Video: Spikkels bring Beeld
Plof! Uit die bed, deur die veiligheidshek, af met die trappe tot by die motorhuisdeur...
Beeld
Matriek-fotokompetisie
Kyk na die eerste matriekafskeid-foto's.
Stuur jou foto na jip@beeld.com.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Skryf tender self en kry kontrak!
Nov 17 2006 11:48:15:253AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Adriaan Basson


’N Maatskappy wat bande het met komm. Linda Mti, die uittredende nasionale tronkhoof, het ’n groot deel van ’n multimiljoenrand-veiligheidstender wat die departement van korrektiewe dienste (DKD) aan hom toegeken het, self geskryf.

Sondolo IT, wat deel is van die Bo- sasa-groep van maatskappye, het verlede jaar een van die grootste kontrakte in die geskiedenis van dié sektor (R237 miljoen) gekry vir die installasie en instandhouding van moderne toegangsbeheerstelsels by 66 tronke landwyd.

’n Ondersoek deur Beeld en Die Burger kan vandag onthul:

  • Werknemers in die Bosasa-groep het lánk voordat die tender op 4 Februarie 2005 geadverteer, is reeds daarvan geweet;

  • Groot dele van die tender se tegniese spesifikasies is in Desember 2004 op Bosasa-rekenaars geskryf;

  • Mti en mnr. Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, ken mekaar reeds sedert die 1980’s toe Mti ’n bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe (MK), die ANC se gewapende vleuel, en voorsitter van die Oos-Kaapse ANC was; en

  • Mnr. Patrick Gillingham, finansiële hoof van die DKD, word dikwels gesien by Bosasa se hoofkantoor in Krugersdorp.

    Die DKD het gisteraand ontken dat hy “enige eksterne organisasie” betrek het by die skryf van die tenderdokument.

    Volgens mnr. Manelisi Wolela, DKD-woordvoerder, het ’n tegniese komitee die tenderspesifikasies opgestel deur “ou spesifikasies” met “nuwe tegnologie” te verbeter.

    Mnr. Papa Leshabane, woordvoerder van die Bosasa-groep, het ontken dat dié groep met sy kliënte “konsulteer” oor amptelike tenderdokumente of dat Bosasa spesiale behandeling van die DKD ontvang het.

    Oor Gillingham se besoeke sê Le-shabane ’n aantal senior DKD-amptenare, asook senior regeringslui, besoek Bosasa “van tyd tot tyd”. Die DKD-werknemers besoek Bosasa glo vir inspeksies van geriewe en vir opleidings- en ontwikkelingsdoeleindes.

    Volgens Wolela het Gillingham Bo-sasa laas in Oktober 2004 as deel van ’n “afvaardiging” besoek om opleiding oor spysenieringsdienste te ontvang.

    Volgens Beeld en Die Burger se bronne het Bosasa reeds aan die einde van 2004 geweet ’n kontrak vir toegangsbeheerstelsels gaan in die nuwe jaar deur die DKD geadverteer word.

    Maar die mees verdoemende bewys dat daar vooraf op ’n hoë vlak tussen die DKD en Bosasa gekonkel is, is ’n 28 bladsy-dokument in Beeld se besit met tegniese spesifikasies vir die tender.

    Beeld het ’n forensiese ondersoek op dié dokument laat doen en bevind dit is op 17 Desember 2004, byna twee maande vóórdat die DKD-tender amptelik geadverteer is, op ’n Bosasa-rekenaar geskep.

    Prof. Basie von Solms, hoof van die Universiteit van Johannesburg se akademie vir inligtingstegnologie, het op versoek die amptelike tenderdokument met die Bosasa-dokument vergelyk en bevind ongeveer 33% van die tegniese tenderspesifikasies kom “direk (woord vir woord) of baie naby verwant” uit die Bosasa-dokument.

    Die toekenning van dié en nóg miljoenrandtenders deur die DKD aan Bosasa-maatskappye was die afgelope ses maande in die nuus nadat Beeld Mti se verbintenis met Bosasa onthul het.

    Buiten sy jare lange verbintenis met Watson is die tronkhoof ook direkteur van ’n private maatskappy – Lianorah Investment Consultancy – wat deur mnr. Tony Perry, Bosasa se groepsekretaris, vir hom geregistreer is.

    Volgens die registrateur van maatskappye se rekords is Lianorah tans in die proses om gederegistreer te word.

    Die spesiale ondersoekeenheid (die Kobras) het onlangs met ’n ondersoek na die toekenning van die Bosasa- en ander tenders deur die DKD begin.

    Mti se bedanking as tronkhoof is verlede week deur die kabinet aanvaar. Volgens hom word hy veiligheidshoof van die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi.

    Mti het enige onbehoorlikhede tot dusver ten sterkste ontken.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |