Raad vir die vraat
Beheervraat? Lees die volgende definisies en besluit self.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Loopplank is Streep s’n
Oct 13 2006 10:52:54:447AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

The devil wears Prada
Nu Metro
3/5

’n Mens gaan kyk nie na The devil wears Prada vir die aangrypende storie nie; dié is maar standaard en o, so voorspelbaar.

Nee, dié fliek is nóg ’n Meryl Streep-kragtoer en sy oorheers die skerm elke keer wanneer sy verskyn. David Frankel, regisseur, probeer hard om van die arme Anne Hathaway die ster te maak, maar sy verdwyn omtrent - soos die meeste van die ander karakters - van die skerm wanneer Streep haar opwagting maak.

Die verhaal het ’n mens al tot vervelens toe gesien - die idealistiese nuweling raak betrokke by ’n onderneming/projek wat sy/haar morele en etiese waardes beproef; die nuweling sukkel aanvanklik, maar maak vinnig vordering en is ná vele beproewings skielik onmisbaar; dan besef die nuweling hy/sy is op die verkeerde pad en Operasie Regruk behels onvermydelik die red van die een of ander verhouding, want die nuweling het uiteraard met die verkeerde sjarmante vreemdeling in die kooi gespring.

In dié opsig is The devil wears Prada erg vervelig, maar Streep se vertolking (sy ontken dis op Anna Wintour, redakteur van die modebybel Vogue, gegrond) maak die fliek die moeite werd. En daar is natuurlik die wonderlikste stekies na die modebedryf. Die draaiboek is gegrond op Lauren Weisberger se topverkoperroman oor haar tydjie by Vogue. En Frankel is geen vreemdeling vir katterigheid en mode nie; hy was aan die stuur van die invloedryke TV-reeks Sex and the city.

Streep is Miranda Priestly, beroemde en berugte redakteur van die Vogue-kloon Runway. Haar mening kan hele klerereekse én die ontwerper se loopbaan kelder. Sy is ’n tiran en boesem soveel vrees in dat haar kollegas haar sover moontlik vermy. Maar selfs ’n tiran het ’n assistent nodig en die jongste slagoffer is die aspirant-verslaggewer Andy Sachs (Hathaway), wat nie veel van die jongste modegiere weet nie en nie regtig die werk wil hê nie.

Andy leer op die harde manier dat sy sal moet aanpas of tou opgooi en die onvermydelike lelike-eendjie-swaan-omvorming volg, met die hulp van ’n simpatieke kollega, natuurlik! In dié geval is dit Nigel (Stanley Tucci), Miranda se regterhand.

Aanvanklik is Andy se vriend, Nate (Adrian Grenier), die verpersoonliking van simpatieke steun, maar hy word gou deur die “nuwe” Andy ontnugter. Gelukkig kan sy op die skrywer Christian Thompson (Simon Baker, wat skadevergoeding behoort te eis van die persoon wat sy wenkbroue opgeplak het), se skouer huil. En sy kontakte kom handig te pas wanneer Miranda die skynbaar onmoontlike van Andy vra.

Streep, wat effens na Glenn Close se Cruella De Vil in 101 dalmatians lyk, slaan ’n mens se asem weg as die skynbaar gewetenlose Miranda, wie se persoonlike lewe onder haar ambisie ly. Sy verroer nie ’n ooglid wanneer sy absurdste uitlatings maak nie en sorg vir die fliek se beste oomblikke. Hathaway lewer maar ’n tipiese grootoog-vertolking en Tucci is sy ou betroubare self. Die enigste een wat naby Streep kom, is die Britse aktrise Emily Blunt, wat die rol van Emily, Miranda se persoonlike assistent, speel. Sy lewer ’n over the top vertolking met só ’n strak gesig dat ’n mens vir geen oomblik daaraan twyfel dat die arme Emily regtig drie maande laas geëet het nie.

The devil wears Prada is lekker Saterdagaand-vermaak - en ’n herinnering aan hoe goed Streep is.

) Hoofspelers: Anne Hathaway, Meryl Streep, Stanley Tucci, Adrian Grenier, Simon Baker en Emily Blunt. Ouderdomsperk: 13TN. Tydsduur: 109 min.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |