Melville mak gemaak
Mense van Melville veg terug om dié Jhb-buurt saans weer leefbaar te maak sy inwoners.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


GTA IV: Waaroor al die bohaai?
May 05 2008 07:06:07:340AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Edward-John Bottomley


Dit reën in Liberty City.

Vannuit die taxi se venster sien Nico Bellic, ’n Oos-Europese immigrant in die VSA, hoe die stad se inwoners onder hul sambrele skuil op pad na restaurante en kroeë en bordele.

Dáár, langs die pandjieswinkel, waar die bedelaars nou om hul konkas staan en die koue probeer afweer, het hy minder as ’n dag gelede sowat 15 mense koelbloedig vermoor.

Honderde kilogram plofstof, netjies agter in ’n gesteelde trok gepak, het met die druk van die knoppie ’n hele stadblok verwoes.

Bellic is $1 000 betaal vir die daad. Dis maar hoe dit gaan in Liberty City.

Dié stad bestaan egter nie. Dit is ’n fiksionele weergawe van New York en vorm die agtergrond vir die nuutste aflewering in die omstrede Grand Theft Auto (GTA)-videospeletjiereeks, GTA IV.

Dit het verlede week op winkelrakke verskyn. Die reeks is bekend vir sy gewelddadigheid en satiriese humor.

Die videospeletjiebedryf verwag dat GTA IV in sy eerste week van bekendstelling op Microsoft se Xbox 360 en Sony se Playstation 3 sowat 6 miljoen eenhede sal verkoop en sowat $400 miljoen sal verdien.

Spelers kan voertuie kaap, bordele besoek, omstanders vermoor en polisielede aanrand.

Net as hulle wil, natuurlik.

Geen ander reeks videospeletjies lok soveel reaksie uit as GTA nie. Die geweld en volwasse inhoud daarvan word luid deur politici en besorgde ouers gekritiseer.

Ten spyte hiervan, of dalk ten danke daaraan, verkoop die GTA-reeks soos soetkoek.

Aanhangers van GTA IV, wat deur Rockstar Studios geskep is, wonder egter waaroor die bohaai gaan. In die VSA het dit ’n ouderdomsbeperking van 17. Vir Suid-Afrika is dit 18.

“Die storie bevat volwasse inhoud en is vir dié mark bestem,” sê mnr. John Press, produkbestuur vir Xbox by Microsoft.

Net soos ’n bloedige, volwasse fliek oor misdaad is GTA IV nie vir 10-jariges bedoel nie.

Die speletjie draai om Bellic en sy strewe na die Amerikaanse droom. Dinge draai egter nie so goed uit nie en raak hy betrokke by die donker onderwêreld van georganiseerde misdaad.

Bedryfstydskrifte en webwerwe het die speletjie eenparig as ’n meesterstuk geprys en dit vergelyk met flieks soos The Godfather en Taxi Driver.

Die GTA-reeks gee aan die speler ’n stad as platform waarin hulle kan doen net wat hulle wil. As hulle wil voertuie kaap, dan kan hulle. As hulle die pretpark wil besoek, of bloot na die sonsondergang wil kyk, is dit ook reg. Dit hang alles van die speler af.

In ’n onlangse rubriek in die Britse koerant The Guardian, skryf Richard Bartle “meer as die helfte van die Britse bevolking het met rekenaarspeletjies groot geword. Hulle is nie verslaaf nie en is nie psigopatiese moordenaars nie. En hulle voel beledig deur onnosel politici of joernaliste wat impliseer dat hulle wél verslaaf of psigopatiese moordenaars is.”

Bartle is die skepper van MUD, een van die eerste aanlyn-videospeletjies.

Die gemiddelde ouderdom van spelers wissel tussen 29 en 33, sê hy. Speletjies is nie nét vir kinders nie, al bestaan só ’n persepsie onder die ouer garde.

“Spelers het stemreg. Spelers koop koerante. Hulle sal nie vir politici stem, of koerante koop, wat hul vermaak met oningeligte uitsprake afkraak nie.”

“Ons het gewen,” sê hy. “Raak maar daaraan gewoond.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |