Nuwe matriekfoto's
Baie nuwe matriek-foto's is gepubliseer. Gaan kyk daarna. Stuur jou foto vir die JIP/Glitz-kompetisie na jip@beeld.com.
Beeld
Praat met ons joernaliste!
Marga Ley vra of dieremense onhigiënies is, Alet Rademeyer skryf oor dissipline in skole, Ferdi Greyling sê vir wie jy moet stem...en die rugbystryd woed voort.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Slagoffers van die staat
Jun 11 2007 06:14:41:803PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Die onsuksesvolle tenderaar. Phoenix Cash & Carry in Pietermaritzburg wat op onregverdige gronde gediskwalifiseer is. Foto: Simphiwe Mbokazi
Verwante Berigte
  • Snotho is toe tenderaar Snothando Trading
  • Msimelelo Njwabane en Adriaan Basson het in KwaZulu-Natal die spoor van só 'n kontrak gevolg wat veronderstel was om kos op die armstes van die armes se borde te sit.

    Me. Thandiwe Xhakaza (52) se gevlekte oë sit diep in haar oogkaste.

    Haar gesig bly emosieloos toe ons haar hand skud.

    Xhakaza en haar familie is een van die 60 600 huishoudings in KwaZulu-Natal wat veronderstel was om baat te vind by die departement van maatskaplike ontwikkeling se nasionale noodvoedselskema (NFES).

    Maar weens ’n onregverdige tenderproses het die voordele van dié skema vir KwaZulu-Natal se armstes al in 2004 opgedroog nog voordat dit mooi kon begin.

    Nou verkoop Xhakaza groenmielies in Mandini, aan die KwaZulu-Natalse noordkus, om die pot vir haar en haar drie kinders aan die kook te hou.

    Die NFES is ’n onderafdeling van die regering se geïntegreerde voedselsekuriteit- en voedingstrategie (IFSNP) wat in Julie 2002 deur die kabinet aanvaar is (sien kassie hiernaas).

    Mnr. Zola Skweyiya, minister van maatskaplike ontwikkeling, het op 12 Januarie 2005 aangekondig dat 400 000 kospakkies onder 2 miljoen mense – “die armstes van die armes” – versprei sou word.

    Mnr. Vusi Madonsela, direkteur-generaal (DG) van maatskaplike ontwikkeling, het by dieselfde geleentheid gesê: “Enigeen wat uitgevang word dat hy hom- of haarself onbehoorlik verryk deur hierdie skema te bedrieg, sal hard en meedoënloos gestraf word.”

    Skaars ’n maand later, op 14 Februarie 2005, het Skweyiya se woordvoerder die volgende verklaring uitgereik: Tenders is reeds in ses van die nege provinsies aanvaar vir die verspreiding van kospakkies, maar in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap word “onetiese gedrag” met die aanvaarding van die tenders ondersoek.

    Phoenix Cash & Carry is ’n suksesvolle algemene handelaar in Pietermaritzburg waar eienaars van kleiner winkels en kafees hul voorraad koop.

    In Desember 2003 is Phoenix deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gekontrakteer om kospakkies in KwaZulu-Natal te verskaf.

    Aan die einde van 2004 het Phoenix se kontrak verval en het die departement mense in ’n advertensie genooi om ’n tender in te dien.

    Phoenix het ’n tender ingedien, maar was hierdie keer onsuksesvol.

    Die maatskappy het egter lont geruik toe hy hoor wie hét die kontrak gekry: vier firmas waaronder Snotho Trading, MDC Catering en die Pfula Mbokoto-konsortium – ondernemings waarvan Phoenix se eienaars nog nóóit gehoor het nie.

    Toe Phoenix uitvind die tender is aanvaar teen R82,10 meer per kospakkie (bykans R15 miljoen meer oor drie maande) as waarvoor hy getender het, het die eienaars by die Pietermaritzburgse hooggeregshof aansoek gedoen om ’n bevel wat die aanvaarding daarvan nietig verklaar.

    Eers is ’n tussentydse bevel toegestaan.

    Tydens ’n latere verhoor het waarnemende regter G. Morley beslis Phoenix is weens onregverdige kriteria gediskwalifiseer en die kontrak moet van voor af geadverteer word.

    In ’n beëdigde verklaring voor die hof het Madonsela Phoenix se diskwalifikasie verdedig.

    Dié firma het net ’n brief van die bank, en nie geouditeerde bankstate nie, as deel van sy tender ingedien om te bewys hy is solvent.

    Dít, volgens die departement, het gelei tot Phoenix se diskwalifikasie “omdat hulle geen finansiële hulpbronne het nie”.

    Skweyiya, Snotho, MDC en Pfula Mbokoto het suksesvol aansoek gedoen om verlof tot appèl teen Morley se beslissing en op 5 Maart vanjaar in Bloemfontein betoog.

    Dit was nie ’n maklike verhoor vir die appellante se advokate nie. Hulle is onder meer geroskam omdat die name van Snotho en Pfula se direkteure en dié “ondernemings” se adresse nie aan die hof verskaf kon word nie.

    Regter John Heher, namens ’n volbank appèlregters, het sy uitspraak as volg begin: “Die aanvaarding van staatstenders is, soos almal weet, onderworpe aan invloed en manipulasie.”

    Verskeie hoëprofiel sake, wat Heher se punt bewys, was die afgelope paar jaar in die nuus.

    Dink maar aan die wapentransaksie en Oilgate. Dan was daar ook onlangs die Sondolo IT-skandaal waar die departement van korrektiewe dienste ’n tender van R237 miljoen aanvaar het van ’n maatskappy wat inspraak gehad het in die skryf van die oorspronklike tenderdokumente.

    In die groter prentjie is die Phoenix-saak waarskynlik kleingeld.

    Maar die Heher-beginsel geld steeds: “Invloed en manipulasie.”

    Hoe anders verklaar jy die departement se besluit om ’n kontrak toe te ken aan firmas wie se pryse R82,10 per kospakkie hoër was as Phoenix s’n? Wat Snotho, MDC en Pfula teen R269,10 aan die land se armstes wou verskaf, kon Phoenix teen R187 doen.

    Dit was in die openbare belang vir die departement om na die goedkoopste opsie te soek, het Heher en sy kollegas bevind.

    Die departement kón nie vir Phoenix op ’n tegniese punt gediskwalifiseer het nie, het die hof bevind.

    Die besluit van die Pietermaritzburgse hooggeregshof om die toekenning van die tender te kanselleer, was dus korrek.

    Mandini is ’n klein industriële dorpie wat aan die gang gehou word deur suikerrietplantasies en ’n Sappi-papierfabriek.

    In die dorp se “ryk” woonbuurte het mense ’n teëldak oor hul koppe en ry kinders op trapfietsies in die strate rond.

    Dan is daar Amanda Farm waar die dorp se héél armes woon met ’n uitsig op die papierfabriek.

    Dit is hier waar Xhakaza en haar kinders bly.

    Hulle weet niks van die burokratiese rompslomp wat die meel, suiker en sout van hul tafels weghou nie.

    Xhakaza is ook nie seker dat die kos by die régte behoeftiges sou uitkom nie.

    “Ons is aangesê om sulke vuil vorms in te vul om aan te hou kos kry. Maar dit het nie gebeur nie. Mens hoor net gerugte dat sekere mense die kos ontvang het.”

    Óok vir die Gumedes sou die staat se kospakkies broodnodige verligting bring. Mnr. Manjobeni Gumede (57) en sy vrou, Nkosindiphile (43), is werkloos. Hy sit voor sy huis op ’n houtbankie en tuur oor die vlaktes terwyl klein kinders rondom hom speel.

    “Ons het geregistreer vir die kos, maar geen kos ontvang nie.”

    Die Gumedes oorleef op geld wat een van hul kinders, wat in Gauteng werk, maandeliks huis toe stuur.

    “Ons het gehoor die mense praat oor kos, maar ek weet van niemand wat dit kry nie,” sê mnr. Gumede.

    Hulle oorleef op maaltye van pap en – op ’n goeie dag – iets daarmee saam soos pampoen of ’n klein stukkie vleis.

    Mnr. Sakhile Mazibuko (34) weet nie hoe hy elke dag iets in sy maag sou kry as dit nie vir sy eie groentetuin was nie.

    Mazibuko bly in Emantungweni – ’n paar kilometer buite Mandini. Hy is die afgelope tien jaar werkloos en lyk baie ouer as wat hy is.

    Agter sy huis is ’n netjiese groentetuin waar Mazibuko papajas, mielies en aartappels plant.

    “Ek het gedog dit is weens politieke kwessies dat ek nie kospakkies kry nie,” sê hy.

    Ook elders in die dorp fluister mense hoe kos in die verlede al gebruik is as lokaas na die stembus.

    “Dit is ’n skande dat die regering eet, maar ons nie,” sê Mazibuko.

    Vandag onthul Beeld nóg foute met dié tender. “Snotho” was toe nooit Snotho nie, maar Snothando Trading – ’n beslote korporasie van me. Phumzile Ndlovu.

    Snothando is reeds in 2003 geregistreer en sou kospakkies in Zoeloeland versprei het.

    Daar is ook verneem dat die Skerpioene die aanvaardingsproses ondersoek, maar niemand wou praat oor die stand daarvan nie.

    Die departement se antwoorde op ál Beeld se navrae was kripties en onvolledig: níks oor Snothando nie, níks oor die Skerpioene nie.

    En oor die mense van KwaZulu-Natal wat nou honger ly? Ja, die departement het niks gedoen om te verseker dat kos afgelewer word nie.

    Skweyiya het die provinsie aanbeveel om met ’n nuwe tenderproses te begin. Ons moet KwaZulu-Natal self gaan vra.

    Dít moes hulle kry

    ’n Kospakkie bestaan uit:

  • 12,5 kg meel

  • 10 kg rys

  • 5 kg bone

  • 5 kg suiker

  • 2,5 kg stampmielies

  • 1 kg melkpoeier

  • 1 kg sout

  • 800 g sop

  • 810 g grondboontjiebotter

  • 2 liter sonneblomolie

  • 100 teesakkies

  • 1 kg wasseep

  • 500 g badseep

    Só moes dit werk

    Luidens ’n beleidsdokument van die departement van maatskaplike ontwikkeling was die doel van die nasionale noodvoedselskema (NFES) drieledig:

  • Onmiddellike verligting deur die verskaffing van kospakkies vir ’n tydperk van drie maande (een kospakkie per maand);

  • Beter interaksie met regerings­departemente soos landbou wat saad, gereedskap en ander hulpbronne aan werkloses kan verskaf om hul eie boerderye te begin;

  • Die ontwikkeling van hierdie projekte totdat dit uiteindelik in die staatsdiens deur die uitgebreide openbare werke-program opgeneem kan word.

    Dit moet dan werk in die gemeenskap skep en ook ’n veiligheidsnet wees wat sorg dat die armstes minstens een voedsame maaltyd per dag kry.

    Die gedagte agter die drie stappe is dus: gee ’n man ’n vis, leer hom om vis te vang en sorg dat daar ’n boot is waarop hy kan werk.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |