Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Internet-slawe 'ontprop' nou om lus te stop
Apr 27 2008 07:20:22:717PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Los Angeles. – Al hoe meer tegnologie-bleeksiele, internetverslaafdes, Blackberry-beheptes en kompulsiewe IM’ers vat hul lewens terug deur af te skakel – al is dit net vir een dag.

Toe me. Sharon Sarmiento in haar drome begin blog en denkbeeldige SMS’e gehoor het, het sy besef sy moet iets doen.

Me. Ariel Meadow Stallings is deur al die verlore ure op die internet en die gevoel dat dele van haar lewe verdwyn het, tot aksie genoop.

“Ek dink ’n deel van ons besef dat dit te ver gegaan het. Ons is te ‘ingeprop’,” het Sarmiento, ’n professionele blogger en eienaar van ’n virtuele onderneming in Alabama, gesê.

“Dit is asof jou kop in ’n miljoen denkrigtings gelyk ingaan. Deur vir ’n dag jouself van tegnologie te verwyder, dwing jy jouself dus om in die regte wêreld te leef,” meen sy.

Party noem dit die “sekulêre Sabbat”, ander weer die “uitgepropte dag”. In Quebec, Kanada, is mnre. Denis Bystrove en Ashutosh Rajektar, rekenaarontwikkelaars, besig om ’n wêreldwye “Skakel af-dag” vir Mei te organiseer.

Stallings (33), ’n Seattle-skrywer, blogger en deeltydse bemarkingsbestuurder vir Microsoft, het ’n Nuwejaarsvoorneme gemaak om hierdie jaar “52 uitgepropte aande” te hê.

“Ek is versot op tegnologie. Maar ek het besef dis ’n probleem toe ek gaan sit om gou my e-pos te lees en ses uur later ‘wakker word’, besig om video’s of baba-hondjies op YouTube te kyk. Ek het probeer onthou wat ek die laaste twee uur gedoen het en kon nie. Ek vergelyk dit met wanneer jy niks kan onthou nie omdat jy te veel gedrink het,” het sy gesê.

Stallings het begin deur haar rekenaar, e-pos, selfoon en TV elke Woensdagaand af te skakel. Aanvanklik het dit met emosionele onttrekkingsimptome gepaard gegaan.

Ironies genoeg, het sy haar blog (http://52nightsunplugged.ning.com) gebruik om die nuus te versprei en duisende mense bereik.

“Ek het besef dat dit ’n internasionale probleem is, nie net ’n Amerikaanse een nie,” het Stallings gesê.

Dr. Dave Greenfield, wat die Sentrum vir Internetgedrag in Connecticut bestuur, het gesê die meeste mense het gedink dis ’n grap toe hy in 1999 in sy boek, Virtual addiction, gewaarsku het teen kompulsiewe internetgebruik.

Hy meen dis vreemd vir enige verslaafde, hetsy aan dwelms, alkohol, dobbel of tegnologie, om die soort inisiatief wat die ontpropte beweging aan die dag lê, te neem.

Sarmiento, wat die blog eSoup (http://www.esoupblog.com/) skryf, sê sy het weer begin skilder en aan vrywilligerprojekte begin deelneem sedert sy twee maande gelede haar “digitale rusdag” ingestel het. Nou ontprop sy selfs vir ’n naweek op ’n slag.

“Dikwels het jy niks om te wys vir jou aanlyn-ure nie, behalwe ’n krom rug en seer agterent,” sê sy. – Reuters


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |