Gaan Mbeki by buurtwag aansluit?
Daar's eintlik vrek baie ooreenkomste tussen pannekoek bak by 'n basaar en kinders grootmaak...
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Staan opsy, snoepies!
Apr 29 2008 03:05:59:457PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Pousetyd in Brandwag se kafeteria. Foto: Riëtte Grobler
Riëtte Grobler


Die meeste skole het snoepies. Die Hoërskool Brandwag in Benoni het ’n kafeteria.

Hier kan kinders potspel (pool) speel, op gemaklike rusbanke sit en met mekaar gesels, skoolwerk by groot tafels doen en arkadespeletjies speel.

Die skool se beheerraad het verlede jaar die behoefte aan só ’n ruimte geïdentifiseer, sê die waarnemende skoolhoof, Anton Geyser.

Hy beskryf Ena Olivier, wat die kafeteria bedryf, as “ ’n snoepietannie met ’n sakekop”.

Volgens Anton bedryf skole snoepies dikwels met ’n liefdadigheidsmotief in gedagte.

“Ena het egter besef ’n wins moet gelewer word. Dit help boonop dat onderwysers nie meer die snoepie hoef te bedryf nie,” sê hy.

Volgens Ena kuier kinders nie meer nie. “Maar met die rusbanke hier, sien ek hoe die kinders weer gedurende pouses met mekaar gesels,” vertel sy.

“Hier kan ’n ontstelde meisietjie kom sit, haar huil op die rusbank huil en ’n koppie warm sjokolade drink en weer rustig klas toe gaan.”

Om kragonderbrekings vry te spring, werk die meeste toerusting in die kafeteria met gas. Ena en haar personeel berei daagliks sowat 300 warm etes voor.

“Om ’n huislike atmosfeer te skep, verander ek ook gereeld die spyskaart,” sê sy. “Wanneer dit reën, bak ons byvoorbeeld pannekoek.”

Benewens pouses gaan die leerlinge na die kafeteria wanneer onderwysers afwesig is. Om te verseker dat kinders nie sonder onderwysers se medewete in die kafeteria is nie, hou Ena klaslyste byderhand.

“Sy het baie beheer en weet presies wat aangaan,” sê Anton.

Benewens gewone skoolure, is die kafeteria ook ’n veilige plek waar kinders ná skool vir hul ouers kan wag. Ena beoog om die kafeteria ook binnekort op Vrydag- en Saterdagaande oop te maak.

“Die seuns het kom sê hulle het nie ’n lekker plek om te kuier nie,” sê sy. “Nou wil ons potspelkompetisies hier aanbied.”

Gert de Kock, ’n gr. 12-leerling, hou van die kafeteria omdat leerlinge pouses CD’s kan bring om daar te speel.

“Dis iets nuuts,” sê Chris Pienaar, ook in gr. 12. “Ek weet nie van ander skole wat so iets het nie.” Bernice Gunter sê dit is vir haar lekker om pouses rustig op die banke te sit en kuier. “Dit motiveer jou nogal om skool toe te kom,” giggel sy.

Ena en haar man bedryf ook uit hul eie sak ’n voedselhulpskema vir leerlinge wat tuis sukkel.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |