Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sien die heelal met die klik van ’n muis
Seattle. – Enige aanhanger van Star trek of Star wars sal weet dat dit nie maklik is om die heelal en die buitenste ruimte te verken nie. Microsoft poog egter met ’n nuwe toepassingsprogram om so ’n verkenningstog so maklik te maak soos om jou rekenaar aan te skakel. Die wêreld se grootste sagtewarevervaardiger het Maandag dié gratis program, genaamd WorldWide Telescope, bekend gestel. WorldWide Telescope (WWT), wat gratis by www.worldwidetelescope.org afgelaai kan word, stel enigiemand – van kinders en amateurs tot professors in sterrekunde – in staat om die heelal se sonnestelsels, sterrestelsels en verafgeleë planete gerieflik te verken. Die WWT werk deur 12 teragrepe se beelde en data – gelykstaande aan 2,6 miljard bladsye teks – van bronne soos die Hubble-ruimteteleskoop, die Chandra X-Ray Observatory Center en die Spitzer-ruimteteleskoop saam te voeg. Die uitvloeisel is ’n ondervinding soortgelyk aan ’n rekenaarspeletjie wat gebruikers toelaat om in en uit verafgeleë sterrestelsels te beweeg en selfs seldsame ruimtestoftonele in “ongelooflike helderheid” te aanskou. Microsoft het gesê dié program word gratis aan die publiek beskikbaar gestel as ’n huldeblyk aan mnr. Jim Gray, ’n navorser van Microsoft wat verlede jaar aan die kus van Kalifornië op ’n seilboot vermis geraak het. Gray het saam met sterrekundiges aan projekte gewerk om die enorme hoeveelhede beelde en inligting te organiseer wat deur satelliete ingesamel word. Microsoft het gesê die doelwit van die WWT-inisiatief is om kinders en jongmense se belangstelling in die ruimte, ruimtereise en sterrekunde aan te wakker. “My idee van sukses sal wees as die WWT die manier kan verander waarop mense die heelal sien – en dat kinders oor ’n vlak van kennis oor die ruimte sal kan beskik wat tot nog toe ongekend was,” het mnr. Curtis Wong, bestuurder van Microsoft se Next Media Research Group, gesê. “Ek glo dit sal mense help om die buitenste ruimte te kontekstualiseer.” – Reuters
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|