die Universiteit van die Vrystaat (waar hy onlangs ’n ereskild vir sy bydrae tot Afrikaans ontvang het) en die provinsie se regering gesluit om veeltaligheid in die administrasie te bevorder. Dit geld veral die Wes-Vrystaat, waar Engels byna geen rol onder die bevolking speel nie. “In dié omgewing probeer ons ook ’n goeie stelsel vind om iets vir die bruin mense te doen, veral vir die Griekwas in die omgewing van Philippolis en elders,” vertel hy. “Ons moet nog uitwerk presies wat en hoe. Dit is byvoorbeeld vir die mense ’n probleem om die duur boeke te bekostig. Dus wil ons graag goedkoop boeke probeer moontlik maak. “Ons wil ook baie graag bruin studente toegang tot hoër onderwys help gee deur beurse en uitruiling. As hulle hierheen kom, sal hulle ’n verwante taal teëkom wat baie soos Afrikaans lyk en waardeur hulle nie eensaam sal wees nie.” Iets wat Helsen ook na aan die hart lê, is om al die Vlaamse organisasies wat hulle met Nederlands en Afrikaans besig hou, bymekaar te bring om die inisiatiewe behoorlik te koördineer. Ook die geldelike bydraes moet gekoördineer word. So word netwerke geskep vir mense om mekaar se kultuur te leer ken. Organisasies, sê hy, is eintlik maar die somtotaal van enkelinge se bydraes. “Ons weet nog nie wat ons wil doen nie; dit sal mettertyd blyk. Wat ek wel wil doen, is om ook aan die Vlaamse private sektor se solidariteit aandag te gee.” Waarom doen hy dit? “Ek glo in taal as bindmiddel. Ek werk ook nou saam met Nederland, en ek meen Afrikaans is die derde been van ons taal naas Nederlands en Vlaams. “Die geskiedenis van die Lae Lande kan nie los van dié van Suid-Afrika gesien word nie. Ons het deur ons voorvaders ’n gesamentlike verlede; moontlik kan ons ook ’n gesamentlike toekoms uitstippel. Ek beskou dit dus as my plig om hier in Vlaandere te wys op Afrikaans en die rol wat Suid-Afrika in ons eie kultuur kan speel. Apartheid is weg; dit behoort tot die verlede en kan geen rol meer speel nie. “As kind het ek nog Afrikaanse gedigte op skool geleer. Dit gebeur nie meer nie. Sulke bande moet herstel word.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|