Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Siek kindjies vind ’n hawe by Karen
Karen Bruyere is ’n mamma wat weet van afskeid neem. Sedert Tshwane Haven in Junie verlede jaar geopen het, het Karen en haar helpers al 40 siek en hawelose kinders in hul huis versorg tot ’n besluit oor hul toekoms geneem is. Dit kan beteken dat hulle teruggaan na hul ouers, in ’n plek van veiligheid geplaas of aangeneem word. Party sterf egter. “Ek kan verstaan dat ’n mens gefrustreerd kan raak met ’n huilende kind, maar ek kan nie verstaan dat jy hom só skud dat sy ogies los raak nie,” sê sy oor die uiterste mishandeling waaronder party van haar kinders moes deurloop. Toe sy self nog ’n veiligheidsouer was, het altesame sewe kinders in haar huis gesterf. “Ek huil maar, en praat en bid daaroor. Dan hoef ek dit nie alleen te dra nie,” sê sy. “Maar ek kry krag.” Om te sien hoe ’n siek, ondervoede kindjie op liefde en aandag floreer, maak dubbel en dwars op vir die swaar. Karen was ’n sakevrou met twee kinders van haar eie, toe sy kanker gekry het. “Ek het vir die Here gesê as hy my gesond maak, sal ek vir hom werk. Anders moet hy my vat. Ek kan nie só bly hang nie,” vertel sy. Sy het herstel en by die Mohau-kinderhospies by die Kalafong-hospitaal betrokke geraak. Later het sy aangesluit by Tshwane Place of Safety, wat hawelose kinders se plasing by veiligheidsouers fasiliteer. Dit het egter duidelik geword dat party kinders te siek is om uit te plaas en Tshwane Haven was die antwoord. Dr. Willie van Aardt, voorsitter van Tshwane Place of Safety, het ’n lieflike, groot huis met houtvloere en ’n tuin in Rigellaan beskikbaar gestel. Hier het elkeen van die agt kinders wat tans daar woon, sy eie slaapplek, klere en teddiebeer. Die siekste kindertjies slaap snags by Karen in haar slaapkamer. Vir Karen is die grootste uitdaging van haar dag- (en nag-) taak om Tshwane Haven finansieel op sy voete te kry. Hulle kry geen hulp van die staat nie en het byvoorbeeld ’n bussie dringend nodig. Om alleen met nege siek babas en kleuters dokter toe te ry, is geen maklike taak met ’n gewone sedan nie. Die grootste plesier is “om te sien hoe hulle glimlag as jy instap”, sê sy.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|