Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Kobras slaan toe op DKD
Die omstrede toekenning van miljoene rand se tronktenders aan één Gautengse maatskappy word nou deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek. Beeld het in Maart onthul dat tenders van ongeveer R1 miljard binne een jaar deur die departement van korrektiewe dienste (DKD) aan die Bosasa-groep van maatskappye, wat bande het met die nasionale tronkhoof, toegeken is. Die tenders het gewissel van spysenieringsdienste met kringtelevisie (CCTV) in tronkkombuise tot duur TV’s in ál Suid-Afrika se gevangenisse se gemeenskaplike selle. Mnr. Willie Hofmeyr, hoof van die SOE (die Kobras), het gister in Pretoria aangekondig dat hulle ondersoeke na die DKD voortaan op “reuse-kontrakte” sal fokus. Hofmeyr het Bosasa nie op die naam genoem nie, maar Beeld verneem betroubaar dat kontrakte wat aan Sondolo IT en Bosasa Operations toegeken is, deel vorm van die Kobras se ondersoek. ’n Beeld-ondersoek het bevind dat mnr. Tony Perry, ’n Bosasa-werknemer, in Februarie verlede jaar ’n private maatskappy vir komm. Linda Mti, die tronkhoof, geregistreer het. Mti is die enigste direkteur en Perry word as ’n “amptenaar’’ op die registrateur van maatskappye se rekords aangedui. Mti het ontken dat ’n konflik van belange bestaan en gesê hy het bloot ’n afgetrede rekenmeester (Perry) gebruik om sy maatskappy, wat glo dormant is, vir hom te registreer. Ná Beeld se onthullings het die Staatsdienskommissie (SDK) inligting van mnr. Ngconde Balfour, minister van korrektiewe dienste, oor Mti se private belange aangevra. Me. Geraldine Fraser-Moleketi, minister van staatsdiens en administrasie, het onlangs in antwoord op ’n skriftelike vraag van die DA in die parlement bevestig dat die SDK steeds besig is met hul ondersoek na Mti se belange en ook ander wetstoepassingsowerhede betrek het. Die ouditeur-generaal het ook onlangs dié kontrakte as ’n punt van kommer uitgewys. Nou takel die Kobras die tenderproses. Sondolo IT, wat 50% besit word deur Bosasa-maatskappye, het verlede jaar twee reuse-kontrakte by die DKD gekry. Die eerste projek, ’n toegangsbeheer-kontrak ter waarde van R236 miljoen, is einde Augustus voltooi. Sondolo IT is ook tans besig met die installasie van ongeveer 6 000 TV’s in ál die land se tronke. Hierdie kontrak is ongeveer R224 miljoen werd. ’n Derde tender, ter waarde van R486,9 miljoen, vir die oprigting van nuwe veiligheidsheinings by tronke, is deur Phezulu Fencing aan Sondolo IT gegee om te bestuur. Bosasa Operations het sedert 2004 kombuistenders van meer as R300 miljoen by die DKD gekry. Hofmeyr het gister voorbeelde uitgelig van suksesvolle ondersoeke wat die Kobras tydens die 2005-’06-boekjaar na die DKD gedoen het. Die departement het onder meer ’n hotel teen R6,6 miljoen gehuur om opleiding te doen, maar die geriewe nooit gebruik nie. Strafregtelike optrede is voorts teen 289 DKD-amptenare gedoen en 426 amptenare is dissiplinêr verhoor. Die DKD het die afgelope boekjaar R10 miljoen aan die SOE gegee om korrupsie in eie geledere te ondersoek.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|