Gaan Mbeki by buurtwag aansluit?
Daar's eintlik vrek baie ooreenkomste tussen pannekoek bak by 'n basaar en kinders grootmaak...
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Aas is uit vir toeriste
May 06 2008 01:26:59:137PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
'n Art deco-gebou in Tweedestraat, Springs. Dié gebou sal op een van die Ekurhuleni-metro se toerismeroetes gesien kan word. Foto: Sarie van Niekerk
Riëtte Grobler

Die Kaap het die wynroete, KwaZulu-Natal die Middellande en nou lyk dit asof Ekurhuleni se vier toerismeroetes ook ’n werklikheid gaan word. Die doel met dié roetes is om meer besoekers na die streek te lok.

Oos-Rand-Beeld het sowat ’n jaar gelede berig oor die Ekurhuleni-metroraad se beplande art deco-toerismeroete.

Niks het egter sedertdien daarvan gekom nie. “Daar was ’n groot politieke gesloer,” is Charl Fouché, die Ekurhuleni-metroraad se direkteur van toerisme, se verduideliking. Fouché is besig om die beoogde roetes ’n werklikheid te probeer maak.

Daar word na die roetes, wat nog deur Gauteng-toerisme goedgekeur moet word, as geografiese roetes verwys. “Dit sal hopelik teen die einde van Julie vasgestel wees,” sê Fouché.

Hoewel Ekurhuleni reeds saketoerisme lok vanweë tientalle konferensiegeriewe, het die munisipaliteit maniere gesoek om mense langer in die gebied te laat bly deur middel van ontspanningstoerisme, sê Fouché.

“Daar is baie besienswaardighede in Ekurhuleni waarvan mense nie altyd bewus is nie. Dit sluit vleilande, goud en die art deco-boustyl in talle Oos-Randse myndorpe in,” sê hy.

Die voorgestelde temaroete sal wentel om die lewe van die struggle-aktivis Oliver Tambo. Dit sal strek vanaf die O.R. Tambo-lughawe tot by Tambo se woonhuis en laaste rusplek.

’n Meerroete sal strek van Springs tot by Nigel en Daveyton. Dié roete sal onder meer die Korsman-voëlreservaat in Westdene, Benoni, en die Rondebult-voëlreservaat met sy talle voëlskuilings insluit.

“ ’n Struggle-roete sal onder meer by die plek verbyloop waar Chris Hani geskiet is en talle art deco-geboue aan die Oos-Rand sal op die vierde geografiese roete besigtig kan word,” sê Fouché.

Hoewel daar nie begeleide toere op die roetes sal wees nie, is brosjures met kaarte en inligting oor belangrike bakens beskikbaar.

Vanweë ’n beperkte oplaag, sal die brosjures slegs by die Edenvale-burgersentrum beskikbaar wees.

Ander beoogde toerismeaantreklikhede aan die Oos-Rand sluit stoomtreintoere in. “ ’n Trein sal byvoorbeeld by die Springs-stasie stilhou. Mense sal met bussies na die dorp vervoer word om na die art deco-geboue te kyk. Hulle sal ook op die stasie by klein winkeltjies kan rondsnuffel,” sê Fouché.

Ander inisiatiewe om toerisme aan die Oos-Rand ’n hupstoot te gee, is kursusse oor hoe om ’n restaurant, toermaatskappy en gastehuis te begin. Daar is ook iPoint-stasies in verskeie winkelsentrums aangebring. Dié elektroniese navraagsentrums bied inligting oor die hele Suid-Afrika en advertensieruimte.

Vir meer inligting oor die toerismeroetes, skakel 011 456 0024/ 0014.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |