Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sport kwyn weg by Die Fakkel
Die Hoërskool Die Fakkel in Forest Hill in die suide van Johannesburg speel van vanjaar af nie meer rugby nie. “Daar is te min kinders wat belang stel. Ons kan nie ’n enkele span volmaak nie,” sê die skoolhoof, dr. Piet du Preez. Daar is vanjaar glo net ses kinders wat bereid is om te speel. Dié skool, waarvan Amor Vittone in 1989 hoofmeisie was, bestaan al 69 jaar. Hulle het Springbokrugbyspelers soos die losskakel Natie Rens en die broers Robbie, ’n haker, en Jannie “Twinkle Toes” Barnard, die vlugvoetige losskakel van die 1960’s opgelewer. Die Protea-krieketspeler Fanie de Villiers was ook vir ’n paar jaar ’n leerling van Die Fakkel. “Dis bitter hartseer,” sê Lood Kleynhans, wat die skool se eerste rugbyspan die afgelope 13 jaar afgerig het. “Die laaste twee jaar was veral erg.” Hul rugbyspan het so onlangs soos agt jaar gelede nog vir die halfeindstryd van die Beeld-trofee gekwalifiseer. Nou moet die kinders wat bereid is om te speel, saamspan met die nabygeleë Forest High School, omdat hulle ook te min rugbyspelers het. Volgens Du Preez het die skool se demografie die laaste paar jaar so verander dat die leerlinge in die skool nie meer belang stel in sport nie. Die skool bied parallelmediumonderrig vir sy 760 leerlinge. “Dis nie net rugby wat ly nie. Dis asof die kinders net nie enige belangstelling in aktiwiteite het nie,” vertel “Oom Lood”, soos hy bekend is by die skool. Alle ander sportsoorte se deelname het afgeneem. Skaak is die enigste van die buitemuurse aktiwiteite wat entoesiastiese deelname geniet. Die skool se sportgeriewe het ook grootliks in onbruik verval. ’n Leë paviljoen, of “die wit olifant” soos Lood dit noem, troon uit bo vier rugbyvelde en ’n volledig toegeruste gimnasium. “Op 6 Junie 2000 was die paviljoen die laaste keer tjok en blok vol. Toe het ons teen ons aartsvyande, die Hoërskool President, gespeel. “Dis so hartseer dat ons al dié fasiliteite het met niemand wat dit wil gebruik nie, terwyl daar kinders in ander skole is wat graag wíl speel, maar nêrens kan oefen nie.” Die Fakkel is besig om te onderhandel met ander skole wat hul geriewe wil gebruik. Tog is daar steeds sportuitblinkers by die skool. Die 15-jarige Aretha Dejaap het reeds nasionale kleure in hokkie verwerf. Ongelukkig inspireer haar vertoning blykbaar nie haar spanmaats nie. “Dis asof hulle nie eers ’n poging aanwend om hul beste te gee nie,” sê Lood.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|