Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Staat het geweet eNaTIS sou vou
Mnr. Jeff Radebe, minister van vervoer, en sy departement is reeds in Desember verlede jaar gewaarsku dat die eNaTIS-bedryfstelsel ’n “vernedering” vir Suid-Afrika sou wees as hy nie dringend ingryp nie. Maar selfs nadat die ouditeur-generaal (OG) ná ’n ondersoek sy skokkende bevindings oor eNaTIS aan dié departement oorhandig het, is daar téén sy advies voortgegaan om eNaTIS op een slag in te stel. Beeld is in besit van ’n afskrif van die OG se finale verslag wat in Februarie aan die departement oorhandig is. Die OG het reeds in Desember gewaarsku daar is ’n 80%-kans dat eNaTIS sou misluk as die stelsel op een slag ingestel word en die oorskakeling van die ou NaTIS-stelsel nie op ’n “presiese” wyse geskied nie. Nóg Radebe, nóg sy departement het ooit dié verslag beskikbaar gestel of daarna verwys en die inhoud daarvan is nou vir die eerste keer bekend. Suid-Afrika se voertuiglisensiëringstelsel is die afgelope maand op sy knieë gedwing sedert die eNaTIS-stelsel van R408 miljoen landwyd in werking gestel is. Die kontrak om ’n nuwe stelsel te ontwikkel wat dienslewering by lisensiekantore moes verbeter, is in Julie 2001 aan die Tasima-konsortium toegeken. Die motorbedryf het reeds miljoene rande se skade gely en gefrustreerde lede van die publiek het Dinsdag gedreig om die Langlaagte-lisensiekantoor in Johannesburg af te brand. Die OG se ondersoek, wat op versoek van die departement gedoen is, het altesame 24 aspekte van eNaTIS bekyk en bevind 19 daarvan is “hoë risiko”. Onder hulle tel: Koste: Die departement het reeds R117,6 miljoen (28,8% van die totale kontrak) oorbestee aan eNaTIS en daar is géén bewyse dat die tesourie dié oorbesteding goedgekeur het nie; Risiko: Géén lid van die departement se oudit- of risikobestuurspanne is na die eNaTIS-projek gesekondeer nie; Duur van projek: Daar is geensins by die tydlyn gehou nie en die projek is met 18 tot 20 maande vertraag. Dít het die belastingbetaler meer as R90 miljoen gekos aangesien die ou NaTIS-stelsel in hierdie tyd aan die gang gehou moes word; en Hulpbronne: ’n “Onvoldoende” aantal departementele werknemers is na die projek gesekondeer. Dít maak die departement afhanklik van Tasima. Geen vaardighede is dus na die departement oorgedra nie. Die OG is in die verslag skreiend in sy kritiek oor ’n gebrek aan veiligheid met die eNaTIS-stelsel en sê dit kom neer op ’n oortreding van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies. “Bedrieglike of misdadige aktiwiteite” kan ook op die stelsel gepleeg word sonder dat iemand dit vinnig besef. Ten tye van sy ondersoek kon die OG nie die eNaTIS-stelsel toets nie, maar hy het gewaarsku dat daar géén bewyse is dat ’n “Big Bang-aanslag” van instelling sou werk nie. Volgens hom het die departement reeds “substantiewe” bedrae geld en tyd aan dié projek bestee, maar het nog geen “realistiese of tasbare” waarde daarvan gekom nie. Die departement van vervoer het teen druktyd nie op Beeld se navrae gereageer nie. ccoetzee@beeld.com
|
|||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|