Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Spoor van tender HK 2/2005 wys konkelry
Mens sou seker van ’n IT-maatskappy, wat binne een jaar byna ’n halfmiljardrand se staatstenders gekry het, kon verwag om ’n webwerf te hê. Nie Sondolo IT nie. Dié maatskappy, wat ná ’n vlaag ontsnappings deur die DKD gekontrakteer is om veiligheid by die land se oorbevolkte tronke op te skerp, lieg op sy briefhoof. Want www.sondolo.com bestaan nie. Moet ook nie probeer om vir mnr. Gavin Watson, uitvoerende hoof van die Bosasa-groep waarvan Sondolo IT deel is, ’n e-pos te stuur nie. Hy gebruik nie dié gerief nie, deel sy sekretaresse jou mee. “Een van die grootste tenders in die geskiedenis van die veiligheidsbedryf is toegeken aan ’n non-player,” som ’n ingeligte oor dié bedryf dit op. Hy verwys na tender HK 2/2005, wat op 4 Februarie 2005 in die staat se tenderbulletin geadverteer is. “Verskaffing, aflewering, installering, opdraggewing, ondersteuning en onderhouding van ’n omvattende toegangsbeheer-en-liggaamskanderingstelsel met kringtelevisiedekking van die DKD se personeel en gevangenes, by 66 maksimumveiligheidsgeriewe of sentrums van uitnemendheid.” Die IT-bedryf het sy lippe afgelek – dié was ’n gróte wat vir lánk baie werk sou skep. Groot name soos Dimension Data, JFE, CEB Wananchi, Pinnacle Technology Holdings en AST het getender, maar op 29 April 2005 is die kontrak teen R237 miljoen (vier jaar onderhoud ingesluit) toegeken aan die onbekende Sondolo IT. Ná ’n ondersoek van ses maande onthul Beeld en Die Burger vandag dat Sondolo IT se naam oor dié kontrak geskryf was nog vóórdat die tender amptelik geadverteer is. Nadat die ondersoekspan vroeër vanjaar onthul het komm. Linda Mti, die nasionale tronkhoof, het bande met die Bosasa-groep van maatskappye, het die DKD sy bes probeer om Mti en sy departement se tenderprosesse te verdedig. Die DKD se woordvoerders het, dikwels maande nadat vrae aan hulle gerig is, Beeld beskuldig van verskuilde agendas en gesê die koerant voer ’n emosionele stryd teen Mti en die departement. Tydens ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir korrektiewe dienste het min. Ngconde Balfour LP’s selfs gewaarsku om nie gemanipuleer te word deur joernaliste se agendas nie, maar die feite vas te stel. Op sy beurt het Sondolo IT die oorspronklike verbintenis tussen dié maatskappy en Mti probeer verklein en via sy prokureurs die koerant daarvan beskuldig dat hy deur “onbekende partye” aangehits word. ’n Dokument in Beeld se besit bevestig egter die vermoedens van onsuksesvolle tenderaars X dat Sondolo IT ’n “binnebaan” gehad het toe hierdie multimiljoenrand-tender toegeken is. ))) Beeld het op 31 Maart begin om die verhouding tussen die DKD en die Bosasa-groep te ontrafel toe daar berig is oor Mti se private maatskappy wat vir hom deur ’n Bosasa-werknemer geregistreer is. Lianorah Investment Consultancy is op 14 Februarie 2005 deur mnr. Tony Perry vir die tronkhoof geregistreer. Perry is die maatskappysekretaris van firmas in die Bosasa-groep en ’n indirekte aandeelhouer van Sondolo IT. Hoewel Beeld nie bewus is daarvan dat Mti betrokke was by die tenderkonkelry nie, kan onthul word dat sy verbintenis met die Bosasa-groep veel dieper strek as waaroor oorspronklik berig is. In die 1980’s, toe Mti bevelvoerder was van die ANC se gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), was van die mense wat aan hom gerapporteer het die legendariese Watson-broers van Port Elizabeth. In 1997 het die Australiese joernalis Kristin Williamson ’n boek oor die Watson-broers geskryf. Hoewel Brothers to us ook kritiek op hul lewe bevat, is dit grotendeels ’n heldeverering van vier wit broers wat, gedryf deur hul Christenskap, opgestaan het teen die apartheidsregime. Hulle het Springbokrugby geboikot en finansiële verliese gely weens hul weiering om deel te wees van ’n stelsel wat gebaseer was op rasse-segregasie. Williamson belig ook hulle rol in die ANC se ondergrondse struggle. Die Watsons se familiebesigheid in Port Elizabeth is gebruik as bymekaarkomplek vir kaders en hulle finansiële bydraes tot die ANC se koffers was beduidend. Later is Valence en Ronnie Watson gewerf as lede van MK se intelligensie. Gavin en Cheeky het die ANC gehelp om sport, sake en die kerk te verpolitiseer. Dit is hier waar die Watsons se paaie gekruis het met dié van komm. Linda “Richman” Mti. Tot 1991 was Mti die bevelvoerder van MK. In dieselfde jaar is hy aangewys as die ANC se voorsitter in dié party se bakermat, die Oos-Kaap. In 1994 is hy bevorder tot ANC-LP en beklee die posisie van voorsitter van die portefeuljekomitee vir veiligheid en sekuriteit. Twee jaar later word Mti hoof van die Nasionale Intelligensiekoördineringskomitee (Nikok) en sedert Augustus 2001, nadat dr. Khulekani Sithole onder ’n wolk van finansiële wanbestuur bedank het, is Mti die nasionale tronkhoof. ))) Verskeie betroubare bronne het die afgelope ses maande aan Beeld en Die Burger bevestig dat Bosasa lánk voordat tender HK 2/2005 op 4 Februarie 2005 geadverteer is, reeds daarvan geweet het. En hoewel Bosasa dit steeds ontken, vertel ’n dokument in Beeld se besit dieselfde verhaal. ’n Forensiese dokumente-ondersoek, wat in opdrag van Beeld gedoen is, het elektronies die oorspronklike datum waarop dié dokument geskep is, bepaal en die bewerings van tenderkonkelry bevestig. Op 17 Desember 2004, om 16:26, is ’n dokument getiteld “Technical specifications misc complete” deur gebruiker “Corrieb” op ’n Bosasa-rekenaar geskep. Dié lêer is later gestoor deur “Johan”. Hierdie dokument bewys dat die Bosasa-groep nie net geweet het tender HK 2/2005 kom nie, maar ook groot dele van die tegniese spesifikasies vír die DKD geskryf het. Beeld het vasgestel “Corrieb” verwys na mnr. Corrie Botes, Bosasa se nakomingsbestuurder, en “Johan” na mnr. Johan Helmand, voormalige hoof van tegnologie by die groep (waaronder Sondolo IT). Beeld het prof. Basie von Solms, hoof van die Universiteit van Johannesburg se akademie vir inligtingstegnologie, gevra om die tegniese spesifikasies van die amptelike tenderdokument met die Bosasa-dokument te vergelyk. Volgens Von Solms kom ongeveer 11 bladsye (33%) van die tegniese spesifikasies “direk of baie naby verwant” uit die Bo- sasa-dokument. Die Bosasa-dokument is getiteld “Security road barrier and boom combination” en bevat tegniese spesifikasies vir ’n omvattende veililgheidstelsel. Groot dele daarvan, soos die spesifikasies vir digitale video-opnemers (DVR’s), is woordeliks in die amptelike tender gedupliseer. Hier en daar is sinskonstruksies verander en woorde bygevoeg of uitgelaat. Op 10 Februarie 2005 – vier dae nadat tender HK 2/2005 geadverteer is – is Sondolo IT amptelik by die registrateur van maatskappye geregistreer. Op 29 April 2005, toe die tender aan Sondolo IT toegeken is, was die maatskappy skaars meer as twee maande oud en het sy karige personeel bestaan uit werknemers van ander Bosasa-maatskappye. Eers nadat Sondolo IT die tender gewen het, is poste geadverteer en personeel van buite aangestel. Beeld verneem Helmand, wat die tegnologie vir Bosasa se spysenieringstenders van 2004 ontwerp het, was oorspronklik aan hoof van die toegangsbeheerstelsels, maar is in Junie 2005 vervang deur mnr. Gordon Howes. Daar was van vroeg af probleme met die uitvoering van die kontrak. ) In Julie het Helmand, Bosasa se “tegno-ghoeroe”, bedank. Sy posisie by die groep is gevul deur mnr. Retief van der Merwe, ’n oud-polisielid, wat volgens ingeligte bronne “niks van tegnologie af geweet het nie”. Bosasa het gister gesê hy het “absolute vertroue” in Van der Merwe se vermoëns. ) In September is Howes ná ’n dissiplinêre verhoor ontslaan. Sy saak teen Sondolo IT is hangende voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). ) In November het Complete Security Services (CSS), wat saam met Vikela Security deur Sondolo IT as subkontrakteur vir die installering aangestel is, as subkontrakteur “bedank”. Volgens mnr. Craig Henderson, hoof van CSS, het die verhouding met Sondolo IT “ná vele onsmaaklike insidente” verbrokkel, maar Bosasa sê CSS se werk was “substandaard”. Die installering moes teen Maart vanjaar by ál 66 tronke klaar wees, maar die projek is eers in Augustus aan Balfour oorhandig. By die amptelike oorhandigingseremonie in Pretoria het Balfour gesê ’n nuwe era vir veiligheid in tronke het aangebreek. “Vir ’n lang tyd het ons gevangenisse verskeie dade rakende die verbreking van beleid, nalatigheid en korrupsie – om ’n paar te noem – ervaar, wat onder die neuse van ons amptenare plaasgevind het. Dié nalatenskap is na aan sy einde.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|