Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Nié Karre se swanesang
Fokofpolisiekar se indrukwekkende jongste album, Swanesang, wys hoe ver die vyf manne uit Bellville al musikaal gekom het sedert hul 2003-debuut, As jy met vuur speel sal jy brand. Die 12 snitte op die nuwe album het alles van Monoloog in stereo se stiller akoestiese klanke tot die groot melodiese rock van Lugsteuring en hul huidige treffer Brand Suid-Afrika. Die musiek-produksie is egter meer genuanseerd en afgerond as voorheen. Waar ander gewilde plaaslike rock-groepe in die generiese vlakwater rondplas, soek Fokofpolisiekar die rou dieptes van ’n jong generasie se eg inheemse wrewel op. Swanesang is ’n nuwe onheilspellende strofe in ’n steeds woedende treurlied. Fokofpolisiekar artikuleer die misnoeë van hulle wat skop teen leë materialisme en alles en almal wat die ou Suid-Afrika in hulle kele wil afdruk. Hulle kry dit soos Nirvana reg om die brutaliteit en blinde drif van harde rock met die intieme melancholie van folk te kombineer en dit bly ’n dodelike kombinasie. Ek het voor hul optrede by OppiAarde met die groep in Potchefstroom oor die nuwe album gesels. Ná die laster-debakel vroeër vanjaar het ek verwag dat julle met hierdie album daarop sal reageer, maar dit lyk nie of Swanesang iets nuuts oor dié tema te sê het nie. Het julle geskrik vir mense se hewige reaksies of is Vasbeslote korporasie (deel 1) se refrein van “geld is god, […] loof hom, prys hom, Here help ons” dalk julle antwoord? Francois van Coke (sanger): “Ses van die songs op die album, onder meer daai een, was reeds geskryf voor die insident.” Wynand Myburgh (baskitaar): “Ons voel ’n f*k. Ons het nie ’n bewuste besluit daaroor geneem nie. Die een song wat daarna hint is Ek skyn (heilig). FvC: “Ja, maar dis ook voor die tyd geskryf.” WM: “Met daai storie was dit obviously chaos gewees en dit was f*kken scary. Eintlik maak dit alles 100% sin. Mense voel sterk oor sekere goed en ons voel sterk oor ander goed en as mense in jou space kom en jou aanval oor wat jy glo, is dit heeltemal verstaanbaar dat die reaksie heftig is. Maar toe ons die res van die album geskryf het, was ons op ’n cool plek. Jaco (tromme, sang) was weer terug en ons het net daarop gefokus om ons sound te verbeter en goeie songs te skryf.” Wat maak Swanesang anders as julle vorige albums? WM: “Ek dink ons is nou ’n meer mature band. Johnny (de Ridder – kitaar, klavier, programmering) het ook baie meer aktief by die produksie betrokke geraak.” Johnny de Ridder: “Ek hou meer van dié produksie as enige van die voriges. Daar’s meer synth en strings en alles. Die klank is baie meer layered. Live moet jy eintlik net die melodie kan oordra – die mense kom om vir Francois te hoor en saam te sing. Maar ons wou ’n CD maak waarna jy ook by die huis krities kan luister.” En die titel? Is dit dalk ’n verwysing na die reël uit Valiant Swart se Kake van die leeu: “Slaan jy ook die tromme in ons land se ‘Swanesang’”? Of is dit rêrig julle laaste album? WM: “Dis nie ’n verwysing na Valiant nie, maar dit klink cool. Dis ook nie ons laaste album nie.” Hunter Kennedy (kitaar en liriekskrywer): “Die titel gaan vir ons oor die einde van ’n stormagtige tyd in ons lewens. Dis sluit ook aan by die reël op Monoloog in stereo wat sê: ‘Die lied in my hart is ’n swanesang.’” Op Heiden Heiland word ’n lang aanhaling uit N.P. van Wyk Louw se gedig Jy was ’n kind gebruik. Het jy Van Wyk Louw begin lees, Hunter, of is dit ironies? HK: “Ek kon nie op hoërskool met Afrikaanse literatuur identifiseer nie, maar hy was my favourite. Met die skryf van die nuwe album het ek met die Bybel, die woordeboek en Van Wyk Louw as verwysings gewerk. Sy woorde word natuurlik in die song in ’n heeltemal ander konteks gebruik as in die oorspronklike gedig, maar dit het perfek gepas. Nie enigeen van ons weet verder iets van hom of sy politieke oortuigings nie.” In Brand Suid-Afrika is daar ’n klomp verwysings na Afrikaner-nasionalisme soos “bloed en grond” en ook die reël: “Die Ossewabrandwag het gisteraand die munisipaliteit opgeblaas.” Wat probeer julle daarmee sê? HK: “Nadat ek Rian Malan se My traitor’s heart gelees het, was ek vir ’n ruk op ’n baie weird plek gewees. Dis die eerste keer dat ek intens bewus geword het van die land se verlede en waar ons staan. Ek het begin vrae vra en my ouma het my vertel dat my oupa die aand voor hy aan haar propose het, saam met die OB die munisipaliteit opgeblaas het. Suid-Afrika brand nie eers van gister af nie. Eintlik het daar min verander. As jy nie iets wil doen om te help nie, moet jy nie kla nie.” En wat van die stuk in die Brand Suid-Afrika- video waar daai bulnek-ooms in kortbroeke mekaar soen? Wou julle maar net mense ontstig? Jaco Venter (tromme): “Ons wou oorspronklik hê die ooms moet soen met die ou Suid-Afrikaanse vlag wat in die agtergrond brand, maar toe dog ons die kerk haat ons klaar. Ons wil nie nog die ander Boere ook op ons hê nie.” Toerdatums: 5 Oktober: Rock Night, Impala Park Centre; 6 Oktober: The Doors, Edenvale. JHB – CD-bekendstelling; 7 Oktober: Trashers, Pretoria; 7 Oktober: Zeplins, Pretoria (with The Narrow) – CD-bekendstelling; 8 Oktober: Tempo’s, JHB (met The Narrow).
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|