Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Anders soos sonstraal
Little Miss Sunshine
Ontmoet die Hoover-gesin. Pa Richard (Greg Kinnear) is ’n motiverende skrywer en dryf sy gesin teen die mure uit met oneindige, ongevraagde lewenslesse. Ma Sheryl (die talentvolle Toni Colette) het die ondankbare taak as vredebewaarder tussen die res – wat insluit oupa Edwin (met die vuil bek en heroïen-gewoonte), haar seun Dwayne, wat ’n eed van stilte afgelê het, en haar gay professor-broer, Frank, wat onlangs probeer selfmoord pleeg het. Teen alle rede in klim dié spulletjie in ’n wankelrige minibus om die dae lange rit aan te pak na Kalifornië, waar die jongste Hoover-lid, die opgewekte kleuter Olive, aan die Little Miss Sunshine-skoonheidskompetisie gaan deelneem. Eerstens is dit duidelik dat die Hoovers die sêding “niemand is volmaak nie” na nuwe hoogtes voer. Tweedens is dit ’n uitgemaakte saak dat die reis ’n ramp gaan wees van begin tot einde. Derdens sou ’n mens kon aanneem dat alles tóg reg sal uitwerk vir dié ongelukkige spulletjie. Laasgenoemde aanname is egter nie die geval nie, en dít is wat die prent so besonders maak. Little Miss Sunshine het nie ’n soetsappige been in sy lyf nie, inteendeel; dit is ’n uiters realistiese – soms hartroerende – uitbeelding van gewone mense met gewone probleme. ’n Neerslagtige prent is dit nietemin geensins – daarvoor is die struikelblokke wat die Hoovers langs hul pad teëkom eenvoudig te bisar. Om mee te begin, ontwikkel die bussie se ratkas probleme. Siende daar nie tyd is om te wag vir die nodige onderdele nie, word die Hoovers gelaat met die oplossing om eenvoudig die voertuig in derde aan te skakel – dus met ’n “running start” en die gevolg dat hulle nêrens kan stop sonder om teen ’n afdraende te parkeer nie! Baie van die humor word geskep deur die atmosfeer by die skoonheidskompetisie. Die natuurlike en ongekunstelde Olive staan soos ’n seer vinger uit tussen die ander aangeplakte en kunsmatige deelnemertjies. ’n Mens hou laasgenoemde se geoefende glimlaggies en afgeronde vertonings met ’n soort geskokte fassinasie dop, en kry al hoe meer respek vir die manier waarop Sheryl haar dogter toelaat om ’n kind te wees, en nie ’n Barbie-pop nie. Olive se uiteindelike vertoning – en die organiseerders se reaksie daarop – is waarskynlik die komiese hoogtepunt van die fliek. ’n Groot genot om te aanskou, is die komiese Steve Carell van The 40 year old virgin-faam se melankoliese, onderspeelde Frank, wat ’n welkome afwisseling bied op sy swaer (Richard) se vasberade optimisme. Die prent sal miskien herinner aan die doen en late van die eksentrieke Tenenbaums van The Royal Tenenbaums. Waar dit vir my gevoel het asof hulle regtig op hul eie planeet funksioneer, werp die Hoovers ’n blik op ’n algemene probleem in gesinne: die manier waarop mense met dikwels botsende persoonlikhede in ’n onvermydelike nabyheid gedompel word. ’n Mens kan maar net hoop dat die voordele van die gesinsopset – en die onvoorwaardelike liefde wat (hopelik) daarmee gepaard gaan – sulke slaggate oorskry.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|