Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
DA boikot toespraak
Die boodskap van die “Stand van die stad”-toespraak van Duma Nkosi, uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni, vervat in ’n glansbrosjure van tien bladsye, was eenvoudig: Dit gaan goed in Ekurhuleni. Die titel van rdl. Eddie Taylor, leier van die DA, se toespraak wat hy in repliek wou lewer, was “The city is in a state – a hell of a state”. Die DA is egter voor die raadsvergadering verlede Donderdag ingelig dat hulle geen kans gaan kry om te praat nie en het uit protes daarteen besluit om glad nie by die vergadering en die feesvieringe op te daag nie. In sy toespraak sê Duma daar is groot vordering gemaak sedert die vereniging van die nege stede in 2000, maar daar sal altyd nuwe uitdagings wees. Dít kry aandag van die metroraad in sy jongste vyfjaarplan, wat onder meer kyk na die ontwikkeling van infrastruktuur, sosiale verandering, ekonomiese aanpassings en institusionele transformasie. Daar word beplan dat alle informele nedersettings teen 2014 geformaliseer sal wees. In die volgende drie jaar sal daar ook gekyk word na name uit die apartheidsbestel wat nog nie verander is nie. In sy toespraak, wat die DA as ’n verklaring uitgereik het, sê Taylor talle amptenare hou eerder die horlosie dop as om diens aan inwoners te lewer. Hy beskryf Ekurhuleni as ’n “slaggat-paradys” en sê inwoners wag sedert 1996 op hul beloofde laekoste-behuising. Verder beweer hy Tembisa is onder die vuilste woongebiede in Suid-Afrika – hoofsaaklik omdat ’n plan van die ANC heeltemal verkeerd toegepas is. Hy sê die ekonomiese onwikkeling in dié gebied word gekniehalter deur die moratorium wat op die verkoop van metro- grond geplaas is, hoewel sulke verkope en die daaropvolgende ontwikkeling talle werksgeleenthede sou skep. Taylor wys ook daarop dat die voortslepende saak teen Robert McBride, geskorste polisiehoof, beëindig moet word. Hy sê ook dat McBride sy eie regskoste moet betaal. Intussen het die Mail&Guar?dian verlede Vrydag berig dat die omstrede grondruilingsplan tussen die metro en ’n ontwikkelaar in Alberton weer opslae maak. Luidens die berig het ’n verslag daarop gedui dat die stuk grond waarop die Meyersdal-ekolandgoed ontwikkel word, sowat R100 miljoen werd is. Die ontwikkelaar het dié grond egter vir net sowat R7 miljoen van die raad bekom. In die berig word ook beweer dat verskeie DA-raadslede, ’n lid van die ANC en ’n onafhanklike lid eiendom daar besit en dat hulle die eiendom teen baie billike pryse aangeskaf het. Die ruiltransaksie was al telkens in die verlede in die nuus weens die beweerde betrokkenheid van raadslede daarby.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|