Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Verkeersboetes gou dieselfde
Alle motoriste sal eersdaags dieselfde verkeersboetes betaal, ongeag binne watter munisipale grense, landdrosdistrik of provinsie die oortreding begaan is. Volgens mnr. Thabo Tsholetsane, uitvoerende hoof van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), kan hy nog nie sê hoe die nuwe boetes gaan lyk nie. “Die nuwe voorstelle sal eers deur mnr. Jeff Radebe, minister van vervoer, en me. Brigitte Mabandla, minister van justisie, goedgekeur moet word, waarna dit vir openbare insette in die Staatskoerant gepubliseer sal word,” het Tsholetsane gesê. Hy het ook gesê talle klagtes is van die publiek ontvang omdat oortreders op verskillende plekke in die land verskillende boetes vir dieselfde oortredings opgelê word. Hy het gesê die rede hiervoor is dat die hooflanddros in elke distrik die boetes vir oortredings vasgestel het. Nie net verskil boetes van provinsie tot provinsie nie, maar ook tussen die verskillende landdrosdistrikte. Tsholetsane het gesê die wette is nie herskryf nie, maar daar is weer na elke oortreding (daar is meer as 3 000 binne die wet) gekyk en besin oor die regverdigheid van die boetes. Hoe ernstig die oortreding is, is ook in ag geneem. Die proses, wat meer as ’n jaar en ’n half gelede begin is, het onder meer konsultasie met landdroste en munisipaliteite ingesluit. Die nuwe standaardboetes sal nie in een provinsie begin en dan na ander uitbrei nie. Daar word beoog om die nuwe stelsel nasionaal toe te pas. Tsholetsane het gesê die publiek sal ten volle ingelig word oor presies wat die boete vir elke oortreding sal beloop. Boekies met die inligting sal ook onder motoriste versprei word. Die toepassing sal nie, soos aanvanklik beoog, in September kan plaasvind nie. Tsholetsane het gesê teen Augustus of September sal die wetgewing na verwagting op die ministers se tafels beland. Daarna sal dit in die Staatskoerant geplaas word vir openbare insette. Motoriste moet daarvan kennis neem dat boetes wat in ander provinsies en munisipale gebiede uitgeskryf word, binnekort wél enige plek in die land “opgetel” sal kan word. Tans kan ’n boete of lasbrief op jou naam net in die landdrosdistrik waar die oortreding begaan is, opgetel word. “Dit is een van die vernaamste redes vir die eNaTIS-stelsel. “As die stelsel optimaal funksioneer, sal elke munisipaliteit oortredings elektronies in ’n nasionale oortredingsregister plaas. “Verkeersdepartemente landwyd sal toegang hê tot dié register. Dit sal voor die einde van die jaar in werking wees,” het Tsholetsane gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|