Raad vir die vraat
Beheervraat? Lees die volgende definisies en besluit self.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Goed – jy hoor haar nie
Oct 11 2006 07:46:09:270AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

’n Mens hoef nie te kan sing om ’n CD op te neem en uit te reik nie. Dít het die musiekbedryf al oor en oor bewys.

Onthou die skandaal toe die popduo Milli Vanilli moes bely dat hulle nie ’n enkele noot op hul CD’s – waarvan miljoene verkoop is – gesing het nie?

Milli Vanilli het bestaan uit Rob Pilatus en Fabrice Morvan, twee modelle wat goed kon dans en deeglik kon mimiek sodat gehore wêreldwyd geglo het die twee knape kan regtig sing. In die geskiedenisboeke was hulle die eerste popsterre wat hul Grammy-prys moes teruggee na ’n grootskaalse verneukspul. Die musiek en sang op treffers soos Girl you know it’s true is in werklikheid geskep deur ’n rits anonieme produksieleiers.

Vandag, danksy rekenaartegnologie, kan enigiemand met ’n bemarkbare lyf en/of persoonlikheid bo enige vals noot verhef word deur ’n paar ateljeeknoppies te druk.

As die Spice Girls en Britney Spears dit kon doen, hoekom nie Paris Hilton nie?

P!nk noem Juffrou Hilton ’n “porno-paparazzi”-meisie – iemand wat seks voor die flitsende kameras verkoop. Madonna sónder die fotoboek.

Nou wil Paris ons met haar debuut-album, Paris, wysmaak dat sy kan sing ook. Sy sing glo al jare lank, lank voordat sy ’n “aktrise” was, vertel sy in die promosie-DVD.

Dit is net jammer dat mense deur die realiteitsreeks The simple life (wat M-Net hier uitgesaai het), die indruk gekry het sy is dom. Want, verduidelik Hilton, mense het gedink sy is regtig so dig, terwyl sy eintlik maar net ’n rol vertolk het . . .

Paris sê eintlik niks oor die blondekop celeb of haar talent of op watter vlak dit dalk mag lê nie. Sien, dit is só ’n reusagtige groepswoeps dat ’n mens skaars haar stem kan hoor – letterlik én figuurlik.

Soms het soveel as sewe mense (produksieleiers, gassangers en liedjieskrywers) gehelp skaaf en skryf aan ’n enkele snit.

Luister ’n mens na die musiek, is dit ook propvol overdubs, kreun- en hygsang saam met ’n gekoer en gekweel dat die sang skoon vergete is.

Veral die eerste snit, Turn it up, het ’n irriterende laag-op-laag-voorkoms, dat ’n mens skaars vir Hilton in die oerwoud-klank kan hoor.

Die oordrewe produksieleiding geld regdeur die elf snitte. Daar is soveel agtergrondsang en klanklae dat die vrouestem amper onidentifiseerbaar is. ’n Mens sou byvoorbeeld graag wou hoor hoe sing Hilton ’n pragtige akoestiese ballade met slegs kitaarbegeleiding om ’n idee te kry van hoe sy regtig klink.

Ná herhaalde luister klink die Paris-album soos ’n versamelalbum waarop elf verskillende sangeresse gesing het. Te oordeel aan die spul produksieleiers maak dit sin. ’n Klomp van die beste liedjieskrywers en produksieleiers is reuse-bedrae geld betaal om pure spookasem te skep vir iemand wat die lyf het om met die kameras te flankeer.

Oorspronklikheid is daar min van. Om Rod Stewart se Do ya think I’m sexy? op te tert en die immergroen The tide is high deur Blondie (Deborah Harry) skaamteloos te steel, wys dat daar min nuwe idees was.

Die produksieleier Scott Storch se dansritmes is nogals aansteeklik en sorg vir ’n aantal vuurwarm momente. Maar weer eens sê dit niks van Hilton nie.

’n Mens sal Hilton se verhouding met ’n mikrofoon slegs tydens ’n konsert na behore kan beoordeel, maar dan sal daar die waarborg moet wees dat sy regtig diep asem haal en haar stembande gebruik. Nie mimiek nie!

Ondanks dié voorbehoude, gaan Paris steeds verkoop. ’n Media-persona is oorgenoeg om ’n “sang”-loopbaan woema te gee. Kyk maar net na Madonna.

Tydens haar mees onlangse albumbekendstelling in Londen het die Britse media geskryf dat Mads nie so ’n wafferse sangstem het as sy sonder hulp of ateljeefoefies die mikrofoon moet vashou nie. Madonna het ook al bewys dat haar albums se sukses grootliks afhang van die produksieleier saam met wie sy werk.

Paris is pure kitskos; van daardie musiek wat ’n mens in die middel van die nag met ’n irriterende sooibrand wek.

Miskien kan die fliekmaker Michael Moore vir ons ’n gawe dokumentêr verfilm rondom al die samesweringsteorieë en die vraag beantwoord: Kan Paris Hilton regtig sing?

kburger@beeld.com


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |