Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Balfour en adjunk het SA straks oor Linda Mti mislei Het mnr. Ngconde Balfour en sy adjunk die land mislei oor ondersoeke na mnr. Linda Mti, voormalige nasionale kommissaris van tronke? Dié vraag word gevra nadat sowel die Staatsdienskommissie (SDK) as die spesiale ondersoekeenheid (SOE) laat blyk het dat hulle nog nie oor Mti se skuld besluit het nie. Daarenteen het Balfour, minister van korrektiewe dienste, op 2 Maart ’n verklaring uitgereik waarin gesê is Mti is deur albei dié liggame vrygeskeld. Ook me. Loretta Jacobus, Balfour se adjunk, het in Februarie tydens ’n inligtingsessie by die parlement gesê: “Daar is niks in die (SDK-)verslag gevind wat die kommissaris impliseer nie.” Die SDK- en SOE-ondersoeke het gekom nadat Beeld en sy susterkoerant Die Burger verlede jaar die verbintenis tussen Mti en die Bosasa-groep van maatskappye onthul het. Maatskappye in die Bosasa-groep het in twee jaar R1,87 miljard se tenders by die DKD ontvang. Mti het November verlede jaar bedank – agt maande voordat sy kontrak met die DKD sou verstryk het. Hy is daarna as veiligheidshoof van die plaaslike reëlingskomitee (LOC) van die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi aangestel. Die SDK ondersoek ’n moontlike konflik van belange en die SOE bekyk die proses met die toekenning van die Bosasa-tenders. Die verklaring van 2 Maart lui: “Hy (Balfour) het verder aangekondig dat die ondersoek deur (onderskeidelik) die Staatsdienskommissie en die spesiale ondersoekeenheid oor beweerde ongerymdhede met die Sondolo IT-tender vir die installasie van bio-metriese veiligheidstelsels in tronke, die voormalige kommissaris, Linda Mti, vrygeskeld het van enige konflik van belange, (of van) onetiese of misdadige gedrag.” Sondolo IT, ’n maatskappy in die Bosasa-groep, het die R237 miljoen-kontrak gekry om toegangsbeheerstelsels by 66 tronke landwyd te installeer. Volgens mnr. Humphrey Ramafoko, SDK-woordvoerder, het hulle nog net ’n voorlopige verslag aan Balfour voorgelê aangesien verdere ondersoekwerk deur die SOE nodig is. Die SDK wag vir ’n finale antwoord van die SOE voordat ’n finale verslag vir Balfour se aandag saamgestel sal word. “Die SDK het in hierdie stadium nog geen bevindings oor mnr. Mti gemaak nie,” het Ramafoko gesê. Volgens mnr. Faiek Davids, adjunkhoof van die SOE, het hulle “in geen stadium ’n formele of informele ondersoek geloods” na Mti nie. “Die SOE het wel na sekere DKD-tenders gekyk om te bepaal of die proses en toekenning daarvan reëlmatig was. Ons is steeds besig met hierdie proses. “In hierdie stadium is daar egter geen bewerings van spesifieke misdadige of onetiese gedrag wat ons teen enige spesifieke persoon, beampte of maatskappy ondersoek nie,” het Davids gesê. Beeld en Die Burger het einde verlede jaar onthul dat Bosasa groot dele van die toegangsbeheer-tenderdokument sélf geskryf het vóórdat dié tender amptelik geadverteer is. Mnr. Luphumzo Kebeni, Balfour se woordvoerder, het gister, nadat hy dit aanvanklik as “maklike vrae” bestempel het, nie op Beeld se navrae gereageer nie.
|
|
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|