Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Draadkarre loop op liefde, goeie maniere
Met die instap by oom Slim Daan se huis in Proklamasieheuwel sien jy dit: ’n knewel van ’n draadkar. “Ja, dit moet die grootste draadkar in die wêreld wees,” meen oom Daan. “Van ’n bullbar tot skokbrekers. Hier aan die haak hang nog oorblyfsels van die Blou Bulle,” spot hy en wys na ’n blou kommersiële artikel aan die agterkant van die lewensgroot draadmodel. Die dae van leë visblikke vir wiele en jou ma se draadhanger om ’n draadkar die lig te laat sien, is verby. Oom Slim Daan verkoop sy chariots of wire al van 1991 af en daar’s nie ’n fees waar hy nog nie was nie: die grotes soos KKNK en Aardklop inkluis. Die “motoraanleg” wat aan oom Daan verskaf, is in Bothaville. Sy draadkarre word selfs met ’n poeierlaag-verf gespuit. “Ek praat nie met ouers nie. My kliënte is kinders. Ek vertel hulle altyd dat my draadkarre ’n lewenslange waarborg het. Sy sondak is altyd oop en die lugreëling werk permanent. Geen klip kan deur ’n venster gegooi word nie en hy sal ook nie ’n pap wiel kry nie. Hy gaan nie olie lek nie en sy brandstof is liefde, goeie maniere, rys-vleis-en-aartappels en die lekkergoed wat daarmee saamkom. “My kliënte se gemiddelde ouderdom is vanaf kindertjies wat skaars kan loop tot so by die agtjariges. “Ek verkoop die karre vir ’n basiese inkomste en ek geniet ook die buitelug. Die tevredenheid van kinders wat wegstap met ’n draadkar en “brrrm-brrrm” maak, is ongelooflik. “Die draadkarreeks sluit in enkel- en dubbelkajuitbakkies, Volkswagen Beetles, Audi TT’s en Jeep Wranglers. Hulle is die populêrste. Maar my vlagskip is die Toyota Land Cruiser met ’n seilkappie, waentjie en daktent. Pryse wissel tussen R150 en R500. “Blou is die gewildste kleur, seker omdat ons in Pretoria bly. Verder kry jy groen, rooi, geel, en pers vir die meisietjies. “Ek is in Capitalpark op ons kombuistafel gebore, en ek is nog al die jare ’n Pretorianer.” En die naam Slim Daan? “Die hele Pretoria ken my so, dit kom van die kindertjies af,” vertel die 67-jarige oupa van twee.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|