Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Drie van presidensie sien program vooraf
Dr. Snuki Zikalala het drie werknemers van die pre- sidensie na ’n ondersoekende insetsel in die SAUK TV-program Special assignment laat kyk vóórdat dit uitgesaai is. En Zikalala, hoof van nuus en aktualiteit by die SAUK, het dít gedoen sonder om Jacques Pauw, uitvoerende regisseur van Special assignment, te konsulteer of in te lig. Dít is een van die onthullings in die Sisulu-verslag oor ’n beweerde swartlys van kommentators en verwante klagtes by die openbare uitsaaier wat die naweek op die Mail & Guardian (M&G) se webwerf gepubliseer is. Die SAUK weier om die 79-bladsy lange verslag van Zwelakhe Sisulu, joernalis en voormalige uitvoerende hoof van die SAUK, en adv. Gilbert Marcus, SC, bekend te maak en het Saterdagnag vergeefs probeer om ’n hofbevel teen die M&G te kry. Pauw het nie voor Sisulu en Marcus getuig oor die verbod op die gebruik van sekere politieke kommentators nie, maar oor ’n voorval verlede jaar toe hy Zikalala betrap het dat hy sonder sy (Pauw se) medewete ’n insetsel aan lede van die presidensie gewys het. Die insetsel, oor die veiligheid by die Johannesburgse Lughawe, is op 19 Julie 2005 sonder veranderings gebeeldsend. Luidens die Sisulu-verslag het Zikalala níé in sy getuienis ontken dat hy ’n kopie van dié aand se program aan drie werknemers van die presidensie gewys het nie. Hy was wel woedend dat Pauw op hom “gespioeneer” het. “Toe hy (Pauw) twee dae later met dr. Zikalala vergader het, het dr. Zikalala geweier om te bevestig of te ontken dat die dokumentêr aan lede van die presidensie gewys is. “Sy primêre besorgdheid was om Pauw daarvan te beskuldig dat hy op hom gespioeneer het (deur die name van Zikalala se besoekers te bekom) en hom te dreig met ’n tugverhoor,” lui die verslag. Volgens Sisulu en Marcus was dit aan hulle duidelik dat Zikalala meer bekommerd is oor Pauw se “onbehoorlike spioenasie” op hom as oor die “onderliggende kwessie”. Volgens die kommissie dui dié voorval daarop dat Zikalala bereid was om inmenging van buite toe te laat. Die program ter sprake het op veiligheidsgebreke by die lughawe gewys en onder meer kritiek van mnr. Paul O’Sullivan, voormalige veiligheidshoof van die Lughawensmaatskappy van Suid-Africa (Acsa), bevat. ’n Joernalis van Special assignment het teen R500 ’n toegangskaart by ’n lughawepersoneellid gekoop wat hom toegang tot verbode areas gegee het. Mnr. Mukoni Ratshitanga, pres. Thabo Mbeki se woordvoerder, het gister gesê hy is nie bewus van enigeen in die presidensie wat met Zikalala vergader het nie. “Dit is baie moeilik om kommentaar te lewer as jy nie weet wie die mense is waarna verwys word nie,” het Ratshitanga gesê. “Maar as só iets plaasgevind het, weet ek nie onder watter omstandighede nie. Ek weet nie of dr. Zikalala dit na ons (kantore) sou gebring het, of ons na die SAUK sou gaan, of dr. Zikalala dit na ons huise sou bring en of ons hom by ’n fliekteater sou ontmoet nie.” Pauw wou nie kommentaar lewer nie en het Beeld na die Sisulu-verslag verwys.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|