Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Rugby was die hoofdis
Sowat 370 rugbyaanhangers het Vrydag die rare geleentheid gehad om twee rugbylegendes van nader te ontmoet. Die oud-Springbokke Os du Rand en De Wet Ras was die eregaste by ’n mannedag van die Laerskool Jan van Riebeeck in Springs. Die dag is aangebied om geld in te samel vir ligte vir die sportvelde. Die skoolhoof, Herman Flemming, sê die dag was ’n geleentheid vir inwoners van dié dorp om van nader kennis te maak met die twee Vrystaatse rugbyspelers. “Die mense van Springs kry nie sommer aldag kans om ’n Os of De Wet te ontmoet nie,” het hy gesê. “Dié dag is sommer vir lekker kuier en om rugbystories uit te ruil.” Volgens Flemming is hy self ’n “rugbyman” wat in dieselfde era as De Wet op die veld gedraf het. Nols Vosloo, die skool se adjunkhoof, het die dag georganiseer. Die rugbykommentator en televisieaanbieder John van Rensburg was die seremoniemeester. Hy het in kletsprogramstyl vrae aan die rugbyspelers gestel oor hul loopbane én oor rugby vandag. “Dit was ’n unieke ervaring om twee rugbywêreldbekers te kon wen,” het Os gesê. Hy het na verlede jaar se wêreldbeker sy aftrede aangekondig. Hy het Jake White se sukses met die Springbokke toegeskryf aan spanstabiliteit. “Dit was die J-faktor wat die span so goed laat werk het,” het Os gesê. “Ek neem effens aanstoot,” het Os geantwoord op ’n vraag oor of daar nog plek was vir “groot swaar skrums” onder die nuwe rugbyreëls. “Ek glo skrums gaan weer spesialismanne word. Die voorrye gaan teruggaan na ouens wie se werk dit is om te demolish,” het hy gesê. Volgens De Wet, ’n voormalige Springbok-losskakel, is daar in hedendaagse rugby te veel doellose skoppe. Hy meen meer kan gedoen word om goeie skrums te verseker. “ ’n Verrassingselement agter die tackle-lyn is nodig,” het hy gesê. Oor waarom dit soms sukkel-sukkel gaan met sekere rugbyspanne, het De Wet kort en kragtig geantwoord: “Geld”. “Lojaliteit aan ’n span is deesdae nie genoeg nie,” het hy gesê. “As ’n provinsie nie geld het nie, gaan hy ongelukkig nie vooruit nie.” Os meen meer geleenthede moet aan jong spelers gegun word. “Moet die jong ouens nie onderskat nie,” was sy raad aan provinsiale rugbyspanne. “ ’n Afrigter moet ’n jong ou kans gee om op verskeie plekke te speel.” Die markiestent waarin die kuier van vroegdag af gehou is, was stampvol en daar is ná die formaliteite tot laat gekuier. Jaco Webb en Phillip Potgieter van die Merino-slaghuis het vir ’n heerlike bees of twee op die spit gesorg. “Ons is al 24 uur besig met hierdie vleis,” het Jaco gesê. Volgens Herman was dié rugbykuier egter slegs ’n voorsmaak van die mannedag wat in Augustus aangebied word. “Ons beplan ’n soortgelyke kuier saam met ’n paar rugbyafrigters soos André Markgraaf.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|