Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
||||||||||||||||||||||
|
Een kan nie die koers verander
Die uitvoerende hoof van Suid-Afrika (Edms.) Bpk. moet goeie oordeel hê, onkreukbaar in sy beginsels wees en bo faksiegevegte kan uitstyg. Suid-Afrika verdien beter as om met Zuma en Mbeki as keuses opgeskeep te sit, skryf Pieter du Toit in die aanloop tot die ANC-kongres by Polokwane. Die vuil en agterbakse straatgeveg waarin die stryd om die ANC-presidentskap ontaard het, sal genadiglik volgende week iets van die verlede wees. Die ANC se nuwe touleier sal Donderdag net ná 09:00 die verhoog in ’n warm, stowwerige en muwwe markiestent in Mankweng buite Polokwane (Pietersburg) bestyg en verklaar dat die tyd vir genesing aangebreek het, dat die party nog nooit vantevore só verenig was nie en dat die ANC die land nog gaan regeer “totdat Jesus terugkom”, om die oënskynlik aangewese president aan te haal. Dit sal egter nie waar wees nie: Verskille tussen die strydende faksies gaan skerper wees, spoke gaan met die nuwe orde opgejaag word oor werksekuriteit en vrae gaan oor die land se koers gevra word. Presies ’n jaar gelede was die opvolgstryd ’n kwessie, ja, maar niemand het régtig gedink mnr. Jacob Zuma, adjunkpresident van die ANC, het ’n kans om die pos as partyleier oor te neem nie. Hy is afgedank as adjunkpresident van die republiek, sy finansiële adviseur is aan bedrog en korrupsie skuldig bevind, met dieselfde wolk wat ’n skadu oor hóm gooi, en sy persoonlike lewe is in ’n smerige verkragtingsaak aan die wêreld voorgehou. ’n Jaar later sal 4 075 ANC-lede ’n besluit neem wat verreikende gevolge vir elke Suid-Afrikaner, nie net ANC-lede nie, sal inhou. Die beskikbare opsies is beroerd en Suid-Afrika verdien beter as om te moet kies tussen ’n president wat toenemend tekens wys van iemand wat nie van sy mag wil afstand doen nie, en een waaroor niemand heeltemal seker is nie. Pres. Thabo Mbeki was ná 1994 ongetwyfeld die regte man op die regte tyd. ’n Skerp taktikus wat die land se ylende ekonomie help regruk het tot een van die aantreklikste beleggingsbestemmings in die ontwikkelende wêreld; wat Suid-Afrika op die internasionale verhoog laat geld en die Afrika-agenda deel van diplomate se omgangstaal gemaak het. Dit is egter hierdie sukses en die vrees wat hy volgens Mark Gevisser, sy biograaf, het dat sy werk nog nie afgehandel is nie, wat hom laat vasklou aan die hefbome van mag. Sy poging om Suid-Afrika se toekoms van ’n afstand af te help karteer, is wettig, maar nie bo verdenking nie: Word verkies tot ANC-president en stel ’n surrogaat-staatshoof in die Uniegebou aan terwyl landsbesluite vanuit Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad geneem word. Só kan hy verseker dat sy droom vir Suid-Afrika steeds volbring word en die heilige vrees wat hy vir ’n Zuma-presidensie het, nie waar word nie. Die werklikheid is heeltemal anders: Mbeki was só oortuig van sy sege, só oortuig dat die land op die regte pad is, dat hy heeltemal uit voeling geraak het met wat op grondvlak aangaan. In die proses het hy soveel vyande gemaak dat Zuma die versamelpunt van ontnugterdes geword het – nie noodwendig mense wat meen hy is die beste man vir die pos nie, maar dat hy moontlik die beste voertuig is om van die Chief, soos Mbeki in sy binnekring bekend staan, ontslae te raak. Die skuld vir hierdie toedrag van sake moet voor die deur van Mbeki, die ANC en sy leierskap gelê word. Mbeki moes reeds twee jaar gelede gesien het die gety is besig om te draai. Op ’n vergadering van die ANC se algemene raad in 2005, kort nadat Zuma deur Mbeki as sy adjunk in die kabinet in die pad gesteek is, was daar al openlike verset teen sy hantering van die Zuma-kwessie. Waarom het Mbeki nie toe reeds ’n opvolger, wat ook die brommerige linkses tevrede sou stel, geïdentifiseer en mee begin werk nie? Mbeki is, in effek, reeds sedert 1994 aan die bewind. Die ANC moes sekerlik ’n behoorlike opvolgplan gehad het om presies dié situasie waarin ons tans is, te vermy? Wanneer die geskiedenis van die ANC in oënskou geneem word en die leierskapsvermoëns en oordeel van gevierde leiers soos Sol Plaatje, Albert Luthuli, Walter Sisulu, Oliver Tambo en Nelson Mandela (hoewel hulle nie sonder hul gebreke was nie) in ag geneem word, is dit skreiend dat Suid-Afrika met slegs Mbeki en Zuma as opsies opgeskeep sit. Indien Mbeki die nou byna onvermydelike nederlaag met grasie aanvaar, is dit heel moontlik dat hy sy plek in die panteon van ANC-leiers kan neem. Dit is tans egter moeilik om dieselfde van sy waarskynlike opvolger te sê. Die ANC is ’n groot organisasie met ’n rykdom van leiers, en tog het iemand soos Cyril Ramaphosa, wat wyd en oor partygrense heen respek geniet, verkies om nie ’n koers- en beginselvaste poging aan te wend nie. Dit is Suid-Afrika se verlies. Toenemend word geredeneer dat ’n Zuma-presidensie “nie so erg” sal wees nie. Benewens die blote feit dat dít die trant van die diskoers is, is dit ontnugterend om tot die besef te kom dat iemand met bedenklike morele standaarde, en ’n selfs bedenkliker dampkring, bó iemand met Mbeki se vertoningslys verkies word. Dit is egter ’n feit dat die Mbeki-ampstermyn die afgelope jaar ontrafel het in een wat gekenmerk is deur bedrog en korrupsie, bevoordeling en begunstiging. Die steeds duistere wapen-skandaal, reisbedrog in die parlement, ministers wat met die vingers in die kasregister gevang word, en byna weeklikse onthullings van korrupsie op plaaslike regeringsvlak, word aangevul deur die regering se MIV/vigs-strategie en Zimbabwiese beleid. Kan dinge werklik erger onder Zuma? Sommige kenners, onder meer die Suid-Afrikaner prof. Tom Lodge, wat van die Universiteit van Limerick ’n buitelandse perspektief gee, meen die land onder Zuma sal nie noodwendig ’n ramp wees nie. Dit is duidelik hy het ’n slag met mense; hy is deeglik bewus van die daaglikse stryd van die man op straat; en dra tog die beste belang van Suid-Afrika op sy hart. Daar is volgens Lodge egter twee bekommernis-se: sy gebrek aan visie en sy naïwiteit. “Zuma het nog in geen stadium enige sterk beleidsverklarings gemaak nie. Ons weet dus nie wat sy planne met die ekonomie is of wat hy daaroor dink nie. “Sy populistiese uitsprake is ook ’n bron van kommer omdat die blote aard van populisme hom daartoe leen om iets onbesonne kwyt te raak. Sy taalgebruik spreek ongelukkig van sy naïwiteit en klaarblyklike eenvoudigheid,” sê Lodge. Dit ís sekerlik bekommernisse en hoewel die faktore rigtingwysers op die pad na antwoorde oor Zuma kan wees, is dit nie bepalend nie. ’n President, as uitvoerende hoof van Suid-Afrika (Edms.) Bpk., moet goeie oordeel hê, onkreukbaar in sy beginsels wees, bo faksiegevegte kan uitstyg en ’n behendige bestuurder van mense en kwessies wees. Zuma het in die vryheidstryd ’n bewese rekord as hoof van die ANC se intelligensiedienste gehad, het ’n sleutelrol in die geweldgeteisterde KwaZulu-Natal in die 1990’s gespeel en was instrumenteel in die Burundi-vredesproses toe hy as adjunkpresident gedien het. Of hierdie ervaring egter genoeg gaan wees om ’n unieke en ingewikkelde ontwikkelende land soos Suid-Afrika in die 21ste eeu te lei, is ’n ope vraag. Die aard van sy verhouding met die bedrieër Schabir Shaik, waar Shaik hom finansieel ondersteun het sodat sy uitgebreide lewenstyl gehandhaaf kan word, is beslis onrusbarend. Zuma se probleme het al begin toe hy die KwaZulu-Natalse LUR vir ekonomiese sake en toerisme was en ’n regsmening in ’n koerant gepubliseer is waarin Standard Bank gemaan word om op sy huis beslag te lê omdat paaiemente daarop nie betaal is nie. In dieselfde jaar het ’n Durbanse spogskool boonop gedreig om hom hof toe te sleep omdat sy kinders se skoolgeld nie betaal is nie. Zuma, wat sover bekend in ’n stadium minstens drie vroue en 18 kinders gehad het, se teenstanders sê sy gebrek aan formele opleiding is reeds genoeg om hom vir die amp van president te diskwalifiseer. Sy ondersteuners hou vol Zuma is nog nie met betrekking tot Shaik-verwante bedrogkwessies aangekla nie en derhalwe is hy vlekkeloos en heeltemal geskik vir die hoogste amp in die land. Dit is egter die invloede wat op Zuma inwerk wat bepalend vir die land se toekoms gaan wees. Gesien teen die agtergrond van die onthullings in die Shaik-saak (dat Shaik op ’n korrupte manier geld aan Zuma betaal het met die doel om hom te beïnvloed) is dit kommerwekkend dat die ANC in Polokwane kan besluit om ’n leier aan te wys wat sy mantel na die wind draai. Kortom: wie skuld Zuma almal – en hoeveel skuld hy hulle? Die ANC het sy bestaan aan onderdrukking en die opheffing van onderdruktes te danke. Die party moes sedert 1994 ’n fyn balans tussen ontwikkeling en die skep van ekonomiese welvaart handhaaf. In dié tyd het die ekonomie van krag tot krag gegaan. Rykes het ryker geword, maar ongelukkig het armes armer geword. Toenemende druk vanuit die vakbonde en die SAKP, die ANC se alliansievennote, om die koers van die ekonomie aan te pas en Zuma se bereidwilligheid om hul griewe aan boord te neem, het hom gevestig as die gunsteling vir die leiersverkiesing oormôre. Vrese oor ’n skerp ekonomiese beleidsverandering, groter staatsinmenging in die ekonomie en ’n sosialistiese aanslag is oor die laaste maande in gesprekke met ANC-lede besweer: “Die ANC is ’n groot skip,” is gesê. “Een man kan nie alleen die koers verander nie.” Dit is sekerlik waar. Dit is egter ook ’n feit dat die Suid-Afrikaanse wittebrood verby is. Die gaping tussen arm en ryk is te groot en die vernaamste agent vir verandering, die ANC, besef dit. Mbeki besef dit ook. Sy manier van doen verskil net hemelsbreed van Zuma s’n. Die behoeftes van die arm vertraptes sal ná Polokwane voorop gestel word – en Zuma sal na alle waarskynlikheid die man wees om dit tot uitvoer te bring. Niemand kan die ANC se proses-se bevraagteken nie. Kandidate is demokraties en ingevolge die party se grondwet benoem, afgevaardigdes is aangewys en strukture is gereed. Wetenskaplikes en filosowe het in die 19de en 20ste eeu verwys na die “tirannie van die meerderheid”. Suid-Afrikaners sal van aanstaande week tussen die duiwel en die diep blou see wees.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|