Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Beeld
Video: Operasie vir 'n glimlag
Brenda (13) is een van sowat 40 minderbevoorregte kinders wat gratis by die Johannesburg-hospitaal geopereer is.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Die ánder geveg in Polokwane
Dec 10 2007 07:01:17:397PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Dis nie net die identiteit van die ANC se volgende leier wat van Sondag af by die party se nasionale konferensie onthul gaan word nie. Pieter du Toit doen verslag oor van die ander vername kwessies op die tafel.

’N Jaar van beplanning, bakleiery, koppestamp en paaiery word van Sondag af op die spits gedryf wanneer meer as 4 000 ANC-afgevaardigdes van regoor Suid-Afrika by Polokwane (Pietersburg) bymekaarkom om die party (en die regering) se beleid te evalueer en aan te pas.

Hoewel die stryd om die leierskap van die ANC politieke opskrifte in koerante vanjaar oorheers het, is die verwagting dat verreikende besluite oor veral die ekonomie en maatskaplike hervorming geneem sal word.

Dit volg op ’n jaar van intensiewe bespreking en koukus deur lede van die party op tak-, provinsiale en nasionale vlak. Dié proses het in Februarie begin met die verspreiding van besprekingsdokumente wat die party se verskillende beleidsrigtings uiteengesit het. Ná bespreking deur takke is dit op die ANC se beleidskonferensie in Junie in Johannesburg oorweeg en is die aanbevelings wat daar gemaak is, in hersiene besprekingsdokumente vervat en verder bespreek.

Dié aanbevelings sal van Sondag af die grondslag vir besprekings op die Polokwane-konferensie vorm.

Die ANC het jaarliks sedert sy stigting in 1912 tot en met sy verbanning in 1960 nasionale konferensies gehou. Die laaste konferensie voor 1960 was die 47ste in 1959. Hoewel geen amptelike nasionale konferensies tussen 1960 en die ontbanning van die ANC in 1990 gehou is nie, is twee rigtinggewende konferensies in Tanzanië (1969) en Zambië (1985) gehou.

Durban (1991) was die gasheer vir die eerste konferensie nadat die organisasie ontban is en is driejaarliks gevolg deur Bloemfontein (1994) en Mafikeng (1997), waar pres, Thabo Mbeki die troon bestyg het. Konferensies word sedertdien vyfjaarliks gehou, met Stellenbosch (2002) die eerste in dié siklus.

Stemgeregtigdes word afgevaardig uit die takke (altesame 3 675 ANC-lede) terwyl 400 afgevaardigdes bestaande uit die nasionale uitvoerende komitee (NUK, die hoogste gesagsliggaam tussen konferensies), die vroue- en jeugligas en provinsiale uitvoerende rade die totaal van stemgeregtigdes op 4 075 te staan bring.

Daar sal meer as 600 afgevaardigdes sonder stemreg maar met waarnemerstatus wees, insluitend struggle-veterane, adjunkministers, voormalige NUK-lede asook alliansievennote.

Groter gaping tussen ryk en arm onder loep

Maatskaplike hervorming in die vorm van werkskepping en armoedeverligting is die hoekstene van ANC-beleid. Dié doelstelling kan egter slegs bereik word met die transformasie van die land se ekonomie en, volgens die ANC, die bekragtiging van die party se Vryheidsmanifes wat verklaar dat die eienaarskap van minerale, banke en nywerhede aan “die mense” oorgedra moet word.

Toenemende woede met die stadige pas van ekonomiese hervorming is die vernaamste rede vir die ontnugtering met pres. Thabo Mbeki se bewind.

Suid-Afrika se makro-ekonomiese beleid, wat allerweë as Mbeki se breinkind gesien word, het die land op ’n stabiele pad geplaas en die fondament vir ’n stewige en groeiende ekonomie geskep. Dit het ongelukkig ook tot ’n groter gaping tussen armes en rykes en, volgens prof. Adam Habib van die Universiteit van Johannesburg, tot die verdubbeling van werkloosheid sedert 2000 gelei.

Die invloed van die linkervleuel van die party en sy alliansievennote, Cosatu en die SAKP, sal sterk deurkom in al die besluite wat by Polokwane geneem word.

Volgens prof. Ben Turok, veteraan ANC-LP en stryder vir die regte van armes, is daar “geen twyfel nie dat die ANC se besluite ten gunste van armes sal wees”.

Die toekoms van staatsbeheerde ondernemings en die mate waarin die regering by die regulering van sake betrokke moet raak, sal druk bespreek word. Só sien die ANC die ekonomie as gemeng waar die regering, private kapitaal, koöperasies en ander vorms van “maatskaplike eienaarskap” mekaar aanvul om armoede te verminder en groei te bewerkstellig.

Hoewel sulke stellings, wat in die besprekingsdokumente vervat is, nie nuut is nie en by elke kongres sedert 1992 bespreek word, word daar nou reguit gesê die veranderings wat die ANC wil sien, gaan nie spontaan en danksy die mark se “onsigbare hand” verwesenlik word nie: “ . . . die staat moet in hierdie proses ’n sentrale en strategiese rol speel deur direk in onderontwikkelde areas te belê en beleggings deur die private sektor te rig”.

Hoewel apartheid se “skeefgetrekte patrone van eienaarskap en produksie” nie outomaties vanweë ekonomiese groei gaan verdwyn nie en die regering “in belang van die mense” moet inmeng, benodig werkskepping volgens die dokumente vinniger groei en gevolglik gesonde ekonomiese bestuur.

Die beleidskongres het egter geen twyfel gelaat dat die Suid-Afrikaanse ontwikkelingstaat in plaaslike “realiteite”, waar regverdige en gelyke ekonomiese groei geskied, gegrond moet wees nie.

Staatsbeheerde firma vir medisyne oorweeg

Die ANC het in Junie vanjaar lank gedebatteer oor die moontlikheid dat welsyntoelaes uitgebrei moet word sodat dit ’n “veiligheidsnet” vir die mees weerloses in die samelewing kan bied.

Hoewel dit nie by name genoem is nie en die party teen toenemende afhanklikheid van welsyntoelaes waarsku, het ’n groot deel van die debat gehandel oor die instel van ’n basiese inkomstetoelae (iets waarteen die minister van finansies sterk gekant is).

Daar sal by die nasionale konferensie aanbeveel word dat die uitbrei van welsyntoelaes aan een of ander vorm van ekonomiese aktiwiteit gekoppel word ten einde afhanklikheid daarvan teen te werk.

Eenstemmigheid is egter oor die uitbreiding van die kindertoelae van die ouderdom van 14 jaar tot 18 jaar bereik. ’n Beroep sal ook op die regering gedoen word om die ouderdom waarop mense vir ’n staatspensioen in aanmerking kom, op 60 jaar vas te pen.

Tans is die perk vir ’n man eers op 65 jaar.

Die ANC stippel dit in sy besprekingsdokumente uit dat die party besig is om ’n ontwikkelingstaat waarin staatsinmenging ’n rol speel – en nié ’n welsynstaat nie, wat afhanklikheid kweek – te skep waarin opvoeding en gesondheid ’n sentrale rol speel.

Die Vryheidsmanifes, die basisdokument waarop beleid gegrond word, sal weer deur die konferensie bevestig word en sal veral in die bespreking oor opvoeding beslag vind. Die ANC sal oor ’n resolusie moet besluit wat vra dat gratis skole vermeeder word of dat alle skoolopleiding gratis moet wees.

Uitsprake tydens dr. Manto Tshabalala-Msimang, gesondheidsminister, se begrotingstoespraak vroeër vanjaar sal by Polokwane herhaal word: “Die regering moet inmeng in die hoë koste van gesondheidsorg en (medisyne-) pryse,” lui die besprekingsdokument oor maatskaplike hervorming.

Die party sal ook die moontlikheid van ’n staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy oorweeg wat “kan ingryp in die beheer van medisynepryse”.

Die landbousektor kan ook moontlik ’n opskudding verwag met die voorstel dat die markgedrewe beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper “onmiddellik” hersien word ten einde die gelyke verdeling van grond te verseker.

ANC-lede was tydens die beleidskongres uitgesproke oor die stadige pas van grondhervorming en daar is ooreengekom verdere staatsinmenging is nodig om die proses af te handel.

Ander belangrike resolusies wat by die nasionale konferensie bespreek gaan word, sluit in:

  • Een sportembleem vir alle nasionale sportspanne; en

  • Die skep van ’n ministerie vir vrouesake.

    Beter finansiering vir polisieforums bekyk

    Ondanks pres. Thabo Mbeki se mening dat mense se negatiewe siening van die misdaadsituasie in die land oordrewe is, bly misdaadbekamping volgens die ANC “in die belang van die nasionale demokratiese revolusie”.

    Die party het op sy beleidskongres besluit daar moet aan die grondwetlike vereiste van ’n enkele polisiediens voldoen word en daar sal aan die nasionale konferensie by Polokwane aanbeveel word dat alle metro- en munisipale misdaadbestrydingsliggame én die Skerpioene binne die SAPD gehuisves word.

    Dít moet so gou moontlik en met inbegrip van die noodsaaklike wetgewing afgehandel word.

    Dié maatreël sal ’n einde maak aan die twis oor onder wie die Skerpioene moet val nadat die Khampepe-kommissie bevind het die Skerpioene, as die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) se ondersoekarm, moet verslag doen aan mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, en dat die wetstoepassingsarm van die NV aan die minister van justisie moet rapporteer.

    ’n Sterk fokus moet op gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) geplaas en maniere sal gevind moet word om dit te finansier en beter te bestuur. Die ANC sal luidens die besprekingsdokument poog om selfs op die vlak van partytakke veiligheidskantore te stig om met die bestuur van GPF’s te help.

    Die party se alliansievennote het tot dusver nog nie aktief aan misdaadbestrydingspogings deelgeneem nie en die nasionale konferensie sal aanbeveel dat hulle betrek word by pogings wat aan ’n morele herlewingspogings gekoppel is.

    Transformasie van die regbank het vordering gemaak “maar meer moet gedoen word”, lui die besprekingsdokument. Verdere stappe sluit in ’n enkele, geïntegreerde regstelsel met ’n klem op plaaslike howe met meer hulpbronne.

    Ook bestaan daar ’n behoefte aan die vestiging van hooggeregshowe in al nege provinsies en die werwing en opleiding van swart regsgeleerdes.

    Die ANC beskou die beheer en regulering van immigrasie as ’n belangrike skakel in misdaadbekamping en steun die hersiening van die Wet op Immigrasie om vir strenger immigrasievoorwaardes voorsiening te maak.

    Planne beraam teen die ‘vyandige’ media

    Die ANC is oortuig hy word deur ’n ideologiese aanslag in die gesig gestaar wat grootliks deur elemente in die media aangevoer word.

    In’t kort word die media as ’n aktiewe teenstander van die breë mikpunte van die ANC beskou.

    Die publisering vroeër vanjaar van dr. Manto Tshabalala-Msimang, minister van gesondheid, se mediese rekords in die Sunday Times het ’n groot beroering in die party veroorsaak.

    Volgens die party is hy steeds verbind tot ’n vrye media, maar sal die reg op vryheid van spraak opgeweeg moet word teen regte soos privaatheid en waardigheid.

    Die party sal besin oor die wenslikheid van ’n “mediatribunaal” op grond van die huidige meganismes van selfregulasie wat in die bedryf bestaan.

    Maatreëls wat kan omsien na die “herstel van die regte van alle Suid-Afrikaners” sal ook onder bespreking kom.

    Dit is duidelik die party beskou byna elke mediamaatskappy in ’n vyandige lig en word daar onder die opskrif “The battle of ideas” in die besprekingsdokument geargumenteer dat ’n sleutelmikpunt van die “media-offensief” teen die ANC die behoud van die apartheid- status quo wat betref die ekonomie en maatskaplilke konvensies is.

    Ook word die gebrek aan vaardighede in die mediabedryf om die komplekse maatskaplilke transformasieproses waarin die land gewikkel is, betreur. Hoewel ’n aantal mediamaatskappye swartbemagtigingstransaksies beklink het, “het dit nie gelei tot ’n verskeidenheid standpunte nie”.

    As die party sy beleidsrigtings en idees doeltreffend aan die publiek wil oordra, sal hy luidens die besprekingsdokument die omvang en aard van die stryd moet identifiseer.

    Dit sal die party se denkwyses oor die ontwikkelingstaat, kollektiewe regte, geslagsgelykheid en gemeenskaplikheid teenoor díe waardes wat deur die media aangehang word (neo-liberalisme, ’n swak en passiewe staat, oorbeklemtoning van individuele regte en markfundamentalisme) bring.

    Om die media se aanslag teen te werk, word onder meer voorgestel:

  • Die aanmoedig van ’n meer verteenwoordigende en diverse mediabedryf asook die skep van “progressiewe” mediamaatskappye;

  • Die vestig van ’n eie (ANC-) mediaplatform en die versterking van regeringskommunikasie; en

  • Die gebruik van regeringsadvertensies om gemeenskapsmedia te steun.

    Die SAUK word as ’n strategiese vennoot gesien om die beginsels van nasiebou, maatskaplike binding en die Grondwet te bevorder. ’n Aanbeveling dat regeringsfinansiering van die SAUK “beduidend” uitgebrei gaan word, sal ook bespreek word.

    Die media moet ook gedruk word om die bou van ’n nasionale konsensus wat betref waardes “getrou aan die nuwe demokratiese orde” te ondersteun.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |