Raad vir die vraat
Beheervraat? Lees die volgende definisies en besluit self.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Slim, snaakse ‘Slevin’ bekoor
Oct 13 2006 10:52:44:383AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Lucky number Slevin
Ster-Kinekor
4/5

’n Mens is maar bra versigtig wanneer daar deesdae na ’n riller (of enige ander fliek) as “spitsvondig” verwys word.

As daar een ding is wat die Hollywood-bemarkingsmonster vervolmaak het, is dit die kuns van oordrywing en wanvoorstelling. In dié opsig stem die Droomfabriek nogal met die eiendomsbedryf ooreen. ’n Huis wat as “knus” beskryf word, beteken meermale jy kan in die bad sit en die voordeur oopmaak.

Lucky number Slevin is genadiglik nie te lank nie, maar dit is ’n riller wat as “spitsvondig” beskryf word. Vir ’n verandering is dit nie ’n leuen nie.

Soos verlede jaar se genotvolle Kiss kiss bang bang is Slevin een van daardie skaars aksieflieks waarin die aksie uitstekend met drama, humor en romanse gekombineer word. Boonop moet ’n mens nogal kophou, want die storie verloop nie chronologies nie en daar is heelparty kinkels.

Josh Hartnett is Slevin, ’n kêrel wat weens uiteenlopende redes op straat sit. Twee van die redes is die feit dat sy woonstelgebou in Los Angeles as onveilig verklaar is en hy het sy vriendin saam met ’n ander man in die bed betrap. Hy vlug na New York en soek by sy vriend Nick Fisher toevlug, maar hy’s skaars in die stad of hy word beroof.

Maar Slevin se probleme het net begin.

Die sluimerende vulkaan van spanning tussen die stad se twee groot bendeleiers, die Rabbi (Ben Kingsley) en die Boss (Morgan Freeman), dreig om tot uitbarsting te kom nadat die Boss se seun vermoor word. Hy roep die hulp van die legendariese huurmoordenaar Goodkat (Bruce Willis) in. Voordat Slevin nog sy tasse kan uitpak, bevind hy hom in ’n toutrekkery tussen die bendeleiers, wat hom vir Fisher aansien. Hy word voor ’n ultimatum gestel: Vermoor die opposisie binne drie dae en sy uitstaande skuld word afgeskryf.

Al wat Slevin se dag ophelder, is sy vriend se bekoorlike buurvrou Lindsey (’n wonderlike Lucy Liu).

Lucky number Slevin is, skynbaar onvermydelik, soos ’n vars briesie in die bedompige middelmatigheid waaronder fliekgangers week ná week begrawe word. Dis eintlik lagwekkend dat ’n mens só gaande oor ’n goeie fliek kan raak, maar dis die gevolg van die gemors wat deesdae onder die skuilnaam “vermaak” opgedis word.

Slevin is onvoorspelbaar en snaaks; dit verg ’n mate van betrokkenheid van die fliekganger. Jason Smilovic se draaiboek is uitstekend en ’n mens sien in goed soos Slevin en Lindsey se skreeusnaakse James Bond-bespreking ’n huldeblyk aan en hunkering na die invloedryke flieks van weleer.

Daarby is die Skotse regisseur Paul McGuigan, wat ook aan die stuur van die Hartnett-fliek Wicker Park (2004) was, se aanslag stylvol maar nie pretensieus of soetsappig nie. En almal, selfs die normaalweg uitdrukkinglose Hartnett, lewer goeie spel. Dis dalk omdat daar hoofsaaklik van hom vereis word om effe deurmekaar te lyk en op enige gegewe oomblik ’n meewarige glimlag te vertoon.

En moenie die fout maak om Willis se naam te sien en te dink jy kan ’n standaard-skop-skiet-en-donner-fliek verwag nie. Soos die geval met Kevin Costner is Willis se beter fliek dikwels dié waarin hy nie die hoofrol vertolk nie. Lucky number Slevin is een van die jaar se genotvolste flieks; ’n slim en snaakse riller wat nie sy gehoor se intelligensie onderskat nie.

) Hoofspelers: Josh Hartnett, Lucy Liu, Bruce Willis, Morgan Freeman, Ben Kingsley en Stanley Tucci. Ouderdomsperk: 16TSG. Tydsduur: 109 min.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |