Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Eetplekke in Pretoria gevaarsone
Misdaad vereis dat Pretoriase restaurantbase deesdae ’n groter verantwoordelikheid moet aanvaar as om net ’n lekker bord kos aan hul klante voor te sit. Die Restaurant Association of South Africa (Rasa), wat landwyd ongeveer 1 800 lede het, het onlangs bekend gemaak dat die veiligheidsklassifikasie van restaurante in die Jakarandastad as “uiters hoog” gesien word. Dit beteken dat eet- en kuierplekke in die stad as gevaarsones beskou word. Restaurante in dele van Johannesburg word soortgelyk geklassifiseer. Volgens Wendy Alberts, uitvoerende hoof van Rasa, is daar sedert Januarie meer as 14 mense landwyd dood in rooftogte by restaurante. “Daar is amper nie een enkele winkelsentrum in Pretoria wat nog nie deur misdadigers geteiken is nie. Ongelukkig is die meeste restaurante in dié sentrums ook maklike teikens vir rowers,” het Alberts gesê. Kitsbanke wat al hoe meer gereeld deur rowers opgeblaas word, skep bykomende probleme omdat dié banke dikwels in winkelsentrums, naby restaurante, is. Een van die jongste voorvalle by eetplekke wat skokgolwe deur die land gestuur het, was die dood van Kurt Huppe. Hy is deur rowers geskiet tydens ’n besoek aan die restaurant by die Leeupark net buite Krugersdorp. “Dit is absoluut afgryslik dat die regering so min doen om die publiek te beskerm. Dit is ons missie by Rasa om, in samewerking met ander organisasies soos Besigheid teen Misdaad, al ons lede op hoogte te hou van die nuutste modus operandi van misdadigers in hul omgewing. “Ons werk nou saam met die polisie en die publiek om misdaadbrandpunte in elke gebied te identifiseer. Ons kan dan vroegtydig ons lede waarsku dat hulle dalk ’n teiken kan wees.” René Jordaan, nasionale bedryfsbestuurder van die Dros, sê veiligheid was nog altyd dié restaurantgroep se nommer een-prioriteit. “Ons is baie gesteld op ons klante se veiligheid. Daar is altyd iemand in die parkeerruimtes voor ons restaurante om op die uitkyk te wees vir verdagte persone. Ons het ook paniekknoppies in al die restaurante wat direk met ’n sekuriteitsmaatskappy verbind is.” Jordaan vertel verder dat hulle onlangs ’n nuwe Dros in Sunnyside geopen het en dat hulle nog nie ’n dag se probleme by hierdie tak gehad het nie. Die hoofbestuurder van die News Café se restaurantafdeling, Alan van der Westhuizen, sê op sy beurt dat hulle nie bewus was van die feit dat die veiligheidsklassifikasie van restaurante in Pretoria verhoog is nie. “Een van ons takke was ’n paar jaar gelede beroof, maar ons was tot op hede nog eintlik baie gelukkig gewees. Ek dink ons kan dit toeskryf aan die feit dat ons minimale kontant by die restaurante aanhou en al ons verskaffers word per tjek betaal. Ongelukkig is baie van ons restaurante in sentrums geleë. Dit maak ons baie afhanklik van die sentrums se sekuriteit.” Alberts sê dat Rasa dit vir die publiek wat gereeld restaurante besoek, so veilig moontlik wil maak. “Deur die veiligheidsklassifikasie te verhoog, maak ons restauranteienaars bewus van die misdaadsituasie in hul gebied. Hulle kan dan die nodige voorsorgmaatreëls tref om hul klante se veiligheid te verseker. “Ons kan die stryd teen misdaad egter nie alleen aanpak nie. Die regering en veiligheidsorganisasies sal almal moet saamwerk as ons enigsins ’n verskil wil maak.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|