Verveeld? Probeer Beeld-speletjies
Oorlogskip, kleiduif-skiet, Tetris, Sudoku en meer...
Beeld
Sexy nuwe Lara
Alison Carroll vlieg die wêreld vol om bemarking te doen vir die speletjie "Tomb Raider: Underworld". Kyk na die video
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Bitter soos 'n besem
Sep 27 2002 04:33:24:330PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Bitterkomix 2
Art on Paper, Melville


Dis 'n leersame affêre. Dié delf in die ondermynende wêreld van die satiriese kuns wat in die vorm van strokiesprente vuishoue uitdeel.

Jy word bloedneus geslaan, want hier is daar nie sagte handskoene wat die kritiek teen rassisme, outoritêre gesag in skool, kerk, huis en regering, versag nie. Skyn-heiligheid word gewys soos dit is.

Onder die woede (van die tekeninge) voel jy soms 'n nog onverteerde pyn wat skreeu om raakgesien te word. Bloot dié van die getekende karakters, of juis en eintlik dié van hul makers? Hoekom anders hoor 'n mens in van die aanklagte so 'n onmiskenbare toon van adolessente verset en pueriele aandrang. Daardie, "Dis-alles-jou-skuld-klankie. Kyk hoe moet arme ek nou suffer".

Joe Dog, Lorcan White en Konradski, overgeset synde, die Kannemeyer-broers, Anton en Mark en Conrad Botes van Bitterkomix steek weer wild na die dun vernislagie van die sogenaamd beskaafde mens. "Steek" is inderdaad die werkende woord. Seks is immers steeds vir hierdie hardebaard-manne met die vaardige tekenvingers die Groot Ding. Anders as hul Europese of Engels-Amerkaanse strokiesmakers saam met wie hulle in 'n gesaghebbende boek gepubliseer is.

Om die driemanskap te glo, is hierdie liggaamsfunksie vir die Afrikaner steeds 'n aardigheid. Dus gebruik hulle pornografiese voorstellings net so uit daardie tydskrifte om hul draakstekery aan op te hang. Eksplisiet, met die pornografie as uitgangspunt en penetrasie as tema swaai hulle die Groot Vinger teen gevoelloosheid, teen geweld, teen uitbuiting.

'n Mens weet mos satire werk met teenoorgesteldes, met ironie, met paradokse en visuele metafore.

Kyk jy na die oorspronklike sifdrukke wat sedert 1992 in Bitterkomix, eers in Afrikaans en daarna in Engels en Frans verskyn en uitverkoop is, is dit dadelik duidelik. Hier is 'n groot klomp talent saamgebondel. Jy verstaan hoekom die kunstenaars hul grade en nagraadse grade in die grafiese kunste hier en in die buiteland met onderskeiding geslaag het. Hul tegniese vaardigheid steek nie af teen die bestes elders nie. En in die geval van Mark Kannemeyer soek ek vergeefs na 'n voorganger - iemand wat soos hy kan verbeel en verbeeld.

Waar Anton en Conrad met al die bekende strokiesprent-style eksperimenteer, soos dit sedert kort voor die Tweede Wêreldoorlog bekend geword het, staan Mark se visuele vondste uit. In King Lizard & the emerald woman boei die dramatiese visuele vondste in tekeninge wat nie afhanklik is van 'n teks nie. Hier is volwasse fantasie versoen met buitengewonde tekenvaardigheid.

Hierdie tekeninge is opgeneem in 'n volume wat die beste van tien jaar Bitterkomix herdenk. Bitterkomix, wat bemark word as die enigste onafhanklike satiriese komix in die land.

Tien jaar lank al bekend om sy aggressiewe aanvalle veral op die wit politiek van juis die Calvinistiese Afrikaner.

Die spottydskrif het ontstaan in die gees waaruit ook die kritiese alternatiewe Afrikaanse musiek van Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en diesulkes gekom het. Erkenning daarvoor blyk uit vele tentoonstellings en veral dat hulle ingesluit is in Comix 2000 (uitgegee deur L'Association) waarin die beste werk wêreldoor opgeneem is.

Ook die feit dat al drie as dosente of leiers van slypskole in grafiese kuns en strokiesboekmaak-tegniek by tersiêre inrigtings werk. Dat visueel-begaafdes 'n uitlaatklep geleer word om eie griewe en angste - en oordragtelik ook dié van hul kykers - te besweer, is gesond.

Satiriese strokiesboekmakers - veral in die Europese stroming - is klaarblyklik soos 'n suidoosterwind wat alkant toe waai. Of soos 'n besem, 'n stofsuier, of rioolsloot. Anders beland alles op straat.

 Tot 9 Oktober.

Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |