Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Stephen Hawking wil kolonies hê op die maan en Mars
Die bekende fisikus Stephen Hawking het vandeesweek, tydens ’n lesing in Washington ter ere van Nasa se 50ste bestaansjaar, gesê die wêreld behoort reusefondse te bestee om menslike kolonies op die maan en Mars te kan vestig. Volgens ’n berig vandeesweek op New Scientist se webtuiste (newscientist.com) glo Hawking dat die wêreld tien keer Nasa se huidige begroting, oftewel 0,25% van die wêreld se finansiële hulpbronne, aan ruimtekolonisasie behoort te bestee. Dié beroemde fisikus van die Universiteit van Cambridge het homself in die verlede reeds ten gunste van die kolonisasie van die ruimte uitgespreek. Hy meen dit sal dien as ’n “versekeringspolis” om die mensdom te beskerm teen die moontlikheid van uitwissing weens ’n kernoorlog of klimaatsverandering. Hy argumenteer dat die mensdom mettertyd na ander sonnestelsels behoort uit te brei. Tydens sy lesing Maandag het Hawking egter gefokus op korter-termyn moontlikhede. Hy het sy steun uitgespreek vir Nasa se doelwitte om ruimtemanne teen 2020 weer maan toe te stuur en om kort daarna mense na Mars te stuur. “Die maan is ’n goeie plek om te begin, want dit is naby aan die aarde en dis relatief maklik om daar uit te kom.” “Die maan sal as ’n basis kan dien vir reise na elders in ons sonnestelsel,” het Hawking gesê. Mars sal volgens hom die “ooglopende volgende teiken” wees. Dit het ’n groot voorraad bevrore water en die aanloklike moontlikheid dat daar eens op ’n tyd lewe was. Een Nasa-studie het voorgestel dat ’n menslike landing op Mars teen die vroeë 2030’s moontlik kan wees. Hawking glo egter Nasa moet hul Mars-poging versnel. “Die doelwitte van ’n basis op die maan teen 2020 en van ’n bemande landing op Mars teen 2025 sal die ruimteprogram opnuut laat opvlam. “Dit sal aan die ruimteprogram ’n doelgerigte gevoel verleen op dieselfde manier wat pres. John F. Kennedy se maanlanding-teiken in die 1960’s die ruimteprogram aangevuur het.” Hawking het hom ook uitgespreek ten gunste daarvan om mense, eerder as robotte, tydens ontdekkingsreise in die ruimte te gebruik. Hy glo die mensdom kan aardse probleme soos klimaatsverandering beveg en steeds oorgenoeg hulpbronne oorhou om die ruimte te begin koloniseer. Hy glo die wêreld kan bekostig om 0,25% van sy totale BBP aan ruimtekolonisasie te bestee. “Is ons toekoms dan nie ’n kwart van ’n persent werd nie?” – Fanie van Rooyen
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|