Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Wetenskaplikes vind donker materie in Italië
Deeltjies van onsigbare “donker materie” is volgens ’n groep Italiaanse en Chinese wetenskaplikes diep in ’n berg in Italië ontdek. Ander wetenskaplikes bly egter skepties hieroor nadat ander eksperimente hoegenaamd géén donker materie kon opspoor nie. New Scientist berig op sy webtuiste (www.newscientist.com) die Dark Matter Collaboration (Dama) het onlangs by ’n werksessie in Venesië, Italië, dié bevindinge bekend gemaak ná afloop van die vier jaar lange tweede fase van sy eksperiment. Wetenskaplikes van Dama het reeds in 2003 aangekondig dat hulle donker materie “waargeneem” het, maar ánder wetenskaplikes het geglo dit was bloot die effek van ’n toevallige gelukskoot in hul statistieke. Dié nuwe bewyse is nou egter sterker. “Ons is redelik seker dat dié sein nie ’n statistiese gelukskoot is nie. Wat dít beteken, is dat dit ’n ánder soort materie moet wees,” het dr. Frans Halzen, ’n astrodeeltjie-fisikus aan die Wisconsin-Madison-universiteit in die VSA, gesê. Sterrekundiges glo ons Melkweg is verstrooi met donker materie-deeltjies – ’n onsigbare, ongeïdentifiseerde stof wat na raming sowat 90% van die heelal se materie beslaan. Tot dusver kon die bestaan van donker materie in die ruimte slegs vasgestel word deur die gravitasie-aantrekking daarvan op sterre en sterrestelsels. Die Dama-eksperiment het dit ten doel om meer regstreeks te soek vir donker materie wat die aarde sou tref. Dié eksperiment vind plaas in ’n ondergrondse laboratorium wat 1,4 km diep onder rotse in die Gran Sasso-gebergte in Italië geleë is. Die Dama-span is op soek na ligflitse wat deur ’n natriumjodied-opsporingstoestel opgevang kan word. Die meeste van dié ligflitse is afkomstig van “agtergrondgeraas”, soos radioaktiwiteit in die rotse. Sómmige van die flitse kan egter ook deur donker materie veroorsaak word. Indien wel, verwag wetenskaplikes om seisoenale variasies in die sein waar te neem omdat die aarde se spoed deur die Melkweg verander na gelang van die rigting waarin die aarde beweeg. Dít is presies wat die Dama-span in 2003 waargeneem het tydens die eerste fase van sy eksperiment, wat sewe jaar lank met ’n 100 kg-opsporingstoestel aangehou het. Dié resultate is egter met hewige skeptisisme begroet. Die Dama-span het toe sy soektog met ’n groter 250 kg-opsporingstoestel hervat en glo nou dat dié nuwe eksperiment ’n seisoenale variasie bevestig. New Scientist skryf dié bevinding is volgens Dama van groot belang. “Die kwessie van donker materie is belangrik genoeg dat ons hieraan aandag moet gee. “Ons moet dit nie ignoreer nie,” het Halzen gesê. – Fanie van Rooyen
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|