Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Oerknal-teorie nie strydig met geloof in God, sê kenner van Vatikaan
Vatikaanstad (Rome). – Die Vatikaan se hoofsterrekundige het vandeesweek in ’n onderhoud gesê daar behoort geen konflik te wees tussen ’n geloof in God en ’n geloof in die moontlikheid van intelligente lewe op ander planete nie. Die “oerknal-teorie” – wat beweer dat alles in die heelal vanuit digte materie miljarde jare gelede ontstaan het – is volgens hom, as sterrekundige, die “waarskynlikste verduideliking” vir die ontstaan van die heelal. So het vader José Gabriel Funes, ’n 45-jarige priester aan die hoof van die Vatikaanse observatorium en ’n wetenskaplike raadgewer tot pous Benedictus XVI, in ’n onderhoud met ’n Vatikaanse koerant gesê. Dít is egter volgens hom óók nie strydig met die geloof dat God die Skepper is nie. “God ís die Skepper, maar daar is ’n logiese, doelbewuste sin tot die skepping. “Ons is nie die kinders van ’n kosmiese ongeluk nie,” het hy gesê. “Ons is die kinders van ’n goeie Vader wat ’n projek van liefde vir ons bestem het.” Dié priester-sterrekundige het selfs gesê dat lewe op ander planete evolusionêr verder ontwikkeld kan wees as mense – en dat hulle moontlik ’n “nouer vriendskaplike verhouding met God” sal kan geniet. “Na my mening is daar ongetwyfeld ’n moontlikheid dat intelligente lewe op ander planete kan bestaan,” het Funes gesê. “Hoe kan ons die moontlikheid uitsluit dat lewe ook elders ontwikkel het?” het Funes gevra. Die groot aantal sterrestelsels en planete in die heelal maak dit volgens hom baie moontlik dat lewe in die buitenste ruimte kan bestaan. Die koerant het Funes gevra of hy van wesens soortgelyk aan mense praat en of hy verwys na wesens wat selfs meer gevorderd is. “In ’n heelal so groot soos die een waarin ons onsself bevind, kan jy nie die hipotese van meer ontwikkelde, gevorderde wesens elders in die hemelruim uitsluit nie,” het hy geantwoord. In dié onderhoud, getiteld “The extraterrestrial is my brother”, het Funes gesê hy sien geen teenstrydigheid tussen ’n geloof in ruimtewesens en ’n geloof in God nie. “Net soos wat daar ’n verskeidenheid lewende organismes op aarde bestaan, kan daar ook ander wesens, selfs intelligente wesens, wat óók deur God geskep is, in die heelal bestaan. “Dié moontlikheid is nie in teenstelling met ons geloof nie, want ’n mens kan nie grense op God se kreatiewe vryheid plaas nie,” het hy gesê. “Hoekom kan ons nie praat van ons ‘buiteaardse broers en susters’ nie? “Lewe op ander planete sal tog steeds deel wees van God se skepping.” Funes het die moontlikheid voorgestel dat die mensdom in der werklikheid die “verlore skape” van God se skepping kan wees. “Daar kán ander lewende wesens bestaan wat in volle vriendskap met hul Skepper gebly het en nie in die sonde geval het nie,” het hy gesê. – Reuters
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|