Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Afrika-lande steun bou van wêreld se grootste radioteleskoop in SA
Apr 24 2008 09:21:09:490PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
'n Grafiese voorstelling van die Square Kilometre Array (SKA)-teleskoop as dit op die voorgestelde terrein van die Suid-Afrikaanse SKA-bod, naby Carnarvon in die Noord-Kaap gebou gaan word. Dié teleskoop sal die grootste radioteleskoop ter wêreld wees en na raming teen 2021 voltooi wees. Foto: SKA
Fanie van Rooyen


Ná afloop van ’n twee dae lange konferensie om die vordering te bespreek van Suid-Afrika se bod om die wêreld se grootste radioteleskoop tot nog toe in die Karoo te laat bou, het verskeie Afrika-lande eergister hul ondersteuning tot dié poging verleen.

Dié Afrika-lande, waarin daar moontlike “substasies” tot die sogenaamde Square Kilometre Array (SKA)-teleskoop opgerig sal word, sluit in Namibië, Mosambiek, Botswana, Zambië, Kenia, Ghana, asook Madagaskar en Mauritius.

Slegs Suid-Afrika en Australië bly oor op die kortlys om gasheer te speel tot die SKA-teleskoop – wat ’n versameling van sowat 3 000 skottels op ’n area van 1 km² sal behels.

Indien Suid-Afrika dié bod wen, sal die SKA naby die klein Karoo-dorpie Carnarvon, noordwes van Victoria-Wes, opgerig word.

“ ’n Politikus van Australië het al opgemerk dat om die SKA-bod te wen, net soveel vir die betrokke land sal beteken soos om die bod vir die Olimpiese Spele 50 keer in ’n ry te wen,” het me. Anita Loots, projekbestuurder van die Karoo Array (MeerKAT)-teleskoop, gesê.

“Dit is dus vir ons belangrik om al die ondersteuning te kry wat ons moontlik kan. Om die SKA-bod te wen, sal vir Suid-Afrika ontsettende groei beteken in terme van tegnologiese vordering, die ontwikkeling van vaardige menslike kapitaal en die ekonomie. Daarom is ons baie bly die betrokke Afrika-lande het ingestem om met ons saam te werk.”

Dr. Bernie Fanaroff, SKA Suid-Afrika se projekleier, het gister gesê die betrokke lande het verder ingestem om moontlike SKA-substasie-terreine solank, onder meer teen die inmenging van radiofrekwensies, te beskerm.

“As ons die SKA-bod wen, sal dit vir die hele Afrika, en ook vir dié lande, baie beteken.

“Die meeste lande in Afrika beskik tans oor hulpbrongebaseerde ekonomieë. Die SKA-teleskoop sal Suid-Afrika en omliggende lande in staat stel om na ’n kennisgebaseerde ekonomie om te skakel – soos wat die Westerse lande besig is om te doen,” het Fanaroff gesê.

As deel van dié bod gaan die MeerKAT-teleskoop in die Karoo gebou word om Suid-Afrika se bekwaamheid te demonstreer.

Dié teleskoop sal tot en met die voltooiing van die SKA die wêreld se grootste radioteleskoop wees.

“Ons vorder baie goed met die MeerKAT – die eerste skottels sal na raming in Oktober vanjaar geïnstalleer word.

“Dit is opwindende tye,” het Fanaroff gesê.

“Met SKA sal ons terug in tyd kan sien tot en met die oerknal en die ontstaan van die heelal. Die SKA sal in een week meer data insamel as wat die mensdom in sy ganse bestaan sover bymekaargemaak het.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |