Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Die duiwel is in die mode
In die komedie The devil wears Prada verruil wolf sy skaapklere vir ontwerperuitrustings. Meryl Streep oortuig met haar vertolking as ’n gevreede moderedakteur aan die stuur van die fiktiewe Runway-tydskrif, maar dit kan kwalik as ’n uittreksel uit die werklike modebedryf beskou word. Vandag is daar heelwat spelers in die bedryf en nie net een persoon se siening geld nie. Dit is ook onwaarskynlik dat mode-assistente so desperaat is vir ’n gesogte posisie dat hulle bereid sal wees om te staan vir die vernederende behandeling wat Streep se karakter uitdeel. Die boek waarop die rolprent gegrond is, het wel raakpunte met die werklikheid aangesien die skrywer, Lauren Weisberger, onder Anna Wintour, Vogue se gevreesde redakteur, moes sweet. Hoewel Weisberger enige ooreenkomste met die werklikheid ontken, is dit moeilik om nie te wonder waar die werklikheid ophou en die fiksie begin nie. Diegene wat naarstiglik wil begin om hul tande te slyp vir ’n soortgelyke betrekking in Suid-Afrika, kan maar eers ontspan. Plaaslik moet moderedakteurs die klere wat op fotosessies gebruik word, netjies aan die ontwerper terugbesorg of ten duurste aankoop. Daar bestaan geen geheime kamers vol ontwerpersklere en ywerige stiliste wat Aspoestertjies wil maak van ongekunstelde joernaliste nie. In die VSA is die modebedryf egter ’n perd van ’n heel ander modekleur en die assistent wat haarself so uitteer se obsessie met maer-wees is dalk nie so vergesog nie. Wintour het blykbaar ’n weersin in vet mense en het selfs Oprah Winfrey gedwing om ’n paar kilogramme af te skud voordat sy op Vogue se voorblad kon pryk. ’n Aspek wat weer die fiktiewe onderstreep, is die afwesigheid van enige kompetisie; die mediawêreld is in werklikheid ’n hoogs mededingende bedryf en geen tydskrif sal so gelukkig wees om vir ’n geruime tyd in isolasie die toon aan te gee nie. So, dalk draf die duiwel by tye in rooi Prada-skoene rond - wie weet, as die skoen jou pas, trek hom aan.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|